Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Goedkoop data’ knou Vodacom se inkomste
Vodacom se naam pryk boaan die Ponte-toring in Johannesburg. Foto: Getty Images

Waar MTN tans intekenare in Suid-Afrika verloor, kon Vodacom in die ses maande tot einde September darem nog daarin slaag om sy kliëntebasis uit te brei.

Dié diensverskaffer, verreweg Suid-Afrika se grootste, het Maandag sy tussentydse resultate uitgereik. Daarvolgens het hy 691 000 intekenare bygekry sedert einde Maart vanjaar, maar sy totale getal intekenare is steeds laer as ’n jaar gelede.

Meer as 200 000 intekenare het tussen einde September 2018 en einde September 2019 na ander netwerke oorgeskuif. Vodacom het nou 43,9 miljoen intekenare in Suid-Afrika, teenoor meer as 44 miljoen ’n jaar gelede.

MTN het in die ooreenstemmende tydperk meer as 2,2 miljoen intekenare verloor vir ’n totaal van 28,9 miljoen in Suid-Afrika.

LEES OOK: MTN verloor intekenare, Cell C betaal skuld

In syfers
  • Totale inkomste: R44,4 miljard
  • Bedryfswins: R12,9 miljard
  • Kernverdienste per aandeel: R4,60
  • Tussentydse dividend: R3,80
  • Spesiale dividend: R0,60
  • Getal intekenare in Suid-Afrika: 43,9 miljoen

‘Goedkoper data’ knou inkomste

Hoewel hy net minder as ’n halfmiljoen nuwe vooruitbetaalde intekenare gewerf het, is sy inkomste uit vooruitbetaalde dienste 2,1% laer, sê Vodacom.

Die grootste rede hiervoor is ’n daling van 60% in sy inkomste uit buitebondeldata.

Nuwe regulasies, wat sedert Maart geld, bepaal dat diensverskaffers nie meer buitebondeltariewe vir data mag vra sonder gebruikers se toestemming nie. Buitebondeldata is heelwat duurder per megagreep as data wat as deel van ’n bondel aangeskaf word.

Vodacom-gebruikers het in die tydperk onder hersiening 472 miljoen databondels aangeskaf en die verkeer op sy netwerk het met ’n verstommende 55% toegeneem.

Altesame 43 000 huishoudings is ook nou aan Vodacom se veselnetwerk verbind, 121% meer as ’n jaar gelede.

Hy het ook R4,8 miljard in die ses maande onder hersiening daaraan bestee om sy netwerkinfrastruktuur te verbeter. Volgens die diensverskaffer is die geld gebruik om sy netwerk te “moderniseer” en ook vir die uitbreiding van sy veselnetwerk.

Vodacom se inkomste in Suid-Afrika beloop R33,9 miljard vir ’n totaal van R44,4 miljard, ander streke ingesluit. Dit is bykans 4% hoër as ’n jaar gelede. Sy bedryfswins beloop R12,9 miljard, terwyl die netto wins R8,2 miljard is.

’n Tussentydse dividend van R3,80 is verklaar tesame met ’n spesiale dividend van R0,60. Albei die dividende word op 2 Desember aan aandeelhouers uitgekeer en is aan ’n terughoubelasting van 20% onderhewig.

Vodacom se aandeelprys het Maandag kort ná die bekendstelling van sy tussentydse syfers met meer as 3% tot R131 gedaal.

Meer oor:  Vodacom  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie  |  Selfoonnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.