Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Halfmiljoen laai reeds Covid-19-app af

Meer as halfmiljoen mense het reeds die regering se nasporingsapp vir Covid-19 afgelaai, ten spyte van heftige teenkanting daarteen veral op sosiale media.

Geen inligting wat die app benodig word op ’n sentrale databasis gestoor nie. Foto: Unsplash

Dit is wel nog maar ’n druppel aan die emmer van die departement van gesondheid se uiteindelike mikpunt van tien miljoen, sê Gaurang Tanna, die departement se hoof van beleidskoördinering en geïntegreerde beplanning.

“As nog 50 000 mense die app aflaai en twee ander mense vra om dit ook te doen, kan ons binne enkele dae by 10 miljoen mense wees,” het hy in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê.

Die app, Covid Alert SA, is gratis deur Discovery gebou en maak gebruik van onderliggende tegnologie wat ingebou is in die Android- en Apple-bedryfstelsels.

Dit moes aan ongelooflike streng vereistes voldoen wat betref die privaatheid van gebruikers, sê Maria Carpenter, hoof van digitale dienste by Discovery.

“Aanvanklik wou Google en Apple nie eens gehad het ons moet die app bou nie,” sê sy.

In ’n bykans ongekende stap het Google en Apple vroeg tydens die koronaviruspandemie aangekondig hulle gaan saamwerk aan tegnologie wat kodes via Bluetooth tussen toestelle uitruil wat daarop dui dat hulle in nabye kontak was met mekaar.

Sou een van die persone later positief toets vir die koronavirus, kan ’n kennisgewing gestuur word na die eienaar van die ander foon om te sê hy of sy was onlangs in nabye kontak met iemand wat Covid-19 het.

Omdat Discovery ’n private onderneming was, wou Apple en Google nie gehad het Discovery mag ’n app bou nie. Dis toe dat hulle die departement van gesondheid nader en vra of hulle dit gratis namens hulle kan bou.

Volgens Carpenter het Discovery terdeë besef min Suid-Afrikaners sal ’n app vertrou waarvan die inligting op ’n sentrale plek gestoor word wat aan die regering behoort.

“Ons het daarom besluit op ’n gedesentraliseerde benadering.”

Dit beteken geen inligting wat die app benodig, word iewers op ’n sentrale databasis gestoor nie.

Die app is ontwerp om geen persoonlike inligting van enige aard te versamel of te stoor nie. Dit benodig nie jou foon se ligging of toegang tot jou kontaklys nie.

Geen kredietkaartbesonderhede word verlang nie en dit vra ook nie vir die kontakbesonderhede van jou Facebook-vriende nie.

Dit vra net vir toestemming om jou toestel se Bluetooth te benut en om kennisgewings te mag stuur.

“Dit volg glad nie jou bewegings nie,” sê Carpenter.

Trouens, dit is vir Discovery en die departement van gesondheid belangrik dat niemand weet presies waar hulle dalk in kontak gekom het met iemand wat positief getoets is vir die virussiekte nie, juis omdat daar ’n stigma daaraan kleef.

Net die dag van die moontlike blootstelling word gegee, nie die plek of tyd nie.

“Ons wil nie hê mense moet kan uitwerk wie hulle dalk besmet het nie.”

Hoewel Discovery die app namens die departement gebou het, gaan die maatskappy dit net vir drie maande onderhou.

Apple en Google laat net toe dat ’n land se amptelike departement van gesondheid of ander regeringsorganisasies die app bedryf wat van die onderliggende tegnologie gebruik maak.

Daar mag ook net een app per land wees. Covid Alert SA is die eerste in sy soort in Afrika. Verskeie ander lande, waaronder Australië, Brasilië, Kanada, Denemarke, Duitsland, Indië, Japan, Noorweë en Singapoer, bedryf al soortgelyke apps.

Hoekom is die app nodig as nuwe gevalle minder word?

Suid-Afrika se daaglikse getal nuwe infeksies is besig om te daal en die inperking is onlangs verder verslap.

So waarom is ’n nasporingsapp nou nodig as die infeksiekoers so laag is?

“Soos wat inperkingsmaatreëls verslap word, is dit belangrik om die verspreiding van die virus in openbare plekke te bespeur,” verduidelik Tanna.

Tydens die strengste vlakke van inperking was dit makliker om die moontlike verspreiding van die virus te bepaal omdat pasiënte met minder mense in kontak was.

Die departement van gesondheid bedryf reeds sedert die begin van die pandemie ’n WhatsApp-groep waaraan almal wat positief vir die virus getoets is, behoort.

Persone wat positief getoets is, het die departement daarop van ’n lys name en nommers voorsien van mense met wie hulle onlangs in kontak was.

Die departement sou dan na daardie mense uitreik en vra dat hulle selfisoleer.

Met die verslapping van inperkingsmaatreëls raak dit bykans onmoontlik vir mense wat positief toets om te weet met wie hulle almal in aanraking was.

Daarom is ’n app soos Covid Alert SA nodig.

“Ons wil niemand agtervolg nie,” sê Tanna.

“Ons wil net hê die ekonomie moet weer op dreef kom en dat daar nie ’n nuwe vlaag van infeksies is nie.”

5 feite oor die regering se Covid-19-app

• Die app benodig nie toegang tot jou lys kontakte op jou foon of op Facebook nie.

• Die app benodig nie toegang tot jou foon se ligging nie.

• Die app vra nie vir jou kredietkaartbesonderhede nie.

• Die regering kan nie die app gebruik om jou bewegings dop te hou nie.

• Die onderliggende tegnologie in die Apple- en Android-bedryfstel kan te enige tyd afgeskakel word.

Meer oor:  Google  |  Apple  |  Discovery  |  Covid-19  |  Nasporingsapp  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.