Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Hoë nee-stem vir Naspers-topbestuur se betaling

Ondanks groot spronge in Naspers se openbaarmaking van hoe hy sy topbestuur vergoed, het gewone aandeelhouers op die jaarvergadering vanjaar oorweldigend teen sy vergoedingsbeleid gestem.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers.

Altesame 61,26% van die N-aandele waarvoor stemme op die groep se jaarvergadering uitgebring is, het téén die vergoedingsbeleid gestem en 38,64% ten gunste daarvan. 100% van A-aandele het ten gunste daarvan gestem, wat die totale stempersentasie vir die vergoedingsbeleid op 82,62% te staan bring. A-aandele het hoër stemreg as N-aandele (1 000 stemme teenoor een stem).

Die 61,26% aandele wat op die jaarvergadering in stemme verteenwoordig is, verteenwoordig slegs 28,38% van Naspers se totale N-aandele.

Die stem oor vergoedingsbeleid op ’n jaarvergadering is nie bindend nie, maar ’n hoë persentasie “nee”-stemme lei meestal tot gesprekke met aandeelhouers oor hoe ’n maatskappy vergoeding bepaal.

Verlede jaar het 47,76% van N- gewone aandele wat op die jaarvergadering verteenwoordig is, stemme teen die vergoedingsbeleid uitgebring en 52,24% daarvoor. Dit het 28,58% van al Naspers se N-aandele verteenwoordig.

In 2017 was die nee-stem ook baie hoog, op byna 75%.

LEES OOK: Notering: Só stem Naspers se aandeelhouers

Anders as op die voorafgaande twee jaarvergaderings was daar vanjaar nie ’n enkele vraag oor die maatskappy se vergoedingsbeleid nie.

Craig Enenstein, hoof van die direksie se vergoedingskomitee, het wel beklemtoon dat die maatskappy in die ry staan vir tegnologietalent en meeding met reuse soos Facebook, Google en Amazon.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers, het ’n totale vergoedingspakket van net minder as $12,9 miljoen vir die jaar tot einde Maart verdien, volgens die maatskappy se jaarverslag.

Dit sluit in ’n basiese salaris van $1,259 miljoen, $85 000 vir pensioen, $66 000 se voordele, $1,108 miljoen se korttermynaansporings en $10,368 miljoen se langtermynaansporings.

Dié pakket was 5,8% hoër as in die vorige boekjaar.

Vir vanjaar het Naspers se direksie ’n 10%-verhoging in sy basiese salaris tot $1,388 miljoen goedgekeur. Dit sluit alle ander voordele uit.

Die maatskappy het in sy vergoedingsverslag gesê Van Dijk se verhoging volg op sy persoonlike prestasies, wat insluit sy bydrae tot die suksesvolle ontknoping en notering van MultiChoice en die verkoop van Naspers se belang in Flipkart vir ’n enorme wins.

Die maatskappy beoog om benewens die kort- en langtermynaansporings vir Van Dijk en ander topbestuurders ook ’n verdere langtermynaansporing in te stel.

Verskeie ander maatskappye het ook die afgelope jare teenstand van aandeelhouers teen hul vergoedingsbeleid beleef, onder meer by Old Mutual en Absa.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Internet  |  E-Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.