Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Groot nywerhede se rekenaars ál meer aangeval

Die getal aanvalle op die rekenaarstelsels van groot nywerhede soos kragstasies en olieplatforms het in 2020 gestyg.

Kuberkrakers slaan al hoe meer toe op nywerhede. Foto: Reuters

Die persentasie rekenaarbedryfstelsels vir nywerhede wat in 2020 aanvalle moes afweer, was 33,4%. Dit is ’n toename van byna ’n persentasiepunt teenoor 2019.

Hierdie toename kom nadat daar eers in die tweede helfte van 2019 ’n afname was.

Volgens ’n verslag deur die kubersekerheidsfirma Kaspersky was daar in die tweede helfte van 2020 meer aanvalle.

Die persentasie rekenaars wat in die ingenieurs- en -integrasiesektor aangeval is, het met byna 8% gestyg. In die veld van gebou-outomatisering het dit met byna 7% en in die olie-en-gasbedryf met 6,2% gestyg.

Oor die algemeen het die persentasie rekenaars wat aangeval is, toegeneem in 62% van die lande wat Kaspersky ontleed.

As gevolg van die uiters sensitiewe inligting wat groot nywerhede besit, is hulle aantreklike teikens vir kuberaanvallers. Aanvalle kan produksie ontwrig en enorme finansiële verliese veroorsaak.

Meer kwaadwillige programme

Benewens aanvalle op nywerhede se rekenaarstelsels het die verskeidenheid kwaadwillige programme deur aanvaller met 30% toegeneem en 5 365 verskillende programme is geblokkeer.

Die grootste bedreiging is in die vorm van agterdeurprogramme (trojans) wat toegang tot die besmette toestel bekom.

Dit word gevolg deur kwaadwillige programme wat ontwerp is om data te steel (spyware), ander soorte trojans, en kwaadwillige skrifte en dokumente (malware).

Die persentasie rekenaars waarop kwaadwillige e-posaanhangsels geblokkeer is, het gestyg tot 73,4% van alle lande wat ondersoek is (in vergelyking met 23,6% in die tweede helfte van 2019). Dit het wêreldwyd met 0,7% toegeneem.

Aanvalle in verskillende bedrywe

In die tweede helfte van 2020 het die aanvalle in vergelyking met die eerste helfte van die jaar gestyg.

  • Gebou-outomatisering: 46,7% van stelsels moes ’n aanval afweer; ’n toename van byna 7% vanaf die eerste helfte van 2020;
  • Olie en gas: 44%, ’n toename van 6,2%;
  • Ingenieurswese en integrasie: 39,3%, ’n toename van byna 8%.

Ongewone jaar

“2020 was in byna alle opsigte ’n ongewone jaar, en dit het blykbaar tot ongewone tendense in die aanvalle op rekenaarstelsel gelei,” sê Evgeny Goncharov, hoof van ICS CERT by Kaspersky.

Volgens Goncharov is daar gewoonlik ’n afname in die persentasie rekenaaraanvalle in die noordelike somermaande en Desember, wanneer mense met vakansie gaan.

“Met grense en lande wat gesluit was, het baie mense waarskynlik nie hul vakansie geneem nie, en daarom was daar geen merkbare afname nie, terwyl aanvalle in ontwikkelde lande, soos die VSA en Wes-Europa, aansienlik toegeneem het.

“Aangesien die pandemie nog aan die gang is, sal dit belangrik wees dat alle bedrywe bykomende voorsorg tref.”

Wenke

Om rekenaars teen verskillende bedreigings te beskerm gee Kaspersky-kenners die volgende wenke:

  • Gebruik net bestuurstelsels en toepassingsagteware wat deel van ’n onderneming se bedryfsnetwerk uitmaak.
  • Pas sekerheidsoplossings toe op netwerktoerusting sodra dit beskikbaar is.
  • Doen gereelde veiligheidsoudits van stelsels om moontlike kwesbaarhede te identifiseer en uit te skakel.
  • Toegewyde sekerheidsopleiding vir IT-veiligheidspanne en -ingenieurs is van kardinale belang om die reaksie op nuwe en gevorderde kwaadwillige tegnieke te verbeter.
  • Verskaf die jongste bedreigingsintelligensie aan die beveiligingspan wat verantwoordelik is vir die beskerming van bedryfsbeheerstelsels.

Meer oor:  Kuberkrakers  |  Tegnologie  |  Nywerhede  |  Wifi  |  Rekenaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.