Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei se voufoon is hier en bitter duur

Staan opsy, Samsung, dis tyd vir Huawei om sý voubare slimfoon aan die wêreld te wys.

Maar belangstellendes sal vir eers China toe moet vlieg as hulle een van dié byderwetse toestelle wil aanskou of aanskaf.

Huawei, ’n Chinese maatskappy, het vandeesweek begin om voorafbestellings van sy Mate X te aanvaar, maar net in China.

Waar Samsung se Galaxy Fold soos ’n boek toevou, vou die Mate X na buite.

LEES OOK: Dit maak Huawei-voufoon anders as Samsung s'n

Oopgevou, is die Mate X se skerm diagonaal langer as 20 cm; toegevou, bestaan dit uit twee afsonderlike skerms van 16,7 cm en 16,2 cm elk.

Die Mate X sou aanvanklik al in Junie of Julie bekend gestel word, maar twee uitsonderlike faktore het dit vertraag.

Eerstens, het Amerika se pres. Donald Trump sanksies teen Huawei ingestel wat die verskaffing van toerusting, onderdele of programmatuur aan die maatskappy deur enige Amerikaanse firma verbied.

Onsekerheid heers steeds oor die langtermyn-effek wat dié verbod op Huawei se bedrywighede gaan hê.

Die Mate X vou na buite, anders as Samsung se Galaxy Fold wat na binne vou soos ’n boek.

Tweedens, het Huawei ook gesien hoe ’n oorhaastige Samsung sy vingers verbrand met sy voubare slimfoon wat die een terugslag ná die ander gehad het.

Samsung wou graag sy peperduur voufoon in April bekendstel, maar moes dit noodgedwonge uitstel tot vandeesmaand nadat verskeie toestelle in die hande van joernaliste gebreek het.

In ’n onderhoud met Netwerk24 destyds het Akhram Mohamed, tegnologiehoof van Huawei in Suid-Afrika, gesê Samsung se probleme “gee voubare tegnologie ’n slegte naam”.

Hy het aangedui dat Huawei daarom besluit het om sy voubare foon vir eers terug te hou ten einde doodseker te maak sy produk is reg.

Tot dusver is geen ernstige foute met die Mate X bespeur nie, maar joernaliste is ook nog nie juis ’n kans gegun om daarmee te werk nie.

Vir nou gaan die Mate X net in China beskikbaar wees terwyl Huawei die moontlikheid ondersoek om dit in ander markte uit te reik.

Die voorlopige prys beloop $2 400, heelwat duurder as die Galaxy Fold (wat $1 980 kos).

Die Suid-Afrikaanse prys is nog nie bekend nie.

LEES OOK: Samsung se 'brose' peperduur voufoon nou in SA

Samsung het twee weke gelede die Fold plaaslik bekend gestel en dit is reeds sedert Vrydag te koop.

Die plaaslike prys beloop ’n koel R44 000, wat die Fold amptelik die duurste kommersieel beskikbare foon nóg maak.

Die Mate X sal die Fold waarskynlik onttroon sodra dit hier beskikbaar is.

Intussen het Huawei ook aangekondig dat hy ten spyte van die handelsverbod steeds meer as 200 miljoen slimfone vanjaar van die hand gesit het.

Die tegnologievervaardiger het dié mylpaal 64 dae vroeër bereik as ’n jaar gelede.

Dit bly ’n ope vraag of Huawei hierdie momentum sal kan behou gegewe die feit dat geen van sy nuwe slimfone met enige van Google se apps verskeep mag word nie weens die Amerikaanse verbod.

Meer oor:  Huawei  |  Slimfoon  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.