Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei oortuig sý fone is die heel beste
Die nuwe Huawei Mate 20 Pro. Foto: Petrus Malherbe

Huawei het Dinsdagaand sy nuwe vlagskipfoon op ’n glansgeleentheid in Midrand, Johannesburg, bekend gestel.

En luidens dié Chinese tegnologievervaardiger kan Apple en Samsung maar gaan doppies blaas – die Mate 20 Pro is die beste foon nog.

Akhram Mohamed, Huawei se tegnologiehoof in Suid-Afrika, het ’n groot deel van sy uur lange toespraak gewy aan waarom die maatskappy se tegnologie kwansuis soveel beter as dié van Apple en Samsung is.

Deurgaans is vergelykings getref tussen die gehalte van foto’s en video’s wat geneem is met onderskeidelik die Mate 20 Pro, ’n Samsung Galaxy Note 9 (wat in Augustus bekend gestel is) en ’n iPhone XS Max (wat in September uitgereik is).

En Mohamed meen dis duidelik soos daglig dat Huawei die voortou neem, nie net wat betref die gehalte van sy foto’s nie, maar die Mate 20 se verwerkingspoed en die manier waarop dit kunsmatige intelligensie inspan.

Dit was egter nie duidelik hoe betroubaar Huawei se “objektiewe” bewyse is dat sy foon soveel beter is nie, omdat die omstandighede waaronder die foto’s wat vergelyk word, nie uitgestippel is nie.

Dean Cothill, ’n invloedryke fotograaf en ambassadeur vir Huawei, het op ’n voorlegging byvoorbeeld erken dat hy die foto’s wat hy met die Mate 20 geneem het, soos al sy ander foto’s, met programmatuur soos Lightroom “verbeter” het.

Dit is wel so dat die Mate 20 se kamera drie lense het teenoor die iPhone XS Max en Note 9 se twee.

Dit bestaan uit ’n wyehoeklens, wat ’n foto van 40 megapixels lewer, ’n ekstra-wyehoeklens wat 20 megapixels lewer, en ’n telefotolens wat 8 megapixels lewer.

Die Note 9 en XS Max het elkeen net twee lense van 12 megapixels elk.

Volgens Mohamed bied Samsung sowel as Apple ook baie min ten opsigte van vernuwing in sy nuwe produkte.

Huawei het deurgaans aangevoer dat sy fone beter as dié van Samsung en Apple is. Foto: Petrus Malherbe

In ’n gesprek met joernaliste ná afloop van die voorlegging het hy daarop gewys dat Apple se jongste fone sogenaamde “S”-modelle is, wat beteken dit “verskil skaars” van hul voorganger, verlede jaar se iPhone X.

“Ons is hier met ’n produk wat baie kragtig is, ’n klomp opwindende nuwe funksies en toepassings het, maar dit het boonop die regte prys,” sê hy.

Die Mate 20 Pro is van 1 November beskikbaar en sal na verwagting R18 999 kos, dieselfde prys as ’n Note 9.

Die goedkoopste iPhone XS Max kos R23 999.

“In vergelyking met al die ander toestelle wat tans op die mark is, is dit regtig nie moeilik om te sien waarom die Mate 20 Pro die regte keuse is nie,” sê Mohamed.

Nuwe slimhorlosie

Op dieselfde geleentheid het Huawei ook sy jongste slimhorlosie, die Huawei Watch GT, bekend gestel.

Dié horlosie en fiksheidsbandjie werk spesifiek saam met Huawei se ingeboude fiksheidsapp, Huawei Fit, en meet onder meer jou hartklop, aantal treë, en slaappatrone.

Dit kos R4 999 vir die sportweergawe en R5 499 vir die klassieke weergawe.

’n Verteenwoordiger van Huawei het egter bevestig dat Huawei Fit nog nie deur Discovery se Vitality-program aanvaar word as ’n erkende toestel om jou hartklop mee te meet en punte vir oefening te verdien nie.

Die Mate 20 Pro se kamera maak van kunsmatige intelligensie gebruik om foto’s te verbeter.Foto: Petrus Malherbe

Volgens hom is die maatskappy tans besig om met Vitality te onderhandel en sal dit na verwagting volgende jaar ’n ooreenkoms bereik.

Huawei Pay kom ook

Kort op die hakke van die bekendstelling van Samsung Pay het Mohamed bevestig dat Huawei Pay ook eersdaags na Suid-Afrika kom.

Dit werk op dieselfde beginsel as Samsung Pay en laat gebruikers toe om met hul selfone in winkels te betaal sonder dat ’n bankkaart enigsins naby hoef te wees.

Lees ook: Samsung Pay: Antwoorde op al jou vrae

Apple het ook ’n soortgelyke produk wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

Volgens Mohamed is Huawei nog besig met regulatoriese prosesse om Huawei Pay plaaslik bekend te stel en onderhandel ook met plaaslike banke.

Samsung het Samsung Pay in Augustus bekend gestel in samewerking met Absa en met Standard Bank wat later gevolg het.

Dit is tans net beskikbaar aan kliënte van dié banke wat ’n betreklik nuwe Samsung-foon, insluitend die Note 9, S9 en A8, het.

Mohamed sê Huawei sal Huawei Pay na verwagting vroeg volgende jaar bekend stel.

Meer oor:  Samsung  |  Apple  |  Huawei  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Selfone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.