Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Internetkabel tussen SA, Brittanje werk weer
Die gebreekte internetkabel tussen Suid-Afrika en Brittanje is weer in werking. Foto: Unsplash

Die ondersese Wacs-kabel wat Suid-Afrika met Brittanje verbind het Vrydagoggend weer begin werk, ’n dag vroeër as verwag.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsings-en-Opleidingsnetwerk (SANReN) het die nuus vroegoggend op Twitter gedeel.

Die kabel funksioneer egter nog nie 100% nie, waarsku SANReN.

“Die kabel word nog getoets, so kommunikasie kan nog onderbreek word.”

Die Wacs-kabel het verlede Vrydag rondom middernag gebreek kort duskant die kus by Cardiff.

Dit het die vermoë om 14,5 terabisse se data per sekonde tussen die lande te stuur.

Internetverkeer in Suid-Afrika het juis in die laaste week die hoogte ingeskiet tydens die staat van inperking wat almal tuis hou.

LEES OOK: Verkeer op DStv Now neem met 80% toe

Vox Telecom, een van die land se grootste verskaffers van internetdienste, het die afgelope week ’n 50%-styging in internasionale internetverkeer gesien, sê Jacques du Toit, uitvoerende hoof.

Met die Wacs-kabel buite werking, het dit tot bykomende druk op die vyf oorblywende kabels gelei wat Suid-Afrika aan die wêreldwye web verbind.

Boonop het die SAT-3/Wasc-kabel, wat sowat 800 gigabisse data kan vervoer, ook in die laaste week begin lol.

kabel

Die toename in verkeer op die ander kabels kon tot ’n stadige ervaring op sommige webwerwe gelei het, sê Du Toit.

Dit is wel beperk tot webwerwe wat data uit die buiteland na Suid-Afrika moes bring.

Baie internasionale ondernemings onderhou plaaslike datasentrums, wat beteken ’n webblad soos Netflix en Facebook word normaalweg nie deur ’n fout langs ’n internasionale ondersese kabel geraak nie.

Kommunikasiedienste en apps soos Zoom en Skype benodig wel ’n vinnige verbinding na die buiteland, ongeag of jy met jou vriend verder af in die straat gesels, sê Du Toit.

Tydens ’n video-oproep word die video en stem van mekaar geskei. Dié inligting moet al die pad na die diens se datasentrum, hetsy in Europa of die VSA, gestuur word om daar weer aanmekaar gevoeg te word.

Eers dan word dit weer al die pad teruggestuur Suid-Afrika toe na die toestel van die persoon waarmee jy gesels (as die persoon in Suid-Afrika is, natuurlik).

As die ondersese kabels te besig word, lei dit tot ’n afname in spoed en kon sommige gebruikers met die gehalte van video- en stemoproepe sukkel, sê Du Toit.

“Dink aan al die ondersese kabels soos bane op ’n hoofweg. As een of twee bane gesluit is, dan vloei verkeer steeds langs die hoofweg. Maar soos verkeer toeneem, beweeg alles stadiger,” verduidelik Du Toit.

Diensverskaffers soos Vox, Afrihost, Liquid Telecom en ander het reeds aangedui dat hulle die impak van die verlies van een of twee kabels teenwerk deur bykomende verkeer na ander kabels te herlei.

Maar daar is ’n beperkte hoeveelheid kapasiteit op hierdie kabels beskikbaar wat deur verskeie ander diensverskaffers gedeel moet word.

Met die Wacs-kabel weer in werking behoort dit broodnodige verligting aan die druk internasionale internetverkeer na en van Suid-Afrika te bied.

Meer oor:  Vox Telecom  |  Tegnologie  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.