Huawei se nuwe vlagskipfoon, die Huawei Mate 40 Pro, land in April in Suid-Afrika nadat dit reeds in November onthul is.

Die Huawei Mate 40 Pro kom in April na Suid-Afrika. Foto: GSMarena.com
“Die Huawei Mate 40 Pro sal in April in alle bedryfskanale beskikbaar wees,” het Akhram Mohamed, Huawei se tegnologiehoof, Donderdag op ’n virtuele voorlegging, Huawei Better Together 2021, gesê.
Anders as die vorige generasie Mate 30 Pro word die Mate 40 Pro aangedryf deur Android met Huawei Mobile Services in plaas van Google Mobile Services, wat beteken dat apps van Huawei AppGallery bekom kan word in plaas van die Google Play Store.
Sun Jun, hoofbestuurder van Huawei se verbruikersake in Suid-Afrika, sê Huawei vaar uitstekend in die land: “Van ons begin tot nou in Suid-Afrika is niks minder nie as fenomenaal. Suid-Afrika is een van die belangrikste baanbrekermarkte vir Huawei. Ons is daartoe verbind om steeds ons tegnologie te gebruik om die lewe van alle Suid-Afrikaners te verbeter.”
Huawei HMS-aangedrewe slimfone het ’n kwartaal-tot-kwartaal-toename in verkope van 380% in die derde kwartaal van 2020 behaal, met ’n verdere 120%-toename in die vierde kwartaal.
“Ons markaandeel vir slimfone tel steeds onder die top-twee in Suid-Afrika.”
Sun het bygevoeg dat Huawei kort ná die bekendstelling van die MateBook-reeks van skootrekenaars die topverkoper in talle lande geword het.