Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei Nova 5T: Progressief, vinnig – met Google
Huawei se nuwe Nova 5T kos sowat R12 000.Foto: Petrus Malherbe

Groot was my verbasing toe ek hoor Huawei reik laat in die jaar nog ’n nuwe slimfoon uit.

Nadat die Chinese tegnologievervaardiger einde September sy nuwe vlagskipfoon, die Mate 30 en die Mate 30 Pro, bekend gestel het, het ek aangeneem dit is die laaste nuwe produk van Huawei vir die jaar.

Inderdaad nie.

Die Nova 5T is een van Huawei se meer progressiewe slimfone.

Dit is bekostigbaarder as die nuwe iPhone, Samsung of selfs Huawei se eie P30 Pro, maar bied soortgelyke skitterende funksies.

Op die oog af is die Nova 5T byna op ’n haar na dieselfde as die Honor 20, ’n toestel wat vroeër vanjaar uitgereik is, maar nie in Suid-Afrika nie.

Honor is ’n filiaal van Huawei en die twee toestelle deel inderdaad baie van dieselfde tegnologie.

Wat maak die Nova 5T lekker?

Die Nova 5T is pragtig ontwerp en pas perfek in die palm van jou hand. Die ruim skerm van 15,9 cm is meer as groot genoeg om enige Netflix-reeks te geniet, maar nie te groot dat dit voel of dit uit jou hand wil val as jy ’n boodskap tik nie.

Die foon het wel nie ’n gevorderde OLED-skerm nie, maar die LCD-skerm vertoon nietemin uitstekend, selfs in direkte sonlig.

Van voor af bekyk lyk die Nova 5T baie soortgelyk aan Samsung se Galaxy S10, hoewel die selfiekamera in ’n ander hoek geleë is.

Huawei het weer ’n hele reeks interessante kleure vir die Nova 5T gekies, van gitswart tot pers en blou.

Die foon se vingerafdrukskandeerder werk ook lekker vinnig, en is ideaal geleë aan die kant van die toestel eerder as onder die skerm of agterop soos die geval met meeste nuwe slimfone.

Die foon self is natuurlik ook ’n vinnige Fanie danksy Huawei se gevorderde Kirin 980-skyfie. Dit is dieselfde skyfie as in die P30 Pro.

Apps vlieg oop en dit voel asof daar nie eens vir ’n sekonde gedink word as jy tussen apps rondbeweeg nie.

Die foon is natuurlik ’n droom vir liefhebbers van videospeletjies.

Die Nova 5T het vier lense agterop en een voor. Foto: Petrus Malherbe

So hoe’s daai kamera?

Die Nova 5T het vyf kameralense: een aan die voorkant en vier agter.

Die P30 Pro het ook vyf lense, maar daardie toestel se lense word deur Leica vervaardig, wat nie die geval is met die Nova 5T nie.

Tog staan die Nova 5T nie terug vir sy grootboet wat betref die gehalte van foto’s nie – tot op ’n punt.

Onder gewone omstandighede sal enigeen tevrede wees met die gehalte van die kiekies wat die Nova 5T kan neem.

In helder sonlig vertoon foto’s glashelder, maar jy kan tog sien die Nova 5T werk hard op die agtergrond om die foto met sy ingeboude programmatuur te verbeter.

Die Nova 5T kan lekker nabyskote neem, maar die fokus sukkel soms ’n bietjie.

Nagskote is eweneens ’n tameletjie omdat die kamera nie noodwendig sy verstellings outomaties by die omstandighede aanpas nie.

Maar sodra jy die kamera se funksionaliteit onder die knie kry, skort daar min met wat jy met die Nova 5T kan vermag.

Hoe lank hou sy battery?

Een van die belangrikste aspekte waarna voornemende kopers deesdae kyk, is hoe lank ’n foon se battery hou.

Wel, die Nova 5T s’n hou lank genoeg, maar dis niks om oor huis toe te skryf nie.

Die foon is toegerus met ’n battery van 3 750 mAh. Die P30 Pro het ’n battery van 4 200 mAh. Bygesê, die prysverskil tussen die twee fone is hemelsbreed (dalk nou bietjie minder as voorheen), so ’n mens kan nie dieselfde batterylewe van die Nova 5T as die P30 Pro verwag nie.

Hoewel die kamera nie so goed is soos die P30 Pro s’n nie, neem dit skaflike foto’s. Foto: Petrus Malherbe

Kortom sal die Nova 5T jou nie in die steek laat en vroegaand reeds doodgaan nie. Die battery hou beslis ’n hele dag lank en dalk nog ’n bietjie, maar hou maar die herlaaier na aan jou bed.

Iets anders wat ek moet weet?

Die Nova 5T het wel Android en al Google se apps, insluitend Maps en die Google Play-winkel.

Die foon is aangekondig voor die Amerikaanse handelsdepartement se verbod teen Huawei, so daarom het dit steeds hierdie apps.

Die foon word wel volgeprop met onnodige apps wat jy nie noodwendig self sou aflaai nie, insluitend AliExpress en Booking.com.

Die Nova 5T kos sowat R12 000 kontant en is ook op kontrak beskikbaar by al die diensverskaffers vir sowat R600 per maand.

Meer oor:  Huawei  |  Nova 5T  |  Slimfoon  |  Tegnologie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.