Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei bevestig einde van Google-diens op sy fone

Nuwe Huawei-toestelle gaan nie meer Google se Mobile Services-diens bevat nie, het die maatskappy bevestig.

In stede daarvan gaan dit eerder met Huawei se eie diens, Huawei Mobile Services (HMS), toegerus wees.

Dit beteken toekomstige Huawei-fone sal nie toegang hê tot enige van Google se apps of die Google Play-winkel nie.

In plaas daarvan sal gebruikers apps uit Huawei se eie winkel moet aflaai.

Die maatskappy het $1 miljard bewillig om programmeerders aan te spoor om apps vir sy eie winkel te skryf.

Huawei het verlede maand sy eerste sogenaamde ontwikkelaarsdag in Suid-Afrika gehou en programmeerders uit alle oorde genooi om deel te neem.

Huawei het die geleentheid gebruik om programmeerders te wys hoe eenvoudig dit is om apps vir sy winkel te skryf.

Sy nuwe fone sal wel die bekende Android-bedryfstelsel bevat.

Huawei se stryd met die Amerikaanse regering hou wêreldwyd gevolge vir sy gebruikers in. Foto: Getty Images

Waarom die skuif na HMS?

Hoewel Huawei dit nie noodwendig sal erken nie, is die skuif na HMS ’n gevolg van die Amerikaanse handelsdepartement se verbod wat maak dat maatskappye soos Google nie meer met Huawei mag sake doen nie.

Pres. Donald Trump het dié verbod aanvanklik in Mei aangekondig.

Dit het ontwrigting geskep in watter programmatuur Huawei op sy toestelle kan insluit, aangesien hy ’n lisensie daarvoor moet bekom.

Siende dat Google ’n Amerikaanse onderneming is, kan Huawei by regte nie meer ’n lisensie bekom vir sy apps en dienste nie.

As oplossing het Huawei begin om sy eie aanbod apps te vermeerder.

Sy slimfone kan wel steeds die Android-bedryfstelsel bevat, al word dit ook deur Google besit.

Dis omrede daar ’n gratis weergawe van Android is wat enigiemand kan gebruik sonder om ’n lisensie te bekom.

“Ons wil seker maak dat gebruikers ’n bekende ervaring het as hulle ons slimfone gebruik,” sê Likun Zhao, visepresident van Huawei se verbruikersgroep in Afrika en die Midde-Ooste.

Volgens Zhao werk Huawei reeds “geruime tyd” aan HMS en is die diens uiteindelik gereed om by al sy nuwe toestelle ingesluit te word.

HMS is ook deel van Huawei se planne om sy eie ekostelsel van apps en toestelle te skep, soortgelyk aan wat Apple reeds etlike jare doen.

Raak dit bestaande Huawei-fone?

Nee, die skuif raak geen van Huawei se bestaande slimfone wat reeds in omgang is nie.

As jy jou Huawei gekoop het voordat die Amerikaanse verbod begin geld het, het jy toegang tot al Google se apps en dienste.

Jou toegang gaan ook nie opgeskort word nie, en jy sal steeds die jongste bywerkings van die Android-bedryfstelsel ontvang, het Huawei vroeër aan Netwerk24 bevestig.

Huawei beplan om vroeg aanstaande jaar sy nuwe vlagskipfoon, die P40, bekend te stel.

Meer oor:  Google  |  Huawei  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Verbod  |  Apps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.