Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
iPhone val uit top-3 met verkope

Apple moes in die drie maande tot einde September die knie teenoor nóg ’n Chinese mededinger buig.

Die Amerikaanse tegnologiereus is nou die wêreld se vierde grootste verkoper van slimfone. Xiaomi het Apple in die derde kwartaal verbygesteek en is nou in die derde posisie wat verkope betref.

Meer as 47 miljoen van Xiaomi se slimfone is in die kwartaal verkoop, wys data van die navorsingsfirma Canalys. Dit is ’n massiewe 45% meer as dieselfde kwartaal verlede jaar.

Daarteenoor het Apple se verkope met 1% tot 43,2 miljoen gedaal.

slimfoon

Dit is toeskryfbaar aan die feit dat hy nie sy jongste vlagskipfoon, die iPhone 12, binne die kwartaal onder oorsig uitgereik het nie. Dié foon is vroeg in Oktober bekend gestel.

Samsung behou sy dominante posisie in die internasionale mark vir selfone.

Die maatskappy het meer as 80 miljoen toestelle in die derde kwartaal van die hand gesit.

Dit is ’n aansienlike verbetering teenoor die vorige kwartaal toe selfoonverkope wêreldwyd met nagenoeg 20% gedaal het weens die koronaviruspandemie.

Daar is tussen Julie en September 348 miljoen selfone wêreldwyd verkoop. In die voorafgaande drie maande was dit 294,7 miljoen.

Vivo, nog ’n Chinese slimfoonvervaardiger, het self ’n stewige toename in verkope in die derde kwartaal gesien. Sy verkope is 6% hoër op jaargrondslag. Vivo is nou die vyfde grootste vervaardiger wat verkope betref.

Die iPhone SE wat vroeër vanjaar bekend gestel is. Foto: Reuters

Die beleërde Huawei se verkope het met ’n aansienlike 23% tot 51,7 miljoen toestelle gedaal, maar hy is steeds in die tweede posisie wat verkope betref.

Die daling kan deels toegeskryf word aan laer produksie (Huawei het ’n tekort aan sekere noodsaaklike onderdele vir sy fone) sowel as ’n verbruikersmark wat nie toestelle wil hê sonder toegang tot Google se dienste nie.

Weens ’n verreikende Amerikaanse verbod mag Huawei tans nie onderdele, insluitende skyfies, vir sy slimfone van maatskappye daar aanskaf nie. Hy mag kragtens die verbod ook nie Google se produkte en dienste op sy toestelle installeer nie.

In China maak die gebrek aan Google nie soveel saak nie (dit word reeds jare lank daar verbied), maar elders in die wêreld is dit ’n sleutelfaktor vir waarom verbruikers nou kies om eerder ’n ander handelsmerk as Huawei aan te skaf.

Met groot dele van die wêreld wat weer in ’n staat van inperking gaan, is die verwagting dat selfoonverkope in die vierde kwartaal verder sal daal.

Meer oor:  Samsung  |  Apple  |  Huawei  |  Vivo  |  Xiaomi  |  Verkope  |  Tegnologie  |  Slimfone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.