Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei: Dié apps werk, en dié werk nie, op nuwe fone

Dis reeds byna ’n jaar sedert die Amerikaanse handelsdepartement maatskappye daar vir alle praktiese doeleindes verbied het om met Huawei sake te doen. Sedertdien heers daar heelwat onsekerheid oor watter apps op toekomstige Huawei-fone sal werk en watter nie.

Gebruikers raadpleeg ’n kaart op ’n Huawei-foon. Foto: Unsplash

   

Wat bly en wat gly op nuwe Huawei’s?

   

In ’n neutedop het nuwe Huawei-fone toegang tot Google se produkte en dienste verloor. As gevolg van die verbod verloor Huawei toegang tot Google se Mobile Services (GMS). GMS is egter nie dieselfde as die Android-bedryfstel nie.

Hoewel Android deur Google besit en bedryf word, is ’n gratis weergawe daarvan beskikbaar en sal daardie weergawe voortaan op Huawei-fone geïnstalleer wees.

Huawei se nuwe fone sal dus van Android kan gebruik maak.

Slimfoonvervaardigers benodig egter ’n lisensie om GMS op toestelle te installeer en Google mag kragtens die verbod nie die lisensie vir GMS aan Huawei verkoop nie.

Dit beteken Huawei se fone sal voortaan nie toegang hê tot Google se produkte en dienste nie.

   

Wat het Huawei daaraan gedoen?

   

As teenvoeter vir die verbod het Huawei sy eie Mobile Services (HMS) ontwikkel.

HMS is nie ’n bedryfstelsel nie. Dit bied eerder ’n platform vir apps om op ’n Huawei-foon te kan funksioneer. Dit is byvoorbeeld ook nodig op ’n Samsung-foon om Huawei se Health-app te gebruik om met ’n Huawei-slimhorlosie te verbind.

Alle Huawei-toestelle, oud en nuut, bevat dit reeds. Huawei-fone wat vanaf 2020 uitgereik word, insluitend die Mate 30-reeks, die Y7P, die P40 en P40 Pro, sal net HMS bevat. Bestaande Huawei-fone bevat sowel GMS as HSM.

   

Hoe raak dit my?

   

As jy reeds ’n Huawei-foon besit, word jy geensins deur enige van die veranderinge of die Amerikaanse verbod geraak nie. Jou foon sal soos gewoonlik funksioneer tot die dag waarop dit om welke rede ook al nie meer wil aanskakel nie. Jy sal toegang tot al Google se apps en dienste behou en kortom geen verskil in funksionaliteit sien nie.

As jy egter beplan om die nuwe Huawei P40 of Y7P later vanjaar aan te skaf, sal jy ’n paar aanpassings moet maak.

Maak eerstens vrede met die feit dat Google se Play-winkel nêrens te vinde sal wees nie. Ook nie Google se gewildste apps soos Gmail, Chrome, Docs, Drive, Play Music, Maps, YouTube of YouTube Music nie.

Al dié apps benodig GMS om te kan funksioneer en sal met ander woorde nie eens geïnstalleer kan word op ’n nuwe Huawei nie.

In plaas van Google se Play-winkel sal gebruikers toegang hê tot Huawei se AppGallery waarvandaan apps wat spesiaal aangepas is vir HMS, afgelaai kan word.

   

So my (ander) gunstelingapps verdwyn nie?

   

Nee. Gewilde apps soos Facebook, Twitter, Messenger, Spotify, Takealot, TikTok, EskomSePush en vele meer werk soos altyd. Jy laai dit doodeenvoudig uit die AppGallery af en installeer soos gebruiklik.

Altesame 85% van apps wat tans in die Google Play-winkel beskikbaar is, benodig nie GMS om te funksioneer nie.

Onthou: As jy reeds ’n Huawei-foon besit, word jy geensins deur enige van die veranderinge of die Amerikaanse verbod geraak nie.

Volgens Akhram Mohamed, tegnologiehoof van Huawei in Suid-Afrika, beteken dit al dié apps sal sonder enige kopseer op ’n nuwe Huawei-foon werk waarop GMS nie beskikbaar is nie.

Sowat 10% benodig “sommige funksies van GMS” om te kan funksioneer terwyl 5% nie daarsonder kan klaarkom nie, sê Mohamed.

Van die apps wat sommige GMS-funksies benodig, sluit in Uber, Bolt en ander apps wat gebruikers se ligging benodig. Hierdie apps is geïntegreer met Google se Maps-diens en daarsonder kan dit nie in die app gebruikers se ligging bepaal nie.

Huawei is tans in gesprek met Uber om sy app volkome by HMS te integreer sodat die app van Huawei se funksionaliteit gebruik kan maak.

Bolt behoort teen einde Maart volmaak op ’n nuwe Huawei te werk, sê Mohamed.

WhatsApp en Instagram werk met net HMS, maar sekere funksies ontbreek. Dit sluit in die vermoë om rugsteunkopieë van gesprekke na Google Drive te maak of om Google te gebruik om by Instagram aan te meld.

As jy dus van ’n Samsung-foon af na ’n Huawei-foon oorskakel, sal jy nie jou ou WhatsApp-gesprekke van Google Drive af kan aflaai in die app nie. As jou nuwe Huawei-foon wegraak of gesteel word, sal jy ook al jou gesprekke kwyt wees tensy jy met die hand rugsteunkopieë daarvan op Huawei se eie wolkdiens geberg het.

   

huawei

Wat lol nog?

   

Volgens Mohamed bied Huawei reeds alternatiewe vir die meeste van Google se gewildste apps, maar dit is in baie gevalle nodig om apps van derde partye af te laai om dit te kan gebruik.

Gmail kan byvoorbeeld nie as ’n afsonderlike app afgelaai word nie, maar kan in Huawei se ingeboude e-posbediener gelaai word.

YouTube is nie beskikbaar nie, maar wel YouTube Vanced, ’n app wat ’n ander toevoeging (microG) benodig om te kan werk. Jy kan natuurlik ook YouTube in die foon se webblaaier besoek, waar dit normaal funksioneer.

Maps, Google Drive, Gmail en basies al Google se ander dienste is steeds in ’n webblaaier beskikbaar en net nie as ’n afsonderlike app nie.

’n Spesifieke weergawe van die Netflix-app werk reeds op HMS, maar dit laat jou nie toe om flieks of reekse af te laai nie. Dieselfde geld vir Showmax wat geïnstalleer kan word, maar nog nie funksioneer nie omdat dit nie volkome met HMS geïntegreer is nie.

Net om dit weer te bevestig: Hierdie veranderinge raak net nuwe Huawei-modelle wat voortaan uitgereik word. ’n Nuwe P30 Pro wat nou by ’n handelaar aangeskaf word, sal steeds toegang tot al Google se dienste hê.

Die Amerikaanse verbod het geen uitwerking op enige Huawei-foon wat voor Mei 2019 in produksie was nie.

Meer oor:  Google  |  Huawei  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.