Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
GRAFIKA: Soveel kos TV-dienste nou in SA

Suid-Afrikaners is deesdae bederf met verskeie opsies wat aanlyn vermaak betref.

Nie net kan daar na honderde televisiereekse en flieks op dienste soos Showmax of Netflix gekyk word nie, intekenare van DStv Premium kry ook toegang tot regstreekse uitsendings van sport en ander programme op ’n slimfoon of rekenaar.

Die prys – en inhoud – van die verskillende stromingsdienste verskil egter hemelsbreed.

’n Vergelyking van die prys van die verskillende dienste oor ’n tydperk van twee jaar wys dat DStv verreweg die duurste opsie is, maar dit bied ook die meeste inhoud.

stomingsdienste

Intekenare van DStv se duurste pakket kry nie net toegang tot televisiedienste nie, maar ook DStv Now.

DStv Now is DStv se eie stromingsdiens wat hoofsaaklik inhoud bied wat ook op van DStv se kanale te siene is.

Intekenare kry toegang tot ’n keur van flieks, dikwels van die jongstes uit Hollywood, sowel as die jongste episodes van gewilde televisiereekse.

DStv Premiumkos R904 per maand, ingesluit die koste van PVR-funksionaliteit.

Dit kom neer op die aardige bedrag van bykans R21 700 oor ’n tydperk van twee jaar.

Jy sal boonop ook toegang moet hê tot hoëspoed-internet om DStv Now enige plek te kan geniet.

Daarteenoor is Netflix en die plaaslike stromingsdienste Showmax en Video Play van Vodacom heelwat goedkoper.

Netflix se premiumpakket kos R169 per maand en laat vier persone toe om op afsonderlike toestelle gelyktydig na programme te kyk.

Televisiedienste in Suid-Afrika kan óf peperduur óf betreklik goedkoop wees. Foto: Unsplash

Showmax en Video Play kos albei R99 per maand. Showmax is gratis as jy ingeteken is op DStv se premiumpakket.

Video Play is net beskikbaar vir Vodacom-intekenare. Jy hoef ook nie maandeliks daarop in te teken nie en kan ook vir korter tydperke soos ’n dag of week inteken.

Sowel Showmax as Video Play sal jou R2 376 oor 24 maande kos.

Amazon se Prime Video en Apple se nuwe Apple TV+ is egter nóg goedkoper.

Prime, wat nie juis besonders baie inhoud bied nie, kos maar $2,99 per maand vir die eerste ses maande. Daarna sal jy $5,99 per maand betaal.

Teen die huidige wisselkoers sal jy dus sowat R1 866 oor twee jaar vir dié diens betaal.

Apple se nuwe stromingsdiens wat op 1 November in Suid-Afrika en elders beskikbaar gaan wees, kos net $4,99 per maand vir ’n totaal van sowat R1 777 oor twee jaar.

Die presiese inhoud van dié diens is nog onbekend, hoewel Apple bevestig het hy het verskeie oorspronklike reekse daarvoor vervaardig.

Dit is egter nog ’n geheim of Apple TV+ iets meer gaan bied as net Apple se eie reekse en flieks.

Al dié pryse laat uiteraard bykomende koste buite rekening soos ’n onbeperkte internetlyn en gepaste toestel om die inhoud op te stroom.

’n Geldige televisielisensie is ook nodig om enige van hierdie dienste op ’n slimtelevisie te kyk, al word die televisie nie gebruik om enige van die SAUK se gratis kanale te kyk nie.

Die jaarlikse lisensiegelde beloop tans R265, maar die SAUK het reeds aangedui hy wil dit graag teen volgende jaar met minstens 5% vermeerder.

Meer oor:  Dstv  |  Netflix  |  Apple  |  Showmax  |  Tegnologie  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.