Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei-werker in Pole vas oor spioenasie

Pole het Vrydag ’n Chinese werknemer van Huawei en ’n Poolse burger wat by kubersake betrokke is, in hegtenis geneem oor bewerings van spioenasie, berig Poolse media.

Intelligensiedienste in verskeie Westerse lande is uiters bekommerd dat Huawei se toerusting gebruik kan word om op die lande waar dit gebruik word, te spioeneer. Foto: Getty Images

Die Poolse openbare TV-kanaal TVP sê die intelligensiediens het die kantore van Huawei, asook dié van die telekommunikasiemaatskappy Orange Polska, waar die Poolse burger gewerk het, deursoek.

China se ministerie van buitelandse sake sê hy is “baie bekommerd” oor die berigte en het die Poolse regering gevra om die saak regverdig te hanteer.

Huawei sê hy is bewus van die situasie en ondersoek dit.

“Huawei voldoen aan alle toepaslike wette en regulasies in die lande waar hy sake doen, en ons vereis dat elke werknemer moet voldoen aan die wette en regulasies in die lande waar hulle werk,” sê die maatskappy.

Intelligensiedienste in verskeie Westerse lande is uiters bekommerd dat Huawei se toerusting gebruik kan word om op die lande waar dit gebruik word, te spioeneer.

Amerikaanse intelligensiedienste wys daarop dat die Chinese regering absolute mag in dié land het en spioenasietoerusting in toestelle kan plaas. Dit kan veral Westerse staatsinstansies blootstel.

Maar tot dusver is daar nog geen onomstootlike bewyse bekend gemaak om die bewerings te ondersteun nie.

Meng Wanzhou, ’n topamptenaar van Huawei, is in Desember op versoek van Amerika in Kanada in hegtenis geneem as deel van ’n ondersoek na beweerde oortredings van Amerikaanse handelsanksies, wat verdere spanning met China veroorsaak het.

Een van die redes vir die ongemak oor Huawei en ZTE, ’n ander Chinese maatskappy wat kommunikasietoerusting vervaardig, is China se intelligensiewet. Die wet, wat in 2017 goedgekeur is, bepaal dat Chinese organisasies en burgers met dié land se intelligensiedienste moet saamwerk.

Dit lei tot vrese dat die Chinese regering maatskappye soos Huawei kan vra om “agterdeure” in hul toerusting in te sluit wat spioenasie of sabotasie moontlik sal maak.

– Reuters

Meer oor:  Huawei  |  Europese-Unie  |  Slimfone  |  Spioenasie  |  Telekommunikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.