Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Húlle pla jou die meeste met ongewenste oproepe

Verreweg die meeste strooi-oproepe (spam) wat in Suid-Afrika gemaak word, is deur booswigte wat iemand met ’n slap riem probeer vang, het Truecaller in sy jongste verslag oor die onderwerp bevind.

As dit nie iemand is wat ’n slenter aan jou probeer afsmeer nie, is dit waarskynlik ’n versekeraar wat sy dienste aan jou wil bied, of telebemarkers wat met die een of ander produk smous.

Truecaller identifiseer ongevraagde stemoproepe en SMS’e wêreldwyd en het pas sy jongste verslag daaroor uitgereik.

Daarvolgens ontvang Suid-Afrikaners gemiddeld 25 strooi-oproepe per maand.

Suid-Afrika is sesde op die lys van lande waar die meeste sulke oproepe gemaak word. Brasilië is loshand die voorloper; inwoners daar is onderhewig aan byna 46 sulke oproepe per maand.

Die aantal strooi-oproepe wat Suid-Afrikaners probeer ignoreer, neem egter toe op ’n jaargrondslag, het Truecaller bevind.

In sy verslag vir 2018 het Suid-Afrikaners gemiddeld 21 sulke oproepe probeer vermy.

Afgesien van slenteroproepe, versekeraars en telebemarkers, looi diensverskaffers soos Vodacom, MTN en Telkom Suid-Afrikaners ook met ongewenste oproepe.

Banke en ander finansiële instellings is ook ’n groot sondaar wat dit betref.

Truecaller, wat meer as 26 miljard strooi-oproepe tussen 1 Januarie en 30 Oktober vanjaar geïdentifiseer het, lys Suid-Afrika as een van die voorste lande wat betref die aantal slenters wat telefonies aan inwoners afgesmeer probeer word.

Een gewilde slenter is glo mense wat jou bel en voorgee dat hulle van die tegniese afdeling van ’n gerekende onderneming is.

Die skelm probeer jou dan oortuig om jou aanmeldbesonderhede te verskaf kwansuis omdat hulle dringend toegang tot jou rekening moet verkry.

Nóg ’n kopseer in Suid-Afrika is boewe wat werk adverteer, maar om daarvoor aansoek te doen, moet jy “administrasiegeld” betaal.

Die werk bestaan gewoonlik nie en die booswigte is weg met die geld voordat die slagoffer die bedrogspul agterkom.

spam

Volgens Truecaller was daar in die laaste jaar ook ’n skerp toename in die aantal strooi-oproepe van Suid-Afrikaanse versekeraars. Volgens die diens probeer plaaslike versekeraars al hoe meer bykomende produkte en dienste aan hul bestaande kliënte afsmeer.

Enige gebruiker van Truecaller gee die diens toestemming om sy oproepe te monitor.

Dit is hoe die onderneming weet waaroor die meeste strooi-oproepe gaan.

Truecaller sê egter hy sal nooit enige persoonlike inligting van sy gebruikers aan derde partye verkoop nie, want dit is oneties.

Wêreldwyd neem die getal strooi-oproepe steeds toe, het Truecaller bevind.

Die onderneming het tussen Januarie en Oktober vanjaar meer as 26 miljard strooi-oproepe gekeer en 116 miljard oproepe van onbekende nommers geïdentifiseer.

Dit is onderskeidelik 18% en 56% meer as die vorige jaar.

spam

Meer oor:  Spam  |  Oproepe  |  Tegnologie  |  Selfone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.