
Die nuwe Huawei P40 Lite.Foto: Huawei
Huawei se jongste slimfoon sonder enige van Google se dienste sal eersdaags in Suid-Afrika beskikbaar wees, het die maatskappy bevestig.
Die P40 Lite, die kleinboet van sy spoggerige vlagskipfoon die P40 Pro, verskyn op 18 Mei teen ’n voorgestelde prys van R6 499.
Dis byna R10 000 goedkoper as die P40 met 8 gigagrepe geheue en 128 gigagrepe stoorplek wat teen R15 260 verkoop gaan word.
Die duurste foon in die P40-reeks, die P40 Pro+, kos ’n minimum van R26 719.
Die P40 Lite is wel die eerste foon in dié reeks wat in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees. Daar is nog geen datum waarop die P40, P40 Pro en P40 Pro+ plaaslik beskikbaar gaan wees nie.
Goedkoper, maar steeds flink
Hoewel die P40 Lite heelwat goedkoper is as die ander fone in die reeks, spog dit steeds met merkwaardige funksies.
Dit beskik byvoorbeeld oor ’n vierledige kamerastelsel met ’n hooflens van 48 MP.
Dit is ook toegerus met Huawei se Kirin 810-skyfie, wat wel ’n trappie laer is as die Kirin 990 van die P40 en P40 Pro.
Die P40 Lite ding regstreeks mee met Samsung se A-reeks van bekostigbare slimfone, veral die Galaxy A51 wat vroeër vanjaar uitgereik is en bykans presies dieselfde kos.
Die A50, wat verlede jaar uitgereik is, was een van die topverkopers oor die wêreld heen en het 1,8% van alle slimfoonverkope verteenwoordig.
Net die iPhone 11 en iPhone XR het beter verkoop.
Afgesien van ’n goeie kamera en puik verwerker, beskik die P40 Lite ook oor ’n ruim battery van 4 200 mAh.
Die iPhone SE, wat ook later vandeesmaand verskyn en minstens R9 999 kos, se battery is maar 1 821 mAh.
Ook geen Google-dienste
Weens die Amerikaanse verbod word die P40 Lite ook sonder enige van Google se dienste en apps uitgereik.
Dit gebruik wel die Android-bedryfstelsel sowel as die jongste weergawe van Huawei se eie bedryfstelsel wat bo-op die onderliggende Android gebruik word.
Huawei het as teenvoeter tot die verbod sy eie app-winkel ontwikkel waar al die gewildste apps soos Showmax, Takealot en Netwerk24 reeds beskikbaar is.
Trouens, almal wat ’n P40 Lite aanskaf ontvang drie maande gratis op Showmax sowel as ’n geskenkbewys van R200 om by Woolworths te bestee.
Lees hier vir meer besonderhede oor watter apps en dienste op Huawei se nuwe fone beskikbaar sal wees.
Die P40 Lite sal ook die eerste slimfoon in Suid-Afrika wees met Huawei se MeeTime. MeeTime is Huawei se antwoord op Apple se FaceTime en laat gratis video- en stemoproepe toe tussen gebruikers van Huawei-fone.
Dié diens benodig wel data.
MeeTime sal gaandeweg ook op ouer Huawei-toestelle beskikbaar word, insluitend die gewilde P30.