Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Het jy ’n probleem? Stig ’n app en maak geld!
Sxuirrel is ’n app wat jou help om stoorplek te vind, of waarop jy oortollige stoorplek kan uitverhuur.

Entrepreneurskap is in hul bloed. En dis ook maar goed so, want dit sit nie in elke ou se broek om ’n aanvangsonderneming van die grond af te kry nie.

Des te meer nie terwyl jy nog druk besig is met jou nagraadse studies nie.

Nietemin laat MJ Dippenaar, Henri Bam en Michael Louis, die drie medestigters van Sxuirrel, nie toe dat enige uitdaging hulle van stryk bring nie.

Sxuirrel het onlangs die prys as beste studente-app op die Suid-Afrikaanse Startup Awards gewen.

Dit het daarna op internasionale vlak met ander apps uit lande in Suider-Afrika meegeding, maar is ongelukkig uitgestof deur EcOrganics, ’n studente-onderneming van Mauritius wat by die groei van organiese kos betrokke is.

“Dis lekker as jou werk raakgesien word,” sê Dippenaar, nou die uitvoerende hoof van Sxuirrel. “Hoewel jy nie altyd na erkenning smag nie, is dit lekker om te weet iemand glo in jou idee.”

Dit was Dippenaar wat met die idee vir Sxuirrel vorendag gekom het as oplossing vir ’n probleem wat hy self ervaar het as student aan die Universiteit Stellenbosch.

“Ek is van Pretoria, maar alles wat ek besit is in Stellenbosch. Elke vakansie moes ek my koshuiskamer ontruim en stoorplek vir my besittings vind.”

Ná etlike vakansies se geskarrel om by vriende – of in hul ouers se motorhuis – ’n hoekie vir sy gholfsak te vind, het Dippenaar begin dink: Hier is ’n sakegeleentheid.

Gou is Bam en Louis betrek en in Junie 2016 word Sxuirrel gestig.

Dippenaar, met sy graad in BCom-beleggingsbestuur en finansiële ontleding word die uitvoerende hoof; Bam, met ’n graad in siviele ingenieurswese en ’n nagraadse kwalifikasie in bedryfsingenieurswese is die bedryfshoof, en Louis, die enigste medestigter met kennis van programmering, word die tegnologiehoof.

Maar hoe neem ’n mens ’n idee wat in ’n koshuiskamer op Stellenbosch uitgebroei is tot ’n volwaardige aanvangsonderneming, volledig met ’n lys direkteure en aandeelhouers waaraan jy verslag moet doen?

As jy nie nou begin nie, gaan jy nooit begin nie. Toets jou idee; praat daaroor. Jy leer soos jy aangaan.
Henri Bam

“Dis eenvoudig: spring in, rol jou moue op en begin,” sê Bam. Hy en Dippenaar gesels met Netwerk24, meer as anderhalfjaar ná daardie Junie-vakansie waartydens Sxuirrel gebore is.

“As jy nie nou begin nie, gaan jy nooit begin nie. Toets jou idee; praat daaroor. Jy leer soos jy aangaan.”

Dippenaar voeg by: “Daar is hierdie idee in besigheid dat dit nie goed is om oor jou idee te praat nie; dat mense jou daaroor gaan veroordeel of jou idee gaan steel. Dit is bog.

“Iemand anders het waarskynlik reeds dieselfde idee. So hoe meer terugvoering jy kan kry, hoe meer gaan jy aan jou idee skaaf en dit verbeter.”

Die idee was om ’n app te skep waarop diegene met ekstra stoorplek in hul huise, slaapkamers of motorhuise dit kan uitverhuur aan mense wat stoorplek benodig.

Die app bring hierdie partye in verbinding, ’n prys word vasgestel en die transaksie word beklink. Dit is ’n wen-wen-situasie vir almal betrokke.

“Ons het agtergekom die probleem van stoorplek is veel groter as net ons ervaring. Daar is ’n mark daarvoor wat deur die gemeenskap gedryf word, maar dis nog nie gekommersialiseer nie,” sê Dippenaar.

Die drie het ’n eenvoudige produk geskep en ’n paar vriende genooi om dit oor ’n bier en ’n sny pizza te toets en terugvoering te gee.

“Dit het baie gehelp dat ons nog studente was met toegang tot ’n sterk netwerk. Dit is ook ’n groep jong mense wat gretig is om nuwe goed op die proef te stel,” sê Dippenaar.

Die span het die aanvangskoste so laag moontlik gehou deur bestaande produkte en dienste te gebruik, soos Google se produkte wat jou help om ’n app te bou en om bedieners te huur eerder as om een van voor af te bou.

“Jy kan selfs met net ’n werkboek in Excel en ’n WhatsApp-groep ’n idee toets,” sê Bam.

“Dit is ook belangrik om ’n onderskeid te tref tussen jou idee, jou sakemodel (hoe jy gaan geld maak) en die tegnologie,” sê Dippenaar.

“Ons het baie tyd gemors deur te fokus op die outomatisering van goed, maar dit is nie nodig nie.”

Dit is ook belangrik om ’n onderskeid te tref tussen jou idee, jou sakemodel (hoe jy gaan geld maak) en die tegnologie.
MJ Dippenaar

Teen Desember 2016 het mense hulle begin raaksien. ’n Onderneming met bestaande bates in die logistiek- en selfstoorbedryf het hulle gekontak en aangebied om in hulle te belê.

Danksy ’n ruim belegging kon Louis, Bam en Dippenaar die produk verbeter en teen April 2017 aan ’n wyer gehoor beskikbaar stel.

Hulle het ook aan ’n kompetisie deelgeneem en plek gekry in die US se gesogte LaunchLab, ’n broeikas van innoverende idees waar kleinsakeondernemings kantoorruimte goedkoop kan huur.

“Dinge het toe begin lewe kry,” sê Dippenaar. “Jy het ’n plek om heen te gaan; daar is ’n ondersteuningsraamwerk. Stelsels het inmekaar begin pas en dit het ons selfvertroue ’n hupstoot gegee.”

Sxuirrel het hom aanvanklik op Stellenbosch toegespits, en Dippenaar erken hulle sou vinniger kon uitbrei as hulle meer mense was.

“Om ’n aanvangsonderneming op die been te kry, vereis baie hulpbronne. Jy ding mee met groot rolspelers en moet jou sakemodel mooi verstaan.”

Die uitdaging was ook tweeledig: Enersyds benodig Sxuirrel studente wat gewillig is om stoorplek teen ’n prys te huur, en andersyds “gewone mense” wat gewillig sal wees om oortollige stoorplek uit te verhuur.

Die hele konsep van Sxuirrel berus op ’n vertrouensverhouding wat tussen dié partye geskep word.

Die platform het nou net minder as 2 000 mense wat dit aktief gebruik en 250 mense wat stoorplek daarop adverteer.

Sxuirrel is ’n app wat jou help om stoorplek te vind, of waarop jy oortollige stoorplek kan uitverhuur.

November is gewoonlik ’n besige tyd omdat studente dan (dikwels inderhaas) soek na ’n plek om ’n sak klere, sporttoerusting of ’n bromponie vir die Desembervakansie te stoor.

Om jou stoorplek op Sxuirrel te adverteer is gratis en die maatskappy verdien sy brood en botter deur kommissie op elke transaksie te hef. Dié geld word verhaal van die persoon wat die stoorplek benodig.

Dippenaar en Bam is opgewonde oor die toekoms van hul onderneming, wat benewens die drie stigters nou drie lede bygekry het.

Hulle wil binnekort begin om ook parkeerplek, kantoorspasie en ander ruimtes op Sxuirrel te lys.

En het hulle enige raad vir huidige studente wat groot drome koester?

“Posisioneer jouself om met meer idees vorendag te kom. Dink aan ’n probleem in jou eie lewe en hoe jy dit kan oplos.

“Dis dalk ’n geleentheid vir ’n nuwe onderneming.”

Meer oor:  Entrepreneurs  |  Studente  |  App  |  Entrepreneurskap  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.