Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Hommeltuie gaan Japanse werkers ‘huis toe dwing’
’n Japanse maatskappy beplan om van April volgende jaar kantoorgeboue met ’n hommeltuig te patrolleer en werkers wat laat werk met irriterende musiek huis toe te dwing. Foto: Unsplash

Buiten soesji, samoerai-swaarde en soemo-stoeiers, is Japan bekend om sy lang werkure.

In ’n poging om Japanse werkers te dwing om vroeër huis toe te gaan, het ’n plaaslike maatskappy ’n hommeltuig bekend gestel wat na-ure in kantoorgeboue gaan rondsweef en werkers met musiek gaan irriteer totdat hulle die kantoor verlaat.

Die sogenaamde T-Frend gaan bo werknemers wat laat probeer werk se kop draai en kliphard die liedjie “Auld Lang Syne” speel – ’n Skotse deuntjie wat wyd in Japanse winkelsentrums gespeel word om aan te dui die sentrum sluit.

Hierdie hommeltuie, wat deur die veiligheidsmaatskappy Taisei en die telekommunikasiereus NTT ontwikkel word, beskik ook oor ’n kamera wat werkers se gesig kan herken om gereelde “oortreders” te identifiseer.

Taisei, wat ook skoonmaakdienste aan groot kantoorgeboue oor Japan heen verskaf, beplan om sowat $4 500 (R61 500) per maand vir die diens te vra. Hy beplan om die toestel teen April te begin toets.

“Jy kan nie regtig (ná ure) werk as jy dink die hommeltuig kan enige oomblik na jou toe sweef nie,” sê die maatskappy se direkteur, Norihiro Kato.

Die hommeltuig is ontwerp om elke aand van sy lanseerplatform op te styg en ’n geprogrammeerde roete te volg. Dit keer self terug na sy platform sodra sy inspeksie afgehandel is.

Die karosji-probleem

Ondanks die gevorderde tegnologie meen kenners dat die oorsprong van die probleem steeds nie gepak word nie.

“Selfs al word werknemers deur ’n robot geteister om huis toe te gaan, sal hulle steeds opdragte wat nie klaar is nie huis toe neem en verder daaraan werk,” sê Scott North, professor in sosiologie, aan die BBC. “Om lang werkure te verminder is dit nodig om die werklading te verlaag, onnodige take uit te skakel of meer werknemers aan te stel.”

Duisende Japanners sterf jaarliks omdat hulle oorwerk is. Die probleem is so erg dat die land sy eie woord geskep het vir mense wat weens te veel werk sterf: karosji.

Die meeste mense sterf aan beroertes, hartaanvalle of selfdood wat deur depressie veroorsaak is.

Ná die veelbesproke selfdood van Matsuri Takahashi, ’n belowende jong vrou wat van ’n gebou afgespring het nege maande nadat sy by een van Japan se mees gesogte advertensieagentskappe begin werk het, het die regering probeer ingryp. Die sogenaamde Premium Friday-program het maatskappye versoek om hul werkers elke laaste Vrydag van die maand vroeg huis toe te stuur.

Die veldtog het misluk toe maatskappye sê die laaste Vrydag van die maand is juis hul besigste dag.

Intussen het ’n studie bevind die meeste Japanse werkers werk meer as 80 uur oortyd per maand en werk gemiddeld 49 uur per week. Die meerderheid karosji-slagoffers was tussen 30 en 50 jaar oud.


Bronne: Fin24, The Verge, Reuters, The Japanese Times

Meer oor:  Tokyo  |  Japan  |  Tegnologie  |  Hommeltuie  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.