Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Honderde MTN-torings dalk geskrap

MTN gaan dalk gedwing word om honderde van sy selfoontorings af te skakel omdat buitensporige diefstal en vandalisme herstelwerk onmoontlik maak.

In ’n verklaring Donderdag sê die selfoonnetwerkoperateur die gevalle van vandalisme raak nou so ernstig dat torings regoor die land waarskynlik permanent afgeskakel sal moet word. Dit sal die gehalte van die nasionale selfoonnetwerk beduidend verminder, sê MTN.

Daar is 89 torings buite werking terwyl hulle wag op nuwe batterye en ander herstelwerk ná gevalle van diefstal en vandalisme.

“Maar nog erger is dat 53 basisstasies heeltemal verwoes is en reeds afgeskryf moes word.”

Uit die jongste syfer van 53 is 39 in Pretoria en 15 in Johannesburg.

MTN sê dié verwikkelinge kan begin om ’n ernstige uitwerking op die ekonomie te hê, want daar is geen einde in sig.

Ernest Paul, hoofbestuurder vir netwerkbedrywighede van MTN, sê landsburgers moet begryp die skaal van misdaad kan groot gevolge vir hulle inhou.

 selfoontoring
MTN se selfoontorings word so erg gevandaliseer en besteel dat dit die selfoondekking nasionaal kan raak. Foto: Unsplash

Die skade kan beteken daar is geen netwerktoegang in ’n radius van 2 km tot 15 km nie, wat meer as 20 000 mense kan raak. Dit verhoed in baie gevalle toegang tot nooddienste.

MTN doen dus ’n beroep op Suid-Afrikaners om saam te staan teen die grootskaalse aanval op uiters belangrike infrastruktuur. “Dit is ’n nasionale probleem,” sê Paul.

Dit kos MTN sowat R350 miljoen om torings te herstel wat erg beskadig is maar nog gered kan word, maar binnekort sal dié koste oorgedra moet word aan gebruikers as die probleem nie stop nie.

MTN sê hy probeer alles om skade aan sy torings te verhoed, en bied groot finansiële belonings aan vir enige iemand wat inligting verskaf wat tot inhegtenisnemings lei.

Paul verduidelik dat weens die aard van die skade wat deur vandalisme en diefstal aangerig word, kan die torings nie verseker word nie.

In die laaste week het ’n grootskaalse veldtog saam met die polisie daartoe gelei dat R1 miljoen se gesteelde batterye teruggevind is.

In Midrand was nog so ’n veldtog suksesvol, en MTN sê sonder inligting van die publiek sou dit nie moontlik wees nie.

Maar totdat meer mense help is die waarde van wat verhaal word teenoor wat gesteel en vernietig word te klein.

Om inligting oor diefstal van batterye of vandalisme van torings aan te meld, gebruik die volgende kontakbesonderhede:

  • Bidvest Protea Coin 086 101 1721
  • @MTNza Bedrog 083 123 7867
  • Of stuur ’n epos na anonymous@tipoffs.com
Meer oor:  Mtn  |  Selfoontorings  |  Vandalisme  |  Selfoonnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.