Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei P30 Pro: Bonatuurlike kamera wat kan bel

As maatskappy is Huawei in omstredenheid gedompel met Amerika wat reeds ’n verbod op die invoer van sy toestelle geplaas het.

huawei
Die Huawei P30 Pro. Foto’s: Petrus Malherbe

Huawei word daarvan beskuldig dat hy namens die Chinese regering op gebruikers spioeneer – iets wat hy by herhaling ontken. Maar een ding is seker: sy slimfone se kameras is uitstekend.

Die P30 Pro is geen uitsondering nie.

Trouens, daar is geen ander slimfoon op die mark wat werklik met dié foon se kameras kan meeding nie. Dit is in ’n klas van sy eie.

Die P30 Pro het in totaal vier kameralense, uitgesluit ’n vyfde selfiekamera aan die voorkant.

Elkeen van die vier kameralense is boonop uniek.

Daar is ’n wyehoeklens van 40 MP, ’n 20 MP-lens vir landskaptonele en ’n 8 MP-telefotolens waarmee jy tot in jou buurman se kombuis kan inzoem.

Laastens is daar ook ’n klein ligsensor.

Saam neem hierdie vier lense die helderste, beste foto’s wat ek nog ooit met ’n slimfoon geneem het.

Dag of nag, sonskyn of reën: die P30 Pro se intelligente kamera pas aan by die omstandighede en neem die beste foto moontlik.

Natuurlik kan jy met die verstellings speel en dit aanpas volgens jou behoeftes. Maar as jy enigsins soos ek is, verkies jy ’n outomatiese modus wat die dinkwerk namens jou doen.

Afgesien van “gewone” foto’s neem, slaan die P30 Pro jou asem opnuut weg as jy die ingeboude zoem-funksie op die proef stel.

Hier is ’n standaardfoto vanuit my kantoorgebou in die Kaapse hawegebied. Dit is met die P30 Pro geneem.

huawei
Die P30 Pro neem uitstekende foto’s ongeag die omstandighede.

Hier is nog ’n foto vanaf presies dieselfde plek geneem, maar ek het ingezoem op die kabelkar se ontvangsarea bo-op Tafelberg.

huawei
Die foon kan ongelooflik ver inzoem.

Jy kan besonderhede uitmaak, soos die kabelkar wat in die gebou wag om passasiers op te laai. Die foto is boonop op ’n grou, bewolkte wintersdag geneem wat die sigbaarheid van die berg belemmer.

Nietemin slaag die foon se kamera daarin om besonderhede etlike kilometers ver vas te vang.

Die kamera werk net so goed in donker situasies. Dit pas ook outomaties aan vir enige gegewe situasie, wat beteken jy hoef nie in die verstellings te gaan rondkrap om seker te maak dit is in “night mode” voordat jy ’n foto in ’n nagklub neem nie.

Die klein ligsensor waarna ek vroeër verwys het absorbeer twee keer soveel lig as selfs die beste ander slimfoon wat beskikbaar is.

huawei
Nabyskote vertoon ook helder sonder veel inspanning van die fotograaf.

Dit beteken die P30 Pro se kamera kan dubbel soveel besonderhede bespeur as ’n soortgelyke toestel, insluitende die Samsung Galaxy S10+ wat ’n paar maande vroeër uitgereik is.

Afgesien hiervan gebruik die P30 Pro ook gevorderde kunsmatige intelligensie om foto’s verder te verbeter.

Daarom skitter foto’s geneem met dié foon behoorlik en vertoon dit boonop kristalhelder op die foon se ruim skerm van 16,4 cm.

Hoe is die res van die foon?

Uitgesluit die uitstekende kamera is die P30 Pro maar net nóg ’n gewone, luukse slimfoon.

Dit is ’n groot toestel, maar pas tog gemaklik in die palm van jou hand.

Die foon bestaan heeltemal uit glas, wat beteken dit kan draadloos herlaai word. Die agterkant bestaan ook uit interessante kleure wat wissel van seegroen tot diepblou en ook swart.

Maar glas is breekbaar en die P30 Pro voel of dit in ’n duisend stukkies gaan spat as dit net van die rusbank af op ’n teëlvloer sou val (ek het dit nie probeer nie).

Vingerafdrukke smeer ook orals af, wat beteken jy sal gereeld die foon aan jou broek wil afvee net om te kan sien wat presies op die skerm aangaan.

Daar is gelukkig geen keep boaan die skerm nie, wat beteken video’s (en ander inhoud) vertoon van hoek tot kant.

Nes Huawei se ander fone maak die P30 Pro gebruik van die maatskappy se eie EMUI-sagteware wat bo-op Android gebou is.

GOED OF SLEG?

Positiewe eienskappe:

Ongeëwenaarde kamera

Kristalhelder skerm

Lang batterylewe

Negatiewe eienskappe:

Swak klank

Toekomstige gebruik van Android in die gedrang.

Verwerker nie heeltemal so goed soos dié van Samsung en Apple nie.

(Neem kennis dat Google onlangs sy vennootskap met Huawei beëindig het weens nuwe regulasies. Dit beteken die P30 Pro sal in alle waarskynlikheid nie die jongste weergawe van Android ontvang sodra dit teen Oktober uitgereik word nie.)

Party mense is gek oor die EMUI-sagteware, terwyl dit ander teen die mure kan uitdryf. Ek neig meer na die laasgenoemde kategorie, maar dis waarskynlik omdat ek net nie gewoond is daaraan nie.

Die P30 Pro se Kirin 980-skyfie is ook nie heeltemal so kragtig soos die skyfies in die Galaxy S10 of selfs die iPhone XS nie. Min gebruikers sal egter die verskil agterkom, tensy jy beplan om heeldag en aldag gevorderde videospeletjies op die foon te speel.

Huawei het ook nie teruggehou met die batterykrag nie. Die P30 Pro se kragtige 4200 mAh-battery het etlike dae gehou, hoewel ek nie die foon heeldag en aldag gebruik het nie.

Ek was wel beïndruk dat dit ná byna vier dae steeds nagenoeg 30% batterykrag oorgehad het. Die foon herlaai ook tot 70% in minder as 30 minute, ’n groot bonus as jy die dag haastig is en eers jou foon moet laai.

Daar is wel een aspek wat erg pla, en dit is die foon se swak klank. Dit klink onaanvaarbaar blikkerig vir só ’n duur toestel. Daar is boonop geen gewone opening vir oorfone nie. Huawei sluit darem ’n paar oorfone in die boks in wat met die foon se enigste USB-C-poort werk.

Moet ek dit aanskaf?

Om op te som: die nuwe P30 Pro se kamera is revolusionêr op die gebied van slimfoontegnologie en waarskynlik die deurslaggewende faktor sou jy dit oorweeg om dié betreklik duur toestel aan te skaf.

Dit neem uitstekende foto’s, dag of nag, wat verder verbeter word danksy gevorderde sagteware.

As jy dus op soek is na ’n uitstekende kamera wat toevallig ook kan bel, SMS en Netflix, is die P30 Pro ideaal vir jou. Hou maar net dop wat die impak van Google se verbod op die gebruik van Android in die toekoms kan inhou.

Die foon kos net minder as R19 000 en is ook op kontrak by al die diensverskaffers beskikbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.