Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Inligting in Experian-datalek beland aanlyn

’n Diens wat bepaal wie se inligting in datalekkasies uitlek, het van die inligting van die kredietburo Experian, wat in die verkeerde hande beland het, op die internet gevind.

Die Have I been Pwned-diens van die kuberveiligheidskenner Troy Hunt het vroeg Woensdagoggend op Twitter gesê 1,3 miljoen van die 10 miljoene mense wie se persoonlike inligting uitgelek is, is op die internet gevind.

 Twee weke gelede is berig dat Experian 24 miljoen Suid-Afrikaners se persoonlike inligting aan ’n persoon verkoop het wat hom as iemand anders voorgedoen het.

Experian het dit later as bedrog beskryf en gesê die persoon is geïdentifiseer. Die inligting is op sy rekenaar uitgevee.

LEES OOK: Diefstal van 24 m. se data: Experian weet wie skelm is

Die Suid-Afrikaanse Bankrisikosentrum (Sabric) het die nuus daaroor bekend gemaak.

Standard Bank het dieselfde aand ook ’n verklaring uitgereik, waarin hy mense aanraai om liewers hul wagwoorde vir sy aanlyn bankdienste te verander.

LEES OOK: Só is 24 m. se data van banke by Experian gesteel

’n Berig deur iAfrikan, ’n publikasie oor die impak van digitale tegnologie op Afrika, is Woensdagoggend ook deur Have I been Pwned gedeel.

Kuberkrakers sien die inperking as ’n gulde geleentheid om op niksvermoedende gebruikers toe te slaan. Foto: Getty Images

Volgens iAfrikan het Experian in reaksie op vrae ’n verklaring uitgereik waarin gesê is hy glo hy het inligting wat met die voorval verband hou op die internet gevind.

Netwerk24 het vrae aan Experian gestuur om dit te bevestig en die berig sal aangepas word sodra dit ontvang is.

Experian het ook aan iAfrikan gesê ’n saak is verlede week by die polisie teen die persoon aanhangig gemaak.

Hunt het op sy Twitter-rekening ’n skakel gedeel van ’n persoon wat hom vir die diens bedank het.

Charl van der Walt, hoof van navorsing oor kubersekerheid van Orange Cyberdefense, het ’n boodskap van Have i Been Pwned gekry waarin hy daarop gewys is dat hy een van die 1,2 miljoen mense is wie se inligting in die Experian-lekkasie uitgelek is.


“Man, ek is so moeg van hierdie gedurige dataskendings. My PPI (persoonlike private inligting) is dieselfde as toiletpapier werd,” het Van der Walt gesê.

Intussen het Woolworths se finansiëledienstafdeling ook klante oor die dataskending gewaarsku en gesê hy doen saam met sy bankvennoot Absa proaktiewe stappe om verbruikers te beskerm.

Experian is een van die grootste kredietburo’s in Suid-Afrika. Finansiële instellings gebruik inligting van kredietburo’s om kliënte se kredietstatus te ontleed, insluitend hoeveel skuld hulle het en of hulle hul rekeninge getrou betaal, wanneer iemand om kredit aansoek doen.

Wanneer om krediet aansoek gedoen word, gee kliënte toestemming dat hul inligting op ’n veilige wyse deur ’n kredietburo gedeel mag word, volgens Woolworths.

Volgens Woolworths sal misdadigers niksvermoedende verbruikers deur hul e-pos, per telefoon of teksboodskap kontak en hulle voordoen as iemand van ’n geloofwaardige organisasie.

Volgens die groep sal misdadigers dan probeer om die verbruiker te mislei om van sekerheidsinligting te openbaar soos pinkodes, aanlyn wagwoorde, bankkaarte se sekuriteitskodes (CVV) en eenmalige wagwoorde (OTP).

Dié inligting moet nooit met enigiemand gedeel word nie.

Volgens Woolworths kan bedrieërs ook verbruikers “se rasionele denke probeer beïnvloed deur opwinding te skep of voor te gee dat daar ’n dringendheid en nood bestaan”.

Woolworths het in ’n tabel die moontlike bedreigings en hoe mense daarop moet reageer, uiteengesit:

  • Dis ’n een-keer-in-’n-leeftyd-geleentheid: As dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik. Moenie deelneem nie.
  • Dis dringend en dit vereis dat jy vinnig reageer: Stop en dink voordat jy reageer. Kry advies van iemand wat jy vertrou.
  • Iemand wat jou uit die bloute kontak vir geleenthede waarvoor jy nie gevra het nie: Bevraagteken altyd oproepe uit die bloute van onbekende mense.
  • Jy moet sagteware of materiaal aflaai nie: Moet nooit sagteware of materiaal op instruksie aflaai nie.
  • Dit vereis jou elektroniese goedkeuring (aanlyn goedkeuring of ’n eenmalige wagwoord): Moet nooit iets goedkeur indien jy nie besig is om ’n transaksie te doen nie.
  • Dit vereis ’n vooraf betaling of deposito: Moenie enige vooraf betaling of deposito aan ’n vreemdeling verskaf nie.
Meer oor:  Experian  |  Woolworths  |  Kredietburo  |  Tegnologie  |  Kuberaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.