Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Hendrik du Toit vul nuwe rol op Naspers-direksie

Die hoogs gerespekteerde Hendrik du Toit is nou die leidende onafhanklike direkteur van Naspers en Prosus.

16-04-2019 DIE BURGER Hendrik du Toit van Invest
Hendrik du Toit, uitvoerende hoof van Ninety One (wat uit Investec ontknoop is), is die heersende Sakeleier van die Jaar, wat aangebied word deur Die Burger, Netwerk24 en die Kaapse Sakekamer. Foto: Jaco Marais

Du Toit (57), die uitvoerende hoof van Ninety One (tot onlangs toe Investec Batebestuur), is reeds sedert April 2016 op Naspers se direksie. Prosus, wat verlede jaar in Amsterdam genoteer het as houermaatskappy vir Naspers se buitelandse internetbelange, het dieselfde bestuur en direksie as Naspers.

Du Toit vul die posisie vanaf 1 April.

Dit kom nadat die 75-jarige Fred Phaswana uit die direksie afgetree het.

Phaswana was sedert Oktober 2003 op Naspers se direksie en sedert April 2015 die leidende onafhanklike direkteur. Hy was ook lid van die direksiekomitee oor mensehulpbronne en vergoeding.

Die maatskappy bedank Phaswana “vir sy toewyding aan die groep oor baie jare. Sy unieke bydraes word hoogs waardeer en sal gemis word.”

Phaswana was voorheen onder meer ’n direkteur van Mondi en Standard Bank.

Du Toit is verlede jaar as Die Burger, Netwerk24 en Kaapstad Sakekamer se Sakeleier van die Jaar aangewys. Hy was in 1991 medestigter van Investec en dit is ook dié jaartal wat die inspirasie is vir die naam van die maatskappy wat pas uit Investec ontknoop is.

Hy het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck gematrikuleer en grade in die regte, ekonomie en internasionale finansies aan die Universiteit Stellenbosch en van Cambridge behaal. Hy het sy loopbaan by Old Mutual begin, waar Investec hom gewerf het om ’n nuwe batebestuursafdeling by die bankgroep te begin.

Koos Bekker is steeds die voorsitter van Naspers en Prosus se direksie, maar omdat hy voorheen in ’n bestuursrol by die maatskappy was, word hy nie as ’n onafhanklike direkteur beskou nie.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Investec  |  Ninety One  |  Prosus  |  Naspers  |  Hendrik Du Toit  |  Tegnologie  |  E-Handel  |  Batebestuursfirmas  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.