Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
iPhone 11 vs Pro: Watter een moet jy kry?

Daar sit ek toe met dié tameletjie: Dis tyd om my getroue iPhone 8 in te ruil vir ’n nuwe toestel, maar watter een kies ek nou?

Van voor gesien lyk die nuwe iPhone 11 en iPhone 11 Pro en Pro Max basies dieselfde. Foto: Getty Images

Apple het oudergewoonte in September vanjaar meer as een nuwe iPhone uitgereik. En ek was beslis nie al getroue iPhone-gebruiker wat toe moes gaan staan en kopkrap het oor watter van die nuwe modelle die beste is nie.

As geld geen verskil maak nie, sou die besluit seker ’n makliker een gewees het.

Dan kies ek natuurlik die iPhone 11 Pro Max met sy massiewe skerm en ekstra lang batterylewe van minstens twee dae.

Maar helaas is geld ’n oorweging en moes ek my opsies versigtig opweeg.

Hier is vyf redes waarom ek dink die iPhone 11 is tog ’n beter koop as die Pro of Pro Max.

Die iPhone 11 is in September bekend gestel. Daar is drie modelle om van te kies. Foto: Getty Images

1. Dis heelwat goedkoper

Die prys van die iPhone 11 begin by R15 000 vir die goedkoopste weergawe met 64 gigagreep stoorspasie.

Die iPhone 11 Pro se prys is ’n minimum van R7 000 meer terwyl die Max R9 000 duurder is.

As jy dus jou sente omdraai, maar tog graag ’n nuwe iPhone wil besit, is die 11 duidelik die beste opsie.

Veral as jy in ag neem jy kry nie veel meer vir daardie ekstra duisende rande nie.

2. Die toestelle se binnegoed is dieselfde

Sowel die iPhone 11 as die Pro en Pro Max is toegerus met Apple se mees gevorderde skyfie tot dusver: die A13 Bionic.

Om dit in perspektief te plaas:

  • Apple se A11-skyfie, wat in die iPhone X gebruik word, kan 600 miljard berekeninge per sekonde uitvoer;
  • Die A12-skyfie, wat in die iPhone XS en XR gebruik word, kan 5 000 miljard berekeninge per sekonde uitvoer;
  • Die nuwe A13-skyfie kan 8 500 miljard berekeninge per sekonde uitvoer.

Dit beteken die iPhone 11 is net so vinnig soos sy veel duurder sibbes.

3. Batterylewe stel nie teleur

Ek het die kans gehad om ’n iPhone 11 Pro Max te toets voordat ek uiteindelik op die iPhone 11 besluit het.

En ja, die Pro Max se batterylewe is uitsonderlik goed.

Apple belowe dat jy 20 uur lank ononderbroke na video’s kan kyk voordat dit herlaai moet word.

Hoewel ek nie juis die tyd het om 20 uur se video’s aaneen op my selfoon te kyk nie, het ek nietemin die foon soveel moontlik in ’n gegewe dag gebruik om te sien hoe gou die battery pap word. En dit het skaars beweeg.

Teen laatmiddag was daar nog 75% oor; selfs meer as ek nie juis baie foto’s geneem het nie.

Hoewel die Pro Max se batterylewe die beste van enige iPhone is, is die iPhone 11 net ’n kortkop agter.

Dit bied ook krag vir ’n volle dag en hier teen vroegmiddag waar ek sit en skryf terwyl musiek in my ore blêr, is ek steeds op 83%.

Kortom sal die iPhone 11 se batterylewe jou nie teleurstel nie, al is die Pro en Pro Max s’n beter.

Die iPhone 11, wat heelwat goedkoper is as die Pro en Pro Max, is in ses kleure beskikbaar.Foto: Apple
Die duurder iPhone Pro en Pro Max is van meer duursame materiaal gemaak en in vier kleure beskikbaar. Foto: Apple

4. Soveel meer kleure om van te kies

Die duurder nuwe iPhone-modelle is net in vier kleure beskikbaar: grys, silwer, goud en groen.

Hoewel daardie groen absoluut beeldskoon is, kan jy van ses kleure kies as jy die iPhone 11 sou kies: pers, geel, groen (ligter as die Pro se groen), swart, wit en rooi.

Ongelukkig het my diensverskaffer net ’n wit iPhone 11 in voorraad gehad en ek was te haastig om te wag vir ’n groene wat hulle sou kon bestel.

Let wel, die Pro en Pro Max is van meer duursame materiaal gemaak. Die duurder fone se raam is van vlekvrye staal terwyl die iPhone 11 s’n van aluminium gemaak is.

Al drie toestelle het wel dieselfde geharde glas aan sowel die voor- as die agterkant.

Die grootste verskil tussen die iPhone 11 en die Pro en Pro Max is ’n bykomende telefotolens in laasgenoemde modelle. Dié lens help jou om verder te kan zoem, maar dra nie veel meer by nie. Foto: Getty Images

5. Kameras basies dieselfde

Reg, ek verdraai hier bietjie die waarheid, maar die gemiddelde gebruiker van ’n iPhone sal nie werklik die verskil agterkom in ’n foto wat geneem is met die iPhone 11 teenoor die Pro of Pro Max nie.

Die grootste verskil tussen die toestelle is die derde kameralens wat die Pro en die Pro Max het.

Dit word gebruik om beter in te zoem op voorwerpe wat ver is. Dis al.

Die ander twee lense is presies dieselfde op die iPhone 11 en sy duurder sibbes.

Die iPhone 11 neem ook video’s in hoëdefinisie en bied dieselfde ander funksies soos gevorderde portretfoto’s as die Pro en die Pro Max.

Boonop is al drie fone se selfiekameras eenders. So jou selfie op Kampsbaai se strand sal dieselfde lyk ongeag watter nuwe iPhone jy kies.

Watter ander verskille is daar?

Die duurder Pro en Pro Max se skerm is gemaak van gevorderde OLED-tegnologie, wat beteken dit vertoon ontsettend mooi, selfs in direkte sonlig.

Die iPhone 11 se LCD-skerm is egter steeds uitstekend, hoewel dit nie heeltemal dieselfde diepte bied wat die uitbeelding van kleur aanbetref as die Pro en Pro Max nie.

Die Pro Max se skerm is ook groter (16,5 cm) as dié van die iPhone 11 (15,5 cm). Die Pro se skerm is ironies genoeg die kleinste (14,7 cm), hoewel party mense die kleiner een verkies.

En wat is nog dieselfde?

Al drie toestelle is toegerus met:

  • Gevorderde gesigsherkenningstegnologie (en geen vingerafdrukskandeerder);
  • Waterdig tot 2 m diep vir 30 minute (4 m in die geval van die Pro en die Pro Max);
  • Jy kan maar koffie, koeldrank, wyn of enige vloeistof op enige van die toestelle mors, dit sal niks oorkom nie;
  • Dieselfde hoeveelheid stoorplek, naamlik 64 gigagreep. Jy kan ook al drie modelle koop in weergawes met meer stoorplek, tot 512 gigagreep in die geval van die Pro en die Pro Max.
  • Al drie toestelle kwalifiseer vir ’n spesiale afslagprys by die iStore as jy jou ou iPhone inruil.
  • Dit is ook direk op kontrak beskikbaar by Vodacom, MTN en Telkom in die iStore.
Meer oor:  Apple  |  Slimfoon  |  Tegnologie  |  Resensie  |  Iphone 11 Pro  |  Iphone 11 Pro Max  |  Iphone 11
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.