Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Google, Amazon en kie maak saam $28,6 mjd. se wins
Amazon is een van die wêreld se grootste tegnologiemaatskappy. Foto: Reuters

Terwyl die wêreldekonomie taan en maatskappye groot getalle werknemers aflê, gaan die grootste tegnologiemaatskappye van krag tot krag.

Amazon, Apple, Alphabet (moedermaatskappy van Google) en Facebook het in die tweede kwartaal – dus tydens die piek van die koronaviruspandemie wêreldwyd – ’n gesamentlike wins van nagenoeg $28,6 miljard aangeteken.

Verkope op Amazon is 40% hoër op ’n jaargrondslag en sy winste het verdubbel.

Apple se verkope het tot aan die uithoeke van die wêreld toegeneem en sy wins in die drie maande tot einde Junie beloop ’n stewige $11,25 miljard.

Alphabet se advertensie-inkomste het ietwat getaan, maar sy totale inkomste het steeds beleggers se stoutste verwagtinge oortref, berig The New York Times.

Facebook se wins vir dié kwartaal beloop $3,9 miljard, ten spyte daarvan dat hy ook ’n daling in advertensie-inkomste beleef het.

2,47 miljard mense gebruik daagliks een van Facebook se vele apps en sosiale platforms, het die maatskappy aangekondig.

Sy getal aktiewe maandelikse gebruikers is nou 12% meer as ’n jaar gelede.

Mense bestee ook meer tyd as ooit tevore op sy platforms, waarskynlik omdat gebruikers weens die pandemie by die huis moes bly met niks anders om te doen nie.

Apple se verkope van iPhones, iPads en Macs is 11% meer met $59,7 miljard se goedere wat van die hand gesit is.

Alphabet se totale inkomste is die eerste keer laer op ’n kwartaalgrondslag, maar sy verdienste is steeds meer as wat ontleders verwag het.

Sy inkomste vir die drie maande onder oorsig beloop $38,3 miljard en sy wins $6,96 miljard.

Amazon het op sy beurt bykans $89 miljard in verkope aangeteken in net drie maande, 40% meer as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

“Dis eenvoudig: Covid-19 was ’n ware groeihormoon vir Amazon,” het Tom Forte, ’n ontleder by die beleggingsbank DA Davidson & Company aan beleggers gesê.

Al die goeie nuus vir Google, Amazon, Facebook en Apple kom te midde van ’n week van hoogdrama in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers waar die maatskappye se onderskeie base moes gaan verduidelik waarom hulle nie skuldig is aan beweerde onmededingende gedrag nie.

Sundar Pichai van Google, Mark Zuckerberg van Facebook, Jeff Bezos van Amazon en Tim Cook van Apple het almal Woensdag per videokonferensie voor wetgewers verskyn en moeilike vrae oor hul onderskeie ondernemings se praktyke beantwoord.

LEES OOK: Tegnologiereuse se base oor gedrag gekap

Meer oor:  Google  |  Amazon  |  Apple  |  Facebook  |  Tegnologiemaatskappy  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.