Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Google in die spervuur: Hieroor gaan dit

Google word deur die Amerikaanse departement van justisie gedagvaar en daarvan beskuldig dat hy die mark vir aanlyn soekenjins en advertensies op ’n onmededingende wyse domineer.

Die dagvaarding word as die grootste in jare teen ’n prominente tegnologiemaatskappy beskou.

In die klagstaat, wat 57 bladsye beslaan, argumenteer die departement Google het ooreenkomste met maatskappye soos Apple en veral vervaardigers van slimfone aangegaan wat die gebruik van sy produkte en dienste aan gebruikers opdwing.

“Google het jare lank onmededingende taktieke gebruik om sy monopolie te behou en te vergroot,” sê die departement in sy hofstukke.

Die saak volg op ’n breedvoerige ondersoek deur die departement, die Amerikaanse kongres en aanklaers in al 50 state en gebiede.

Vier state, insluitende New York en Texas, het ook hul eie, parallele ondersoek na Google se bedrywighede uitgevoer. Daar word verwag dat hierdie state hul eie klagte teen die maatskappy gaan indien.

Elf state se prokureurs-generaal, almal Republikeine, het hul ondersteuning gegee vir die federale dagvaarding, berig The New York Times.

Google beskou die klag teen hom as “erg gebrekkig”.

Waarom word Google gedagvaar?

Die departement van justisie voer aan Google se gedrag is onmededingend juis omdat hy soveel ooreenkomste met ander prominente maatskappye aangegaan het ten einde sy dominante posisie te behou.

Die klagstaat het onthul Google betaal Apple miljarde dollar sodat sy soekenjin voorkeur kry in webblaaiers op Apple-toestelle.

Ondersoekers het bevind Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, het in 2018 met Sundar Pichai, uitvoerende hoof van Google, vergader om die vennootskap te bespreek.

Kort daarna het ’n ongeïdentifiseerde werknemer van Apple aan sy eweknie by Google geskryf “ons visie is dat ons saamwerk asof ons een onderneming is”, berig Bloomberg.

Die departement haal internetdokumente van Google aan waarin die Apple-transaksie as ’n “beduidende bron van inkomste” beskryf word.

Dit is omdat bykans die helfte van Google se verkeer na sy soekenjin vanaf Apple-toestelle kom.

Google se verhouding met slimfoonvervaardigers word ook in die klagstaat bevraagteken.

Daar word spesifiek kapsie gemaak teen Google se ooreenkoms met slimfoonvervaardigers wat sy Android-bedryfstelsel gebruik.

Google bied sy bedryfstelsel gratis aan hierdie vervaardigers, maar vereis dat sy produkte en dienste vooraf geïnstalleer word, en dat sy soekenjin ook voorkeur kry bo ander.

Van die ander vername soekenjins sluit in Yahoo, Yandex en Bing. Laasgenoemde behoort aan Microsoft.

Volgens die departement het Google so dominant geraak, sy naam is nie meer net ’n naamwoord nie, maar nou ook ’n werkwoord om die aksie van ’n internetsoektog te beskryf.

Google word van onmededingende gedrag beskuldig deur die Amerikaanse departement van justisie. Foto: Unsplash

Wat sê Google?

Die tegnologiereus, wat in September 1998 deur Larry Page en Sergey Brin begin is, argumenteer hy domineer nie die mark na soekenjins nie, want sy mededingers is “net ’n klik weg”.

Sy markaandeel is so groot omdat internetgebruikers sy soekenjin verkies.

“Mense gebruik Google omdat hulle dit verkies, nie omdat hulle gedwing word of nie ander opsies kan vind nie,” het Kent Walker, Google se regshoof, in reaksie gesê.

Volgens Walker gaan die hofsaak “niks vermag” om die lewens van verbruikers te verbeter nie.

“Inteendeel, soekenjins van ’n laer gehalte gaan verskyn en die prys van slimfone gaan verhoog. Dit gaan ook moeiliker word vir gebruikers om die dienste te vind wat hulle wil gebruik.”

Die soekenjin op Android-fone en ook in die Safari-webblaaier op Apple-fone is by uitstek Google, maar gebruikers kan dit “enige tyd verander,” sê Google.

Die departement van justisie reken Apple ontvang enigiets tussen $8 miljard en $12 miljard per jaar van Google om sy soekenjin in die Safari-webblaaier te gebruik.

Google is gratis om te gebruik, so wat maak dit saak?

Al is Google gratis om te gebruik, is sy dominante posisie in die mark steeds onregverdig, reken die departement.

Minder mededinging beteken daar is minder innovasie en gebruikers het minder opsies om van te kies as dit by ’n soekenjin kom.

Die kwessie van hoeveel data Google oor gebruikers versamel, is ook geopper.

Mededingers kan met ander sakemodelle vorendag kom waarvolgens hulle minder data van gebruikers insamel, wat opsigself as voordelig beskou kan word.

Selfs al word ’n produk gratis aangebied, beteken dit nie dit is vrygestel van wetgewing rakende mededinging nie, sê die departement ook.

Tot 95% van alle soektogte aanlyn gebeur deur Google, sê hulle verder.

Bill Barr, prokureur-generaal, sê die ondersoekspan het bevind Google domineer nie die mark danksy die gehalte van sy produk nie, maar eerder omdat hy ’n verskeidenheid van vennootskappe aangegaan het wat sy dominante posisie verseker.

Wat gebeur volgende?

In sy klag vra die departement die hof moet “strukturele verligting bied soos nodig” om enige “onmededingende skade” die hoof te bied.

Die departement ontsien ook nie die moontlikheid dat Google in twee of meer afsonderlike ondernemings opgebreek word nie.

“Niks is onmoontlik nie,” het Ryan Shores, ’n amptenaar van die departement, aan Reuters gesê.

“Die vraag oor ’n oplossing sal die beste deur die hof beantwoord kan word nadat dit ’n kans gehad het om al die bewyse aan te hoor.”

Tensy Google en die departement self tot ’n ooreenkoms kom, sal die saak deur die hof aangehoor word, ’n proses wat etlike jare kan duur.

Die Europese Unie het reeds soortgelyke klagte teen Google gebring en die maatskappy oor drie jaar met meer as $9 miljard beboet vir verskeie oortredings van die EU se mededingingswette.

Alphabet, Google se moedermaatskappy, word op meer as $1 000 miljard gewaardeer en het volgens sy jongste resultate meer as $120 miljard in kontantreserwes beskikbaar.

Bykomende bronne: The New York Times, Reuters, Bloomberg

Meer oor:  Google  |  Maatskappye  |  Hofsaak  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.