Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Groot tegnologie-kongres gekanselleer oor virus

Vanjaar se Mobile World Congress (MWC), die grootste samekoms van rolspelers in die telekommunikasiebedryf, is gekanselleer weens vrese oor die koronavirus.

MWC lok jaarliks meer as 100 000 besoekers en duisende maatskappye na Barcelona om die jongste mobiele tegnologie ten toon te stel en te aanskou.

Die GSMA-vereniging, wat die geleentheid organiseer, het Woensdag bevestig die kongres, wat van 24 tot 27 Februarie sou plaasvind, is gekanselleer ondanks die versekering van plaaslike en nasionale gesondheidsamptenare dat dit veilig sou wees.

“Die GSMA het MWC 2020 in Barcelona gekanselleer weens die wêreldwye kommer oor die uitbreking van Covid-19 (wat deur die koronavirus veroorsaak word), asook mense se vrees om te reis en ander omstandighede wat dit vir die GSMA onmoontlik maak om die geleentheid te hou,” sê John Hoffman, uitvoerende hoor van GSMA, in ’n verklaring.

Die aankondiging volg op ’n krisisvergadering van GSMA se direksie vroeër die week nadat verskeie groot maatskappye hulle aan die kongres onttrek het.

Dit sluit in Duitsland se Deutsche Telekom, Vodafone, BT en Nokia.

LG, Sony en Amazon het hulle ook al aan die kongres onttrek.

Die Chinese vervaardiger Huawei was een van die enigste groot maatskappye wat nie onttrek het nie.

Vanjaar se Mobile World Congress in Barcelona is gekanselleer. Foto: Reuters

Telefonica, een van Spanje se grootste diensverskaffers, het Woensdagaand in ’n verklaring gesê hy “het begrip vir die GSMA se besluit om die kongres te kanselleer weens die situasie wat deur die nuwe virus veroorsaak is”.

Ada Colau, burgemeester van Barcelona, het vroeër gesê sy wil ’n “boodskap van kalmte” bring en die versekering gee dat die stad gereed is om die geleentheid aan te bied.

Plaaslike gesondheidsowerhede het ook aangedui daar is geen rede om die MWC te kanselleer nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het eweneens ’n beroep op kalmte gedoen in die lig van die situasie met die virus. “Daar is geen bewyse wat daarop dui dat die virus onder gemeenskappe buite China versprei nie. Daarom is daar nie ’n versoek van die WGO dat groot byeenkomste gekanselleer word nie,” sê Tarik Jasarevic, woordvoerder van die WGO.

Tim Hoettges, uitvoerende hoof van Deutsche Telekom, het op LinkedIn geskryf dit sal ’n “onverantwoordelike risiko” wees om soveel mense in hierdie tyd byeen te bring.

Die Chinese afvaardiging by MWC was die afgelope paar jaar tussen 5 000 en 6 000 mense, wat die kongres besonder kwesbaar maak vir die virus wat reeds meer as 1 100 mense in China se dood veroorsaak het.

Volgens die GSMA verstaan en respekteer gasheerstede en vennote die besluit om te kanselleer.

MWC kon ook nie bloot uitgestel word nie weens die groot aantal mense wat verwag word.

Die volgende MWC is geskeduleer om in Februarie 2021 plaas te vind.

Meer oor:  Koronavirus  |  Virus  |  Mobile World Congress  |  Covid-19  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.