Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei ‘baie gevaarlik’, meen Trump

Pres. Donald Trump van Amerika het Donderdag die Chinese tegnologievervaardiger Huawei as “iets wat baie gevaarlik is” beskryf.

Trump het joernaliste ná ’n gesprek met landbouleiers by die Withuis toegespreek.

Toe ’n joernalis Trump vra om kommentaar oor die Huawei-sage wat die afgelope week groot opslae maak, het hy verwys na die gevaar wat Huawei inhou, veral vir Amerikaanse veiligheid.

Trump het Huawei verlede week op ’n sogenaamde “swartlys” van maatskappye geplaas wat Amerikaanse ondernemings verbied om enigiets aan die Chinese maatskappy te verskaf sonder die regering se pertinente toestemming.

Dit verbied effektief maatskappye soos Google, Microsoft, Intel en Qualcomm om met Huawei sake te doen.

Die toekoms van die Android-bedryfstelsel, wat deur Google besit word, op Huawei-toestelle wêreldwyd is ook in gedrang.

“Huawei is iets wat baie gevaarlik is,” het Trump Donderdag gesê. “As jy vanuit ’n veiligheids- of militêre oogpunt kyk, is hy baie gevaarlik.”

Amerika se verbod op Huawei maak ook deel uit van ’n voortslepende handelsoorlog met China.

Veral Amerikaanse boere word swaar getref deur bykomende invoertariewe wat China op hul produkte hef in reaksie op bykomende tariewe wat Trump op Chinese produkte hef.

Amerika het onlangs tariewe op ’n bykomende $200 miljard se Chinese invoergoedere van 10% tot 25% verhoog nadat die twee lande nie tot ’n vergelyk oor handel kon kom nie.

China het kort daarna teruggekap met hoër tariewe op nog $60 miljard se Amerikaanse produkte wat hy invoer.

Donald Trump
Volgens pres. Donald Trump van Amerika is Huawei “baie gevaarlik”. Foto: Getty Images

Trump het Donderdag daarop gesinspeel dat Huawei in die toekoms moontlik deel van ’n handelsooreenkoms kan uitmaak.

Die verbod raak nie net Huawei nie, maar ook die Amerikaanse ondernemings wat tot dusver dienste en produkte aan Huawei gelewer het.

Kenners waarsku Trump se bevel kan tussen 18 000 en 74 000 Amerikaanse werkgeleenthede bedreig. Amerikaanse maatskappye kan tussen $14,1 miljard en $53,3 miljard se verkope-inkomste oor die volgende vyf jaar verloor as die kwessie nie opgelos word nie.

Daar heers veral verwarring oor die omvang van die Amerikaanse verbod op Huawei se vermoë om produkte aan ander lande, veral in Europa en Afrika, te lewer.

Tans word buitelandse maatskappye ook belet om met Huawei sake te doen as die produk of diens wat hulle bied op Amerikaanse tegnologie gegrond is. Derhalwe moes die Britse maatskappy ARM, wat mikroskyfies geskoei op ’n Amerikaanse ontwerp aan Huawei verskaf, ook bande met die slimfoonvervaardiger sny.

Huawei-produkte word wel geruime tyd reeds nie in Amerika verkoop nie, en staatsamptenare is ook belet om enige Huawei-toerusting in die uitvoer van hul werk te gebruik.

Huawei ontken die bewerings ten sterkste dat hy namens die Chinese regering op gebruikers spioeneer.

Meer oor:  Huawei  |  Donald Trump  |  China  |  Slimfoon  |  Selfoonmaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.