Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Historiese’ staking by DStv begin
televisie, dstv, multichoice
Lede van die Ictu-vakbond het met 'n staking by DStv se inbelsentrums begin. Foto: Unsplash

Lede van die Information Communication Technology (Ictu)-vakbond het Vrydag met ’n staking by DStv se inbelsentrums en winkels begin.

Dié lede is deel van ’n groep personeel by die betaaltelevisiediens wat as deel van ’n herstruktureringsproses aan moontlike afleggings blootgestel kan word.

Ictu het die staking laat Donderdagaand bevestig en bestempel dit as “histories” in omvang. Volgens die vakbond sal die staking “al 7,7 miljoen” van DStv se kliënte verontrief wat enige tegniese hulp benodig.

Oproepe na DStv se inbelsentrum Vrydagoggend is deur ’n outomatiese stem beantwoord wat sê dat “roetine-instandhouding” tans plaasvind en dat geen tegniese probleme vir eers deur die inbelsentrum opgelos kan word nie.

Inbellers kan wel met ’n agent oor nie-tegniese of nie-rekeningverwante kwessies praat. Kykers kan ook die DStv-app gebruik om probleme op te los. 

MultiChoice het in Junie aangekondig dat hy meer as 2 000 werknemers van sy winkels en inbelsentrums gaan aflê as deel van ’n groot herstruktureringsproses.

Dié stap word hoofsaaklik gedoen omdat MultiChoice se kliënte al minder van dié dienste gebruik maak om probleme op te los, het die maatskappy destyds gesê.

Ictu het egter van meet af aan MultiChoice daarvan beskuldig dat hy “onregmatig” met ’n art. 189-proses begin het met die doel om werknemers in sy oproepsentrums en winkels af te dank.

Ictu beweer hy verteenwoordig 1 790 van die betrokke werkers, maar die vakbond het nie ’n bedingingsooreenkoms met MultiChoice nie.

Die omvang van Vrydag se staking is nog nie bekend nie en dit is nog onduidelik hoeveel van MultiChoice se personeel in sy winkels en inbelsentrums daaraan deelneem.

In ’n verklaring sê Ictu dat die meeste van sy lede op ’n onlangse algemene vergadering ten gunste van ’n staking gestem het. Ictu beskryf sy lede as “gatvol vir die misbruik deur MultiChoice”.

Die vakbond het MultiChoice twee dae gelede ingelig dat sy lede beplan om Vrydag te begin staak. Die maatskappy het glo met regstappe gedreig sou die staking voortgaan.

Joe Heshu, groephoof van korporatiewe sake, het by navraag die staking as “onbeskerm en ook onwettig” beskryf en dit betreur dat die werkers wel besluit het om daaraan deel te neem.

Volgens Heshu is MultiChoice steeds daartoe verbind om met die betrokke partye en in pas met arbeidswetgewing oor die herstruktureringsproses te konsulteer.

In sy verklaring sê Ictu hy is “agterdogtig” oor die ware redes waarom MultiChoice besluit het om die werkers af te lê.

Die vakbond sinspeel daarop dat dit nie oor kostebesnoeiing gaan nie, aangesien die “arrogante MultiChoice” ’n “wins” van R50,4 miljard in die afgelope boekjaar verdien het.

MultiChoice se totale inkomste – nie wins nie – vir die boekjaar beloop wel R50,1 miljard. Die maatskappy het tans net meer as 7 000 mense in sy diens en 15,1 miljoen intekenare, waarvan 7,4 miljoen in Suid-Afrika is.

MultiChoice het in die boekjaar tot einde Maart R5,5 miljard aan salarisse en byvoordele spandeer, waarvan R24,6 miljoen aan sy topbestuur se basiese salarisse gegaan het.

Meer oor:  Dstv  |  Multichoice  |  Tegnologie  |  Ictu  |  Televisie  |  Betaaltelevisie  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.