Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei se nuwe spogfoon toe duurder as verwag
Die nuwe Huawei P40 is van 1 Junie af in Suid-Afrika beskikbaar.

Huawei se nuwe spogfoon, die P40 Pro, is 10% duurder as aanvanklik verwag.

Huawei het die P40 en P40 Pro Vrydag in Suid-Afrika bekend gestel. Albei toestelle sal van Maandag in selfoonwinkels beskikbaar wees, ook op kontrak.

Die internasionale bekendstelling van die nuwe P40-reeks was reeds aan die einde van Maart.

Toe is die plaaslike prys van die P40 Pro (met 8 gigagrepe geheue en 256 gigagrepe stoorplek) as R19 080 aangegee.

Die P40 (met dieselfde spesifikasies) sou R15 260 kos.

Albei dié toestelle is nou minstens 10% duurder in Suid-Afrika teen R16 999 vir die P40 en R20 999 vir die P40 Pro.

Dié hoër pryse is waarskynlik te wyte aan die wisselkoers van die rand teenoor die dollar. Die rand het heelwat verswak.

Vrydag se plaaslike bekendstelling was ’n aanlyn affêre wat regstreeks op verskeie sosialemediaplatforms uitgesaai is.

“Die P40 en P40 Pro is Huawei se beeld van die toekoms van mobiele tegnologie,” het die maatskappy met Vrydag se bekendstelling gesê.

Hy beskryf die P40-reeks as die “koning van slimfone”.

Die reeks bestaan uit vier toestelle; die P40 Lite, die P40, P40 Pro en P40 Pro+.

Die P40 Lite is vroeër in Mei reeds hier bekend gestel; die P40 Pro+ sal na verwagting eers oor ’n paar maande in Suid-Afrika beskikbaar wees.

LEES OOK: Huawei se nuwe, goedkoop P40 Lite gou in SA

Tipies van nuwe Huawei-toestelle is die P40-reeks toegerus met die beste kamerategnologie en blitsvinnige verwerkers.

Hoewel daar groot lof is vir die apparatuur van die nuwe Huawei-fone, is dit die derde reeks toestelle wat die maatskappy noodgedwonge sonder enige van Google se produkte of dienste moes uitreik.

Gewone selfoongebruikers behoort wel nie veel van ’n verskil te sien nie, aangesien die P40-reeks steeds die Android-bedryfstelsel gebruik en Huawei se app-winkel toegang bied tot bykans al die gewildste apps soos WhatsApp en Facebook.

Dit is net Google se dienste, waaronder Maps, Gmail en YouTube, wat nie op die nuwe Huawei-fone geïnstalleer kan word nie.

Huawei is wel druk besig om sy eie ekosisteem van apps en toestelle – soortgelyk aan wat Google reeds bied – te ontwikkel.

Huawei P40 kan blitsvinnig herlaai word.

MeeTime

Die P40 is wel die eerste vlagskipfoon toegerus met MeeTime, Huawei se nuwe diens vir video- en stemoproepe.

MeeTime werk soortgelyk aan Apple se FaceTime en laat gebruikers toe om mekaar gratis te bel.

Die oproepe benodig wel ’n aktiewe dataverbinding en is tans net op die P40-reeks beskikbaar.

Dit word wel gereken as die beste program vir video-oproepe tans beskikbaar vir slimfone.

“Dit is soveel beter as WhatsApp se video-oproepe,” sê Brendon Peterson, ’n plaaslike tegnologiekenner wat reeds breedvoerig oor die nuwe P40 geskryf het.

“Huawei waarborg oproepe in hoëdefinisie klank en video, ongeag of jou internetverbinding swak is,” sê Peterson aan Netwerk24.

Hy was deel van ’n paneel kundiges wat aan Vrydag se bekendstelling deelgeneem het.

MeeTime gebruik die P40 se ingeboude grafikakaart wat gewoonlik vir speletjies benut word, om die beeld tydens die oproep te verskerp.

Peterson, wat reeds ’n paar weke lank al toegang tot MeeTime het, sê sowel video- as stemoproepe is merkbaar beter as op WhatsApp of ander soortgelyke programme.

Hy gee wel toe dat MeeTime nog aan bitter min gebruikers beskikbaar is.

Huawei beplan om die program ook later op ouer toestelle te installeer, maar vir eers is dit net die P40-reeks beskore.

Meer oor:  Google  |  Huawei  |  Slimfoon  |  Meetime  |  P40  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.