Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Huawei wys sy nuwe P40, maar net aanlyn
Die Huawei P40-reeks is Donderdag bekend gestel.

Huawei het Donderdag sy jongste vlagskipfoon aan die wêreld gewys – maar slegs deur ’n skerm.

Die bekendstelling van sy nuwe P40-reeks het per videokonferensie plaasgevind te midde van die Covid-19-pandemie.

Huawei het ’n spoggerige bekendstelling vir dieselfde dag in Parys, Frankryk, beplan, wat weens die virus afgelas moes word.

Richard Yu, hoof van verbruikersdienste by Huawei, het drie nuwe modelle in die P40-reeks aan joernaliste en aanhangers gewys.

Dit is die P40, P40 Pro en die P40 Pro+.

Al drie die modelle spog met uiters gevorderde kameras en kristalhelder skerms.

Volgens Yu bly Huawei “aan die voorpunt van kamerategnologie op slimfone” en die P40-reeks oortref opnuut alle verwagtinge hiermee.

Die fone gebruik ook gevorderde kunsmatige intelligensie om foto’s nog meer te verbeter, sê Yu.

Hoewel die apparatuur van die nuwe Huawei-fone geloof word, is dit die derde reeks toestelle wat die maatskappy noodgedwonge sonder enige van Google se produkte of dienste moes uitreik.

In stede van Google se Play-winkel bevat die P40-reeks Huawei se eie AppGallery, sowel as Huawei Mobile Services.

LEES OOK: Dié apps werk, en dié werk nie, op nuwe Huawei-fone

Die P40-reeks bied uiters gevorderde kamera-tegnologie.

Die Amerikaanse handelsdepartement het in Mei 2019 ’n verbod geplaas op Amerikaanse maatskappye om met Huawei sake te doen.

Google as Amerikaanse onderneming is gevolglik verbied om sy programmatuur aan Huawei te verkoop.

Die P40 maak wel van die Android-bedryfstelsel gebruik aangesien maatskappye ’n gratis weergawe daarvan kan bekom, al behoort dit ook aan Google.

Nie net die bekendstelling van die P40-reeks moes noodgedwonge virtueel plaasvind nie; Huawei verwag ook nes ander selfoonvervaardigers dat die vraag na nuwe slimfone skerp gaan daal weens die Covid-19-pandemie.

Die skerpste daling in verkope word veral in Europa en Amerika verwag.

Yu is egter optimisties dat die P40-reeks “baie, baie goed sal verkoop”, veral in China, Huawei se grootste mark.

Die verspreiding van die virus is tans “onder beheer in China,” sê Yu.

Die maatskappy is ook weer op dreef met die vervaardiging van nuwe toestelle.

“Die omstandighede is gunstig. Al hoe meer mense keer terug werk toe en na die winkelsentrums,” sê hy.

“Elke regering kan by die Chinese regering leer, so ek hoop die verspreiding van die koronavirus sal baie vinnig onder beheer gebring word.”

Die “gewone” Huawei P40 sal R15 260 kos.

Plaaslike pryse en beskikbaarheid

Dit is nog nie heeltemal duidelik wanneer die nuwe P40-reeks in Suid-Afrika beskikbaar sal wees nie, veral weens die onsekerheid oor Covid-19.

Huawei hoop wel om dit teen vroeg Mei hier te koop aan te bied.

Al die grootste selfoondiensverskaffers hier het ook reeds aangedui hulle gaan die P40-reeks verkoop.

Die pryse is as volg:

  • P40 Pro+ met 8 gigagreep geheue en 512 gigagreep stoorplek kos R26 719.
  • P40 Pro met 8 gigagreep geheue en 256 gigagreep stoorplek kos R19 080.
  • P40 met 8 gigagreep geheue en 128 gigagreep stoorplek kos R15 260.
Meer oor:  Google  |  Huawei  |  Slimfoon  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.