Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Groen lig vir Prosus se plan met Naspers-aandele

Net meer as 90% van die internasionale internetmaatskappy Prosus se aandeelhouers het Vrydag ten gunste van sy aandeelruiltransaksie met sy beheergroep, Naspers, gestem.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus. Foto: Getty Images

Die volgende stap is dus nou vir Naspers-aandeelhouers om te besluit of hulle ál hul Naspers-aandele of net ’n deel daarvan vir Prosus-aandele wil verruil.

In dié ruiltransaksie, wat in Mei aangekondig is, bied Prosus net meer as 2,27 Prosus-aandele aan vir elke Naspers-aandeel.

Volgens Prosus en Naspers is die doel van die transaksie om Naspers se gewig op die JSE te verklein en Prosus se beleggingsprofiel te verbeter. Die groepe hoop dit sal waarde ontsluit, want Naspers verhandel teen ’n groter afslag as sy werklike waarde vergeleke met Prosus.

Naspers se gewig in die JSE se aandeelhouersgeweegde indeks (Swix) sal na verwagting van die huidige 23% tot sowat 15% krimp.

Batebestuursfirmas en pensioenfondse is toenemend gedwing om Naspers-aandele wat hulle namens kliënte hou, te verkoop namate die aandeel ’n te groot deel van hul portefeuljes uitmaak weens sy groei.

Aandeelontleders was tot dusver verdeeld oor hoe aantreklik of suksesvol Naspers en Prosus se ruilskema gaan wees.

Casparus Treurnicht, portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, het vroeër gewaarsku beleggers hou nie van kruisaandeelhouding nie en die meeste van dié strukture word in elk geval mettertyd ontbind. Hy meen die enigste manier waarop Naspers en Prosus waarde kan ontsluit, is om Prosus se 28,8%-belang in die Chinese internetreus Tencent stelselmatig te verkoop en om ruimer dividende te verklaar.

Die belang in Tencent sorg tans vir die wins in Naspers en Prosus, terwyl hul eie internasionale internetbedrywighede nog nie almal winsgewend is nie of ’n veel kleiner wins maak. Prosus is onder meer ook wêreldwyd belê in kosaflewering, geklassifiseerde advertensies, e-handel en finansiële tegnologie.

Vaughan Henkel, hoof van aandeelnavorsing by PSG Wealth, het die afgelope week gesê die onlangse swakker prestasie van Tencent het boonop tot ’n nóg groter afslag op die netto batewaarde van Naspers en Prosus gelei.

Deur die ruiltransaksie sal Prosus se belang in Naspers tot 49% groei van die huidige 3,7%, en Naspers se belang in Prosus sal op sy beurt tot 57,2% krimp van die huidige 73,2%. Naspers sal dan ’n effektiewe ekonomiese belang van 40,3% in Prosus hou.

Naspers sal uiteindelik egter steeds beheer oor Prosus behou deur die uitreik van nuwe B-aandele in Prosus.

Henkel meen dit sal moeilik wees om die ruiltransaksie om te keer as dit eers goedgekeur en deurgevoer is, maar hy glo nie dit sal die afslag op die twee maatskappye se aandeelpryse verminder nie.

Henkel meen wel die maatskappye het baie sterk groeipotensiaal omdat hulle aan bates blootgestel is wat teen dubbelsyfers groei, soos videospeletjies, sosiale media, finansiële tegnologie en wolkdienste. Prosus se e-handelbates, veral sy kosaflewering, groei ook sterk, volgens Henkel.

Prosus se inkomste het in die boekjaar tot einde Maart met 34% tot $28,8 miljard gestyg. Naspers se inkomste het in die boekjaar tot einde Maart met 32% tot $29,6 miljard gestyg. Naspers sluit Media24 en Takealot in Suid-Afrika in.

Henkel meen die breë risiko’s vir die groepe is die onvoorspelbaarheid van die Chinese regering en sy reguleerders. Dit kan ’n groot invloed op Tencent se winsgewendheid en groei hê.

Die Chinese regering het juis ’n paar weke gelede toegeslaan op groot tegnologiemaatskappye en hulle gewaarsku teen enige onmededingende gedrag.

Enige spanning tussen die VSA en China plaas ook afwaartse druk op Tencent, volgens Henkel.

Hy wys daarop dat Prosus gewoonlik die kontant wat hy van sy belang in Tencent verdien, gebruik het om in nuwe ondernemings te belê.

Naspers se aandeelprys was Vrydag 0,5% laer op R2 735. Prosus se aandeelprys was 0,2% laer op R1 295.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
k
    Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Tencent  |  Geklassifiseerde Advertensies  |  Aandele  |  E-Handel  |  Tegnologie  |  Beleggings
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.