Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Hou jou selfoon-rekening dop vir dié bedrog

’n Onlangse hofsaak het ’n onrusbarende tendens van bedrog met selfoonopgraderings aan die lig gebring.

Verbruikers is in ’n moeilike posisie omdat selfoondiensverskaffers van hulle verwag om die bedrog agter te kom. Boonop help dit nie om polisie toe te gaan as jy nie weet wie die skelms is wat jou ingeloop het nie.

Die niksvermoedende selfoongebruiker se kontrak word deur skelms opgegradeer, maar hy betaal die opgraderingskoste terwyl hulle met die nuwe selfoon verkas.

Vodacom erken in hofstukke wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is dat hy dié probleem het. Die bedrieërs doen dit om ’n nuwe selfoon te kry.

Maar die diensverskaffer meen hy doen alles moontlik om sulke onreg en ongerief teenoor sy klante te herstel.

Netshikweta Mashudu, ’n sakeman wat ’n vervoeronderneming in Polokwane het, het hom egter so gewip dat hy Vodacom hooggeregshof toe gesleep het.

Die saak is die afgelope maand geskik toe Vodacom Ma­shudu gepaai het deur te wys hulle het hom elke sent terugbetaal.

Mashudu het in hofstukke gesê hy het in Mei 2018 ’n SMS van Vodacom gekry dat die betaling van sy selfoonrekening “ernstig agterstallig” was. Hy was verras daaroor en het Vodacom gebel.

Vodacom het toe gesê die agterstallige skuld is veroorsaak deur ’n kontrak-opgradering wat by ’n Vodashop in Durban gedoen is. ’n Nuwe Samsung S9-foon is vir die opgradering uitgereik.

Mashudu sê hy was nog nooit in sy lewe in Durban nie. Maar die nuwe foon is onder sy naam in Durban bekom.

Vodacom het hom aangesê om ’n beëdigde verklaring oor die dispuut te verskaf, asook ’n afskrif van sy ID en drie handtekeninge deur hom.

Mashudu sê hy het dit op 29 Mei 2018 per e-pos aan hulle verskaf, maar nie reaksie gekry nie. Hy het in Junie 2018 ’n tweede e-pos gestuur en gesê hy sal hulle hof toe vat as hulle nie die probleem oplos nie. Daarna het Vodacom gesê die saak word ondersoek.

Yolande Nel van Vodacom se kantoor vir klante-betrekkinge in Midrand sê in hofstukke die bedrieërs het Mashudu se selfoonkontrak laat opgradeer tot die heelwat duurder Flexi 200-pakket.

Dit het meegebring dat Vodacom oor drie maande hoër tariewe van Mashudu gehef en dit van sy bankrekening afgetrek het. Hy was dus nooit agterstallig met die betaling nie.

Die oomblik toe hy die bedrog aangemeld het, het hul forensiese ondersoek begin en dit is in Augustus 2018 afgehandel. Einde Augustus is Mashudu se geld terugbetaal.

Hy het uiteindelik ook nie betaal vir die nuwe foon ter waarde van R9 655 nie.

Mashudu sou uit ’n basiese oorsig oor sy selfoonrekeningstate kon sien dat hy terugbetaal is, sê sy. Vodacom het ook die bedrieglike opgradering gekanselleer.

Mashudu het die ekstreme stap gedoen om hof toe te gaan, maar internetforums wys hy is beslis nie die enigste een wat sukkel nie.

Wenke
  • Vermy dit om enige twyfelagtige apps op jou foon af te laai.
  • Kyk uit vir ongewone aktiwiteite op jou maandelikse rekening.
  • Verwyder opsies vir internasionale oproepe en swerfopsies as jy dit nie nodig het nie. 

’n Prokureur wat spesialiseer in verbruikersreg, het aan Rapport gesê verbruikers is in ’n moeilike posisie omdat selfoondiensverskaffers van hulle verwag om die bedrog agter te kom. Boonop help dit nie om polisie toe te gaan as jy nie weet wie die skelms is wat jou ingeloop het nie, sê hy.

Die prokureur meen Vodacom behoort deegliker te kyk wie die persoon is wat die opgradering doen.

“ ’n Handelaar gaan tog nie ’n kar diens as hy nie weet wie se kar dit is nie.”

Verskeie mense se klagtes verskyn op Vodacom se webtuiste oor opgraderingsbedrog. Een klant het in sy boodskap aan Vodacom gesê hy is geskok dat so iets kan gebeur en dat sy regte aangetas is.

Vodacom vra kliënte om die volgende stappe te volg indien hulle bedrieg word:

1. Om die bedrogsaak vinnig op te los, moet dit korrek aangemeld word. ’n Bedrog-dispuutproses moet eers aangemeld word. Dit sal binne sewe tot 14 werksdae afgehandel word as al die nodige dokumente voltooi en ingedien word.

2. Die dokumente moet na FraudDisputes@vodacom.co.za gestuur word.

3. Die dokumente sluit in: 

  • Die voltooide vorm genaamd “Existing Vodacom Customer – Fraud Dispute Declaration”;
  • ’n Afskrif van jou ID; en
  • Drie voorbeelde van jou duidelik sigbare handtekening.

4. Nadat die bedrog per e-pos aangemeld is, sal Vodacom ’n verwysingsnommer na jou e-pos.

5. Vodacom sê hy sal jou kontak om ontvangs van jou klag te erken. Hy kan ook ekstra inligting vra as dit nodig is.

6. Die saak word aan ’n ondersoeker gegee.

7 . Terwyl die ondersoeker daaraan werk, sal die kliëntehulpdiens, winkels en sosialemedia-agente jou nie met die saak kan help nie.

8. As die ondersoeker bevind daar was inderdaad bedrog, ontvang jy ’n SMS en binne vyf werksdae word jou rekening reggestel.

9. Vodacom sê hy probeer om jou deurentyd ingelig te hou, maar as jy dalk nie binne 14 dae van hulle hoor nie, moet jy ’n e-pos na fdp@vodacom.co.za met jou verwysingsnommer stuur.

Meer oor:  Bedrog  |  Opgradering  |  Slimfone  |  Selfoonmaatskappye  |  Tegnologie  |  Selfone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.