Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei se probleme raak ook SA

Daar blyk geen einde te wees aan Huawei se ellende nie. Dié Chinese telekommunikasiereus het bloedneus in Amerika gekry nadat die owerhede strafregtelike klagte teen die maatskappy ingedien het.

Vodafone het ook besluit om vir eers die gebruik van Huawei se toerusting in die uitbreiding van sy 5G-netwerk te staak, wat Vodacom ook raak. 

Huawei ontken (opnuut) dat hy die wet oortree het, berig die BBC.

Regslui beweer die maatskappy het bankbedrog gepleeg deur Amerikaanse sanksies teen Iran te omseil deur met plaaslike banke te konkel.

Huawei word ook daarvan beskuldig dat hy bedryfsgeheime by Amerikaanse vennootmaatskappye soos T-Mobile US gesteel het.

’n Werknemer van Huawei het na bewering in ’n stadium voor 2014 ’n laboratorium van T-Mobile besoek en ’n robotprotipe genaamd “Tappy” in sy rekenaarsak uitgesmokkel.

Die maatskappy is reeds in 2017 in ’n siviele saak daaraan skuldig bevind dat hy aanspreeklik is vir die diefstal van T-Mobile se robottegnologie.

In ’n verklaring ontken Huawei dat hy enige oortredings begaan het en sê hy is “teleurgesteld” in die strafregtelike klagtes teen hom.

Die maatskappy ontken ook dat Meng Wanzhou, finansiële hoof, enigiets verkeerd gedoen het. Sy is reeds sedert Desember in aanhouding weens die beweerde oortreding van sanksies teen Iran.

Daar blyk geen einde te wees aan Huawei se ellende nie. Foto: Getty Images

Huawei en Suid-Afrikaanse diensverskaffers

Intussen word die strop al nouer om Huawei se nek gedraai nadat Vodafone besluit het om nie meer die maatskappy se tegnologie in die uitbreiding van sy 5G-netwerke te gebruik nie.

“Ons het besluit om nie meer Huawei-toerusting in ons netwerk te gebruik terwyl ons verskeie agentskappe en regerings raadpleeg nie,” het Nick Read, uitvoerende hoof van Vodafone, aan verslaggewers gesê.

Volgens Read word daar in verskeie kringe “gegis” oor Huawei se beweerde spioenasie namens die Chinese regering, iets wat die maatskappy herhaaldelik ontken.

Pres. Donald Trump het volgens berigte in The New York Times begin om druk te plaas op Amerikaanse bondgenote in Europa en elders om ’n verbod te plaas op die installering en gebruik van enige Huawei-toerusting.

Vodafone het blykbaar hieraan gehoor gegee.

Dié Britse telekommunikasiemaatskappy besit ’n meerderheidsbelang in Vodacom, Suid-Afrika se grootste diensverskaffer.

Vodacom wou nie pertinent uitwei oor hoe die besluit van sy meerderheidsaandeelhouer sake plaaslik gaan beïnvloed nie, maar bevestig dat die gebruik van Huawei-toerusting vir eers op ys geplaas word tot ’n “besluit gegrond op feite” geneem word.

Dit raak nie die gebruik van Huawei se slimfone in Suid-Afrika nie, net die gebruik van Huawei se toerusting in die uitbreiding van 5G-netwerke hier. 

In 'n verklaring beskryf MTN Huawei as 'n getroue vennoot vir baie jare en sê hy "monitor die situasie" rakende die beriggewing oor die Chinese maatskappy. "Ons sal aanhou om in die beste belange van al ons rolspelers regoor al ons markte op te tree."

Op sy beurt het Huawei aan MyBroadband gesê hy begryp die kommer van diensverskaffers en regerings, maar is dit eens dat sy toerusting die hoogste standaarde handhaaf wat veiligheid betref.

“Selfs voor Amerika sy siening (oor hoe veilig ons toerusting is) gegee het, was ons reeds in gesprek met ons kliënte om die versekering te gee dat Huawei alle verwante wette en regulasies nakom in die lande waar ons sake doen.”

Volgens die maatskappy het hy reeds 30 kommersiële kontrakte onderteken vir die uitbreiding van 5G-netwerke wêreldwyd.

“ ’n Groot hoeveelheid diensverskaffers het aangedui hulle soek Huawei-toerusting. Ons is die markleier wat betref die beste toerusting vir ’n vinnige en kostedoeltreffende uitbreiding na ’n 5G-netwerk.

“En ons sal vir die afsienbare toekoms die leier bly.”

Meer oor:  Huawei  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Verkope  |  Tegnologiemaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.