Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Is dit neusie verby vir Cell C?

Agtien jaar nadat Cell C op die been gebring is, is dit amptelik nul rand werd. Is die skrif aan die muur vir Suid-Afrika se vierde selfoondiensverskaffer? Liesl Peyper het gaan vasstel.

  

Cell C se kantoor in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Toe Cell C in 2001 die Suid-Afrikaanse selfoonmark betree het, is daar gehoop dat die nuweling die MTN-Vodacom-duopolie sou verbreek. Maar vanuit die staanspoor was Cell C op die agtervoet: Sy tariewe was goedkoop, maar die gebiedsdekking en -netwerk was beroerd.

Sake loop skeef

In 2017 het Blue Label, ’n telekommunikasiemaatskappy met ’n gesonde balansstaat, die meerderheidsbelang in Cell C bekom – ’n transaksie wat hom R5,5 miljard uit die sak gejaag het.

In daardie stadium is Cell C se sakemodel, wat skuld ingesluit het, herstruktureer. Die selfoonmaatskappy het egter nie voorsien dat die skuld wat bekom is so duur sou wees nie.

Philip Short, ’n beleggingsontleder by Old Mutual Investments, het aan Rapport gesê Cell C se skuld het ontsettend duur geword teen ’n rentekoers van so hoog soos 16%. Ongeveer 5% van die skuld is verskansingskoste en in dollar gedenomineer.

’n Tweede bydraende faktor is dat Cell C uiters geringe kontantvloei het om sy selfoontoringnetwerk uit te brei.

“In die land van telekommunikasiemaatskappye het jy geld nodig om torings op te rig en in stand te hou. As jy dit nie doen nie, raak jy agter, en die gehalte van oproepe en datadekking ly daaronder.”

Cell C met sy papierdun marges kan dit eenvoudig nie bekostig om sy pryse verder te verlaag nie.
Philip Short van Old Mutual

Dít het Cell C minder aantreklik gemaak vir voornemende gebruikers.

In die derde plek het die trae ekonomie selfoonverskaffers swaar getref.

Vierdens, sê Short, het Telkom se toetrede tot die selfoonmark met sy lae data- en kostetariewe Cell C ’n gevoelige knou toegedien.

Telkom is in ’n gunstige posisie deurdat sy vastelynbesigheid ’n “kontantkoei” is, sê Short.

“Hoewel die aanvraag na vastelyndienste aan die afneem is, genereer dit steeds kontant vir Telkom, en hy kan sy laekoste-selfoondienste hieruit finansier.”

Vodacom en MTN – gegewe hul omvang – kan Telkom se aggressiewe prysbenadering nog absorbeer omdat die twee maatskappye winsmarges van tussen 35% en 40% het.

“Maar Cell C met sy papierdun marges kan dit eenvoudig nie bekostig om sy pryse verder te verlaag nie. Hy het nie ’n ander onderneming waaruit hy dit kan finansier nie, hy is nie groot genoeg nie en die prysmededinging het hom in ’n netelige posisie geplaas,” sê Short.

Die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s het Cell C in Augustus vanjaar afgegradeer tot wanbetaling-status. Foto: Reuters

Die rimpeleffek

Die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s het Cell C in Augustus vanjaar afgegradeer tot wanbetaling-status omdat hy versuim het om in Julie vanjaar rente van R194 miljoen op sy lenings te betaal. Die bedrag is, luidens sy Desember 2018-syfers, sowat 40% van sy totale skuld.

Cell C se twee groot aandeelhouers – Blue Label en Net1 UEPS – het albei die afgelope week die drawaarde van hul multimiljardrandbeleggings afgeskryf tot nul weens die skuld.

In Mei 2016 het sake veel anders gelyk. Toe Blue Label sy jaarresultate bekend gemaak het, het sy inkomste met 19% geklim tot R26 miljard en het sy wins met 11% toegeneem tot R1,8 miljard.

Hy het boonop met R589 miljoen kontant gespog.

Sy jongste bedryfsyfers is ’n somber toedrag van sake: Wesensverdienste tot einde Mei 2019 sal na verwagting met meer as 20% daal vergeleke met dieselfde tydperk in 2018.

As dit nie vir Cell C was nie, sou Blue Label se wesensverdienste met tussen 24% en 29% gegroei het, het die groep in ’n Sens-aankondiging gesê.

Boonop het aandeelhouerswaarde in die afgelope drie jaar met 85% verminder en die groep se aandeelprys was die afgelope week op ’n rekordlaagtepunt nadat die JSE gedreig het om Blue Label se notering op te skort omdat sy jaarresultate steeds uitstaande is.

Reddingsboei of neusie verby?

Short meen daar is rede om optimisties te wees.

MTN is tans besig om ’n nuwe ooreenkoms met Cell C te sluit, wat beteken dat hy geheel en al van MTN se netwerk gebruik kan maak. Cell C hoef dus nie op te dok vir enige kapitaaluitgawes soos om torings op te rig nie.

Dit kan besparings van R2 miljard per jaar meebring.

Cell C se huidige ooreenkomste om torings van ander verskaffers te huur, sal ook binne die volgende 18 maande verstryk, wat sy balansstaat verder behoort te verstewig.

Uitsluitsel oor die voorgenome ooreenkoms met MTN word volgende maand verwag.

Nog ’n reddingsboei vir Cell C kan kom in die vorm van die Buffet-konsortium onder leiding van die multimiljoenêr Jonathan Beare. Indien die netwerkooreenkoms met MTN slaag, sal die konsortium ’n minderheidsbelang in Cell C bekom en die selfoonmaatskappy se skuld kan herstruktureer word.

As Cell C se rente op skuld verlaag kan word, kan dit sy geldsake ’n verdere hupstoot gee.

  • Bykomende bronne: Moneyweb, Business Maverick, Business Day en Finweek.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.