Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Google waarsku eienaars van nuwe Huawei-fone
Google se apps en dienste gaan nie op nuwe Huawei-fone beskikbaar wees nie. Foto: Unsplash

Google het eienaars van nuwe Huawei-fone gewaarsku om nie te probeer om enige van sy apps te installeer nie, want dit hou ’n veiligheidsrisiko in.

Weens ’n verbod van die Amerikaanse handelsdepartement wat sake tussen Amerikaanse maatskappye en Huawei verbied, het nuwe Huawei-fone nie meer toegang tot Google se produkte en dienste nie.

Dus het Huawei toegang tot Google se Mobile Services (GMS) verloor en dit is deur Huawei Mobile Sevices (HMS) op sy nuwe toestelle vervang.

Al Google se apps soos Gmail, YouTube, Maps, Docs en dies meer benodig GMS om te kan werk.

In ’n inskrywing op sy korporatiewe blog waarsku Google dat die eienaars van ’n nuwe Huawei nie moet probeer om sy apps te installeer nie, omdat dit die gebruiker “se sekerheid en privaatheid” in gevaar kan stel.

“Google se apps is net beskikbaar op ’n gesertifiseerde toestel,” sê Tristan Ostrowski, regshoof vir Android en Google Play.

Sonder ’n lisensie vir GMS het eienaars van nuwe Huawei-fone ook nie meer toegang tot Google se Play-winkel nie.

LEES OOK: Dié apps werk, en dié werk nie, op nuwe Huawei-fone

“Play Protect-gesertifiseerde toestelle is onderhewig aan ’n streng toetsproses deur Google om die sekerheid en aanpasbaarheid daarvan te bepaal en te verseker dat gebruikers se inligting veilig is,” sê Ostrowski.

Dié toestelle verlaat die fabriek met Google se Play Protect reeds geïnstalleer, wat keer dat dit later onderskep kan word.

Weens die Amerikaanse verbod is nuwe Huawei-toestelle wat ná 16 Mei 2019 ontwikkel en uitgereik is, nie onderhewig aan Google se streng standaarde nie en word Play Protect ook nie daarop geïnstalleer nie.

Gebruikers moet ook nie probeer om Play Protect op nuwe Huawei-fone te systap en self apps soos Gmail en YouTube te installeer nie.

Volgens Ostrowski kan gebruikers onwetend ’n verkeerde weergawe van Google se apps waarmee gepeuter is, aflaai.

Hoewel Huawei toegang tot Google se Mobile Services verloor het, het nuwe toestelle steeds toegang tot die Android-bedryfstelsel.

Dis omdat daar ’n gratis weergawe van Android beskikbaar is waarvan Huawei gebruik mag maak.

Die gebrek aan Google apps en dienste op Huawei-fone geld ook net toestelle wat ná 16 Mei 2019 uitgereik is.

Toestelle wat voor daardie datum reeds in ontwikkeling was, het steeds toegang tot GMS en sal vir die afsienbare toekoms steeds die nodige bywerkings van Android en Google se apps en dienste ontvang nes enige ander Android-foon.

Nuwe Huawei-fone wat sonder GMS uitgereik gaan word, sluit in die P40 en P40 Pro sowel as die Y7P wat later vanjaar uitgereik word.

Meer oor:  Google  |  Huawei  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.