Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Google op Huawei-fone verbied: Hoe raak dit jou?

Huawei en Google se paadjies gaan skei.

Die Amerikaanse tegnologiereus het volgens bronne besluit om gehoor te gee aan pres. Donald Trump se opdrag verlede week wat plaaslike maatskappye verbied om onderdele of programmatuur aan dié Chinese slimfoonvervaardiger te lewer.

Prakties gesproke beteken dit Huawei word voortaan verbied om enige van Google se programmatuur of apps te gebruik, insluitende die Android-bedryfstelsel. Die verbod raak egter nie bestaande Huawei-toestelle nie. Dit beteken dat diegene wat reeds ’n Huawei-foon besit, steeds toegang tot Google se apps en die bywerkings daarvan sal hê.

Mense se skaduwees op ’n advertensie bord van Huawei. Foto: Bloomberg

Die toestelle sal egter nie die jongste weergawe van die Android-bedryfstelsel ontvang nie. Android Q word later vanjaar uitgereik. Die enigste weergawe van Android waartoe Huawei steeds sal toegang hê, is ’n gratis weergawe wat deur ’n wêreldwye netwerk van programmeerders in stand gehou word, berig Reuters.

Sonder die jongste weergawe van Android sal nuwe Huawei-fone ook nie toegang tot Google se gewildste apps soos YouTube, Maps en Gmail hê nie aangesien hierdie programmatuur deur die selfoonvervaardiger by Google gekoop moet word.

Die verbod raak net Huawei se toestelle, nie enige van Samsung, Sony, LG – of enige ander slimfoonvervaardiger van buite Amerika s’n nie.

Dit is nog onbekend of die verbod Huawei se jongste vlagskipfoon, die voubare Mate X-slimfoon, gaan raak wat na verwagting reeds in Julie uitgereik word. Dit is egter onwaarskynlik. Die maatskappy se volgende groot slimfoon wat in Oktober uitkom, die Mate 30-reeks, sal na verwagting die eerste wees wat nie van Google se programmatuur gebruik kan maak nie.

   

Hoe raak dit my?

   

Op die oomblik word die bestaande eienaars van ’n Huawei-toestel, insluitende die jongste P30- en P30 Pro-modelle, nie deur die verbod geraak nie.

Huawei reik nie verkoopsyfers spesifiek vir Suid-Afrika uit nie, maar die maatskappy het voorheen aangedui hy verwag om meer as 2,5 miljoen toestelle per jaar hier van die hand te sit.

As jy ’n Huawei-foon het, sal jy steeds toegang tot Google se apps geniet, het die tegnologiereus bevestig. Dit beteken jy sal steeds die jongste weergawes van apps soos Maps, YouTube en Gmail in die Play-winkel kan aflaai.

Android sal wel nie meer die jongste bywerkings aan sy bedryfstelsel aan Huawei-fone mag verskaf nie omdat die vennootskap tussen die maatskappye weens die verbod beëindig is. Android Q sal waarskynlik ook nie vir enige Huawei-toestel beskikbaar wees nie.

Omdat Huawei ook sy toegang tot Google se apps op toekomstige toestelle verloor het, is die kans goed dat hy nie meer dié apps op bestaande fone sal ondersteun nie.

Dit beteken dat hoewel YouTube, Gmail en Maps vir nou nog op jou Huawei-foon werk, sal dit waarskynlik oor die volgende paar maande ophou werk namate Huawei dit nie meer ondersteun nie.

   

Watter ander probleme het Huawei?

   

Die Amerikaanse verbod geld nie net programmatuur nie, maar ook belangrike apparatuur.

Huawei vervaardig sy slimfone in China en maak die meeste van die onderdele self, maar sekere belangrike komponente word vanaf Amerika en Europa ingevoer.

Intel en Broadcom is twee Amerikaanse ondernemings wat reeds aangedui het hulle sny hul bande met Huawei en hulle gaan nie meer noodsaaklike onderdele aan hom verskaf nie. Dit sluit in broodnodige mikroskyfies wat slimfone nodig het om te funksioneer.

Bloomberg berig Huawei het wel ’n groot hoeveelheid van hierdie onderdele vooruit bestel, juis uit vrees dat Trump sy toegang daartoe gaan opskort. Dit beteken die maatskappy sal darem genoeg voorraad hê om steeds toestelle vir die komende paar maande te verskaf totdat hy ’n alternatiewe oplossing kan vind.

   

Wat sê Huawei?

   

Die oorhoofse rede vir die verbod op Huawei-produkte in Amerika is weens vrese dat die maatskappy namens die Chinese regering spioeneer.

Huawei het hierdie bewering al male sonder tal ontken. Nietemin het Trump bevind die maatskappy kan nie vertrou word nie en het hy ook ’n beroep op Amerika se bondgenote, waaronder Suid-Afrika, gedoen om Huawei se produkte te verbied.

Sover bekend het die Suid-Afrikaanse regering nog geen planne om die gebruik van Huawei-produkte, veral met die uitbreiding van die 5G-netwerk hier, te verbied nie.

Lees ook: Invloed van VSA-verbod op Huawei in SA onduidelik

’n Woordvoerder vir Huawei in Suid-Afrika het Maandag bevestig die maatskappy dra kennis van Google se besluit.

Die maatskappy wil egter die versekering gee dat hy steeds alle bestaande Huawei-produkte met die nodige programmatuur sal beskerm. Die maatskappy het nie gesê hoe hy van plan is om dit te doen nie.

“Ons sal aanhou om ’n veilige en volhoubare ekosisteem van programmatuur te bou om die beste gebruikservaring vir al ons gebruikers wêreldwyd te gee.”

Meer oor:  Huawei  |  Slimfoon  |  Tegnologie  |  Spioenasie  |  Google  |  Android
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.