Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei het nog ‘genoeg’ skyfies, maar ...

Huawei sê hy het nog “genoeg” skyfies vir sy slimfone in voorraad terwyl hy soek na ’n nuwe verskaffer noudat sy toegang tot Amerikaanse verskaffers deur pres. Donald Trump se verbod afgesny is.

Die maatskappy het genoeg voorraad om sy bedrywighede aan die gang te hou, en ontwikkel nou ook nuwe toestelle om die invloed op sy afdeling vir slimfone teen te werk, sê Guo Ping, voorsitter van Huawei.

Hy evalueer nog die invloed van die Amerikaanse verbod, wat basies Huawei se toegang tot Amerikaanse tegnologie heeltemal afgesny het. Volgens Guo is Huawei steeds gewillig om met hierdie maatskappye sake te doen sou dit weer toegelaat word.

Amerikaanse tegnologiemaatskappye mag sedert verlede week nie meer toerusting aan Huawei verskaf nie. Dit het die maatskappy se toegang tot noodsaaklike onderdele soos rekenaarskyfies, halfgeleiers en programmatuur vir sy slimfone en 5G-toerusting afgesny.

Sommige van Huawei se verskaffers, insluitende Qualcomm, het reeds aansoek gedoen by die Amerikaanse handelsdepartement om steeds met Huawei te mag sake doen.

Die nodige permit is nog nie uitgereik nie en dit is ook nie duidelik of dit wel uitgereik sal word nie.

Huawei sê hy het nog genoeg skyfies om slimfone vervaardig, maar hy soek nog na ’n nuwe verskaffer. Foto: Reuters

Huawei staan sentraal in die voortslepende handelstwis tussen Amerika en China.

“Die verbod veroorsaak geweldige probleme met produksie,” het Guo ook gesê.

Huawei beplan om sy voorsieningsketting te ondersteun so ver hy kan op gebiede soos die soektog na nuwe talent en die oprigting van tegnologie om die negatiewe invloed van die beperkings teen te werk.

Huawei is ook elders onder beleg. Japan en Australië het hulle by die Amerikaanse verbod aangesluit terwyl Brittanje die gebruik van Hauwei-toerusting deur diensverskaffers daar van volgende jaar af verbied.

Meng Wanzhou, Huawei se finansiële hoof, is steeds in huisarres in Kanada en beveg ’n uitleweringsversoek na Amerika waar sy daarvan aangekla word dat sy sanksies teen Iran oortree het.

Huawei se inkomste het in die eerste helfte van die jaar met 13% tot $67 miljard gestyg ten spyte van die uitdagings.

Sy wins in dieselde tydperk is eweneens 20% hoër as ’n jaar gelede.

Sy bedryfsafdeling vir dienste soos wolkberging, Wi-Fi-herleiers en ander IT-dienste, het in die tydperk onder oorsig minder as 10% tot sy inkomste bygedra.

Meer as die helfte van Huawei se inkomste is afkomstig van sy kommersiële bedrywighede, insluitende die verkoop van slimfone.

Dit is juis hierdie afdeling wat nou deur die Amerikaanse verbod bedreig word.

Richard Yu, hoof van Huawei se afdeling vir kommersiële bedrywighede, het vroeër vandeesmaand erken die verbod op die aankoop van skyfies van Amerika het Huawei se vermoë om slimfone te verkoop, beïnvloed.

105 miljoen nuwe toestelle is in die eerste ses maande van 2020 verskeep, teenoor 240 miljoen in dieselfde tydperk verlede jaar.

Guo het Woensdag in ’n gesprek met joernaliste in Sjanghai, China, daarop gesinspeel dat Huawei se situasie dalk kan verbeter ná die Amerikaanse verkiesing in November.

“Soos (die Franse skrywer) Alexandre Dumas gesê het: ‘Alle menslike wysheid word saamgevat in hierdie twee woorde: wag en hoop’.

“Om te oorleef, is die belangrikste,” meen Guo.

Meer oor:  Huawei  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Skyfies  |  Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.