Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Google bou sy eie internetkabel na SA

Google gaan eersdaags ’n splinternuwe ondersese kabel vanaf Portugal na Kaapstad aanlê wat beloof om die spoed van die internet hier ’n beduidende hupstoot te gee.

Datakabels verbind ’n bediener in ’n kommunikasiesentrum in Londen. Om toegang tot die internet te kry, word 'n netwerk van ondersese kabels benut om 99% van internetverkeer te hanteer.

Equiano, soos die kabel genoem word, is maar Google se derde ondersese kabel wat hy manalleen bou.

Die tegnologiereus hoop om die proses “aansienlik vinniger” en “meer doeltreffend” af te handel as van sy vorige, soortgelyke projekte, sê Google in ’n verklaring.

Danksy spesiale tegnologie wat maak dat data gelyktydig heen en weer gestuur kan word, reken Google Suid-Afrika kan uitsien na tot 20 keer meer kapasiteit as wat deur ander ondersese kabels hierheen toegelaat word.

Suid-Afrika het tans drie ander moderne ondersese kabels wat die land aan die internet verbind.

’n Groot probleem met van die ouer kabels is dat daar moeilik nuwe verbindings daarmee gemaak kan word namate behoeftes in gebiede al langs die kabel verander.

Ingebou in die Equiano is verskeie vertakkingspunte waar nuwe kabels later, sonder veel moeite, aan die hoofkabel verbind kan word.

Fase een van die Equiano-projek beoog om Kaapstad met Lissabon in Portugal te verbind. Dié projek sal na verwagting teen 2021 voltooi wees.

Uiteindelik sal Nigerië ook aan die kabel verbind word.

Trouens, die kabel verleen sy naam aan ’n Nigeriese skrywer wat as jongeling as slaaf na die Amerikas verskeep is.

Olaudah Equiano is in 1797 in Engeland oorlede.

Google vernoem al sy ondersese kabels na noemenswaardige figure.

Die kontrak vir die Equiano-kabel is einde 2018 onderteken. Dit gaan deur die Franse telekommunikasiereus Alcatel-Lucent se filiaal Alcatel Submarine Networks gebou word.

Volgens TeleGeography, ’n navorser van ondersese kabels, word 99% van internetverkeer wêreldwyd deur sowat 380 ondersese kabels hanteer.

Dié kabels weeg sowat 1,5 ton/km en strek oor bykans 1,2 miljoen km seebodem in al die verskeie oseane.

ondersese kabel, Google, equiano

Meer oor:  Google  |  Internet  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.