Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei-debakel: Wat jy moet weet

Meng Wanzhou, dogter van die stigter van die Chinese tegnologiereus Hauwei, is Saterdag in Vancouver, Kanada, in hegtenis geneem.

Meng, wat ook as Sabrina Meng en Cathy Meng bekend staan, is Huawei se finansiële hoof en ondervoorsitter. Sy sal waarskynlik aan Amerika uitgelewer word om tereg te staan op onbekende aanklagte teen haar.

Dit is wel bekend dat Amerika en Huawei nie om dieselfde vuur sit nie.

Die Amerikaanse regering beskuldig Huawei onder meer van spioenasie en die oortreding van Amerikaanse sanksies teen Iran.

Nóg Kanada nóg Amerika wou sê waarom Meng Saterdag aangekeer is, maar die Chinese ambassade in Kanada dring daarop aan dat sy onmiddellik vrygelaat word.

Meng Wanzhou, een van vyf adj. voorsitters van Huawei. Foto: Bloomberg

Huawei sê in ’n verklaring hy het min inligting oor wat die aanklagte teen Meng behels.

Huawei is ’n betreklik bekende vervaardiger van slimfone en ander tegnologie in Suid-Afrika, China en dele van Europa, maar in Amerika, Australië en Nieu-Seeland is hy net bekend om al die verkeerde redes.

Huawei het in Augustus Apple verbygesteek as die wêreld se grootste vervaardiger van slimfone naas Samsung, het Netwerk24 vroeër berig.

Terselfdertyd het baie lande die maatskappy verbied om tegnologie te verskaf vir die uitbreiding van 5G-netwerke, juis weens vrese dat Huawei namens die Chinese regering op hul burgers gaan spioeneer.

Watter lande het die mes in vir Huawei?

Australië sowel as Nieu-Seeland het onlangs ’n verbod geplaas op enige toerusting wat deur Huawei vervaardig word in die uitbreiding van 5G-selfoonnetwerke daar.

Huawei wou hiervoor tender, maar is in Augustus deur die Australiese regering verbied, berig The Guardian.

Nieu-Seeland het soortgelyke stappe gedoen in November, ook weens kommer oor sekerheidskwessies.

Reguleerders in Amerika het reeds in April die gebruik van enige Huawei-produkte, insluitend Wi-Fi-herleiers en slimfone, deur enige lid van die weermag verbied.

Huawei is een van China se grootste vervaardigers van slimfone. Foto: Reuters

Hierdie verbod geld spesifiek as die soldaat op ’n weermagbasis is. Weermaglede mag steeds Huawei-fone in hul private hoedanigheid gebruik, hoewel dié fone uiters skaars is in Amerika omdat geen van die groot diensverskaffers daar dit verkoop nie.

Amerika het ook sy bondgenote gevra om nie toerusting van Huawei in regeringsgeboue te installeer nie.

Japan het ook onlangs besluit om nie Huawei-produkte op sy selfoonnetwerk te gebruik nie.

Daar is wel nog geen algehele verbod op die gebruik van Huawei se slimfone in enige land nie, buiten op weermagbasisse in Amerika.

Wat sê Huawei oor die bewerings?

Huawei hou voet by stuk dat hy ’n private maatskappy is met geen bande met die Chinese regering nie.

Eric Xu, die maatskappy se huidige voorsitter, het in Junie nie doekies omgedraai toe hy teruggekap het na Amerikaanse kongreslede wat Huawei van spioenasie beskuldig het nie.

Hy het die kongreslede as “kortsigtig en oningelig” beskryf en gesê hulle toon nie net “onkunde van hoe wetenskap en innovering vandag werk nie, maar ook hul eie gebrek aan selfvertroue”.

Huawei het al herhaaldelik alle aantygings ontken dat sy toerusting vir spioenasie gebruik word.

Hoe pas Meng in die prentjie in?

   

Dit is nog onduidelik. Luidens ’n berig in The New York Times het Amerika die maatskappy gedagvaar om te getuig oor beweerde oortredings van die land se sanksies teen Iran en moontlik ook Noord-Korea.

Amerika het ’n verbod op die uitvoer van produkte wat in Amerika vervaardig is na Iran, berig Reuters.

Owerhede vermoed Huawei het hierdie verbod oortree; dit is nog onbekend watter tegnologieprodukte die maatskappy na bewering uitgevoer het.

Meng se inhegtenisname kan verdere druk plaas op die betrekkinge tussen die VSA en China.

Bykomende bronne: Reuters, BBC, Mashable

Meer oor:  Huawei  |  Meng Wanzhou  |  Slimfoon  |  Tegnologie  |  Spioenasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.