Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei se nuwe vlagskipfoon dalk nooit in SA te kry

Huawei het vandeesweek sy jongste vlagskipfoon bekend gestel, maar dis nog onbekend of dit ooit in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Die splinternuwe Mate 40 is die opvolger op verlede jaar se Mate 30 wat self nooit plaaslik beskikbaar was nie. Die Mate 30 was Huawei se eerste vlagskipfoon wat noodgedwonge sonder enige van Google se apps of dienste uitgereik is.

Dis weens ’n verbod deur die Amerikaanse handelsdepartement wat ondernemings daar verbied om met die Chinese slimfoonvervaardiger sake te doen.

Huawei het drie weergawes van die Mate 40 aangekondig: die Mate 40, die Mate 40 Pro en die Mate 40 Pro+.

Elkeen spog met ’n uitstekende kamerastelsel, is toegerus met 5G-funksionaliteit en maak gebruik van Huawei se kragtige Kirin 9 000-skyfie.

Die algehele ontwerp van die Mate 40 herinner aan verlede jaar se Mate 30, insluitend die sirkelvormige ontwerp van die kamera.

Die Mate 40 Pro+ is massief, nie net in terme van die grootte van sy skerm nie, maar ook die hoeveelheid ingeboude geheue. Die Pro+ spog met ’n reusagtige skerm van 6,76 duim (17,17 cm) en ’n indrukwekkende 12 gigagrepe se ingeboude geheue. Die ingeboude stoorplek is 256 gigagrepe.

Huawei het wel heelwat uitdagings om die hoof te bied.

Afgesien van ’n gebrek aan Google se apps en dienste, word die maatskappy deur ernstige tekorte aan skyfies in die gesig gestaar.

Sy toegang tot Amerikaanse verskaffers van skyfies is ook weens die verbod afgesny.

Hy het in September gesê hy het nog “genoeg” skyfies in voorraad, maar dis alombekend die maatskappy is naarstiglik op soek na nuwe verskaffers.

Die beperkte voorraad skyfies beteken Huawei kan nie soveel slimfone vervaardig soos wat dit noodwendig sou wou nie.

Dis waarskynlik deels waarom die maatskappy nog nie aangedui het of die nuwe Mate 40 enigsins na Suid-Afrika kom nie.

Huawei se toestelle is ontsettend gewild in China, waar Google se apps in ieder geval reeds jare lank verbied word.

Huawei se nuwe Mate 40 slimfoon.

Eie soekenjin, ‘docs’ en ‘maps’

Geeneen van Huawei se slimfone wat in die afgelope sowat 18 maande uitgereik is, beskik oor Google-apps nie.

Hoewel die fone van die Android-bedryfstelsel gebruik maak, is dit nie toegerus met Google se kerndienste bekend as Google Mobile Services (GMS) nie.

GMS word benodig om apps soos YouTube, Google Maps en Gmail te bedryf.

As teenvoeter het Huawei sy eie kerndiens, Huawei Mobile Services (HMS), ontwikkel.

Daarmee saam het ’n eie ekosisteem van apps gevolg soortgelyk aan dié wat Google reeds jare lank bied.

Die Mate 40 is Huawei se eerste slimfoon wat toegerus is met Petal Search, sy antwoord tot Google se gewilde soekenjin.

Met Petal Search kan gebruikers selfs foto’s van voorwerpe soos mense, diere en geboue neem. Die soekenjin se ingeboude kunsmatige intelligensie sal die foto kan verwerk, herken en dan inligting oor die voorwerp uitspoeg.

’n Gebruiker kan onder meer ook ’n foto van ’n gereg neem waarna die soekenjin die resep sal voorsien, sê Huawei.

Die funksionaliteit het wel nie gewerk toe Netwerk24 dit probeer toets het nie.

Daar is ook nou ’n eie weergawe van Google Maps vir Huawei-fone. Petal Maps “haal die kommer uit reis”, sê die maatskappy.

Dit werk soos Google Maps en gee reisigers toegang tot regstreekse bywerkings van verkeerstoestande. Daar is ook nou ’n weergawe van Google Docs vir Huawei-fone.

Met Huawei Docs kan jy dokumente skep (soos in Word), voorleggings voorberei (soos in PowerPoint) en boekhouding doen (soos in Excel).

Dit sluit ook ’n program in wat PDF-dokumente kan lees.

Gebruikers meld ook met dieselfde aanmeldbesonderhede aan op al die apps, wat beteken inligting kan naatloos tussen toestelle beweeg, sê die maatskappy.

Huawei Docs en Petal Maps was teen Vrydag nog nie in Huawei se app-winkel op ouer Huawei-toestelle beskikbaar nie.

Petal Search is wel reeds beskikbaar.

Al Huawei se nuwe slimfone is toegerus met 5G-funksionaliteit. Foto: Getty Images

Huawei maak steeds goed geld

’n Dag nadat Huawei die nuwe Mate 40 bekend gestel het, het hy ook ’n oorsig van sy bedrywighede in die derde kwartaal tot einde September gegee.

Ondanks die koronaviruspandemie en ’n moontlike tekort aan skyfies, het sy inkomste darem verbeter, hoewel nie baie nie.

Sy inkomste is 3,7% hoër op ’n kwartaalgrondslag. In die tydperk tussen Januarie en September vanjaar is Huawei se inkomste 9,7% hoër as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Huawei is nie genoteer nie, so hy maak nie spesifieke syfers rakende sy inkomste of verkope van spesifieke produkte bekend nie.

Die verbod op die aanskaf van Amerikaanse skyfies geld eers van middel September af, so die ware impak daarvan word nog nie in sy jongste syfer weerspieël nie.

Ontleders vrees Huawei gaan vroeg aanstaande jaar nie meer skyfies in voorraad hê nie. Dit beteken die toekoms van sy afdeling vir slimfone is in die gedrang.

Huawei se afdeling vir netwerktoerusting gaan ook deur ’n uitdagende tyd. Swede het pas die jongste land geword wat die gebruik van Huawei se 5G-netwerktoerusting verbied.

Verskeie ander lande, insluitend Brittanje en Australië, het reeds dieselfde gedoen. Dit is hoofsaaklik weens vrese dat Huawei sensitiewe inligting wat oor die netwerke versprei namens die Chinese regering kan onderskep. Huawei het al telkens ontken hy spioeneer namens die Chinese regering op ander lande se burgers. 

Mo Jia, ’n navorser by Canalys wat slimfoonverkope monitor, reken die Mate 40 gaan soos soetkoek verkoop, maar hoofsaaklik omdat Huawei die grootste deel van sy voorraad in China self gaan smous.

Omdat sy voorraad skyfies beperk is, kan Huawei net ’n beperkte aantal Mate 40-toestelle vervaardig.

Die kans is dus goed dat die foon, nes die Mate 30, nooit in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees nie.

Huawei in Suid-Afrika het nog geen aanduiding gegee oor plaaslike beskikbaarheid nie en net gesê ’n aankondiging daaroor volg later.

Die prys van die Mate 40 wissel van €899 (sowat R17 300 teen die huidige wisselkoers) vir die standaardweergawe tot €1 399 (sowat R27 000) vir die Pro+.

Meer oor:  Google  |  Huawei  |  Slimfone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.