Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei skitter steeds, regulasies ten spyt

Te midde van toenemende druk van Amerikaanse reguleerders het Huawei steeds daarin geslaag om sy inkomste in die eerste kwartaal met 39% op te stoot.

Dié Chinese tegnologievervaardiger van slimfone en ander telekommunikasietoerusting het Maandag sy jongste kwartaalsyfers uitgereik.

Daarvolgens het Huawei in die afgelope drie maande tot einde Maart bykans $27 miljard verdien.

Sy winsmarge beloop 8%, ’n “klein verbetering” op die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die maatskappy het wel nie gesê wat sy wins vir die kwartaal was nie.

Huawei gaan toenemend gebuk onder streng regulasies in lande soos Amerika, Australië en Nieu-Seeland waar owerhede bekommerd is dat die maatskappy sy tegnologie gebruik om namens die Chinese regering op burgers te spioeneer.

Amerika het reeds ’n versoek aan sy bondgenote gerig om die installering van Huawei-tegnologie in die uitbreiding van 5G-netwerke te verbied.

Huawei is die wêreld se grootste verskaffer van telekommunikasietoerusting. Foto: Reuters

Suid-Afrika het egter geen sulke planne nie en Huawei het reeds ooreenkomste met plaaslike diensverskaffers aangegaan om die tegnologie van volgende-generasie-selfoonnetwerke te verskaf.

MTN en Vodacom het reeds veldtoetse gehad vir 5G-tegnologie, in sommige gevalle met Huawei-toerusting.

Die Chinese tegnologievervaardiger het reeds keer op keer ontken dat hy namens sy regering op ander lande se burgers spioeneer, maar die halsstarrige gerugte duur voort.

Huawei het teen einde Maart reeds 40 kommersiële kontrakte met diensverskaffers oor die wêreld heen aangegaan om 5G-tegnologie te verskaf.

Die maatskappy het reeds meer as 70 000 5G-torings verskeep. Dié syfer sal na verwagting meer as 100 000 teen einde Mei beloop.

Terselfdertyd het Huawei meer as 59 miljoen slimfone in die eerste drie maande van vanjaar verskeep.

Dit is byna 20 miljoen meer as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Een van die maatskappy se jongste middelklasfone, die Honor 10 Lite, sal egter in verskeie lande nie werk nie, juis weens regulatoriese redes.

Huawei se jongste vlagskipfoon, die P30 Pro, verkoop reeds soos soetkoek en is tans ’n topverkoper wêreldwyd.

Meer oor:  Huawei  |  Slimfoon  |  Tegnologie  |  Spioenasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.