Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Is dit veilig om ’n gebruikte rekenaar te koop?
’n Gebruikte skootrekenaar kan ’n goeie kopie wees. Foto: Unsplash

’n Skootrekenaar is deesdae vir talle werkendes nie meer ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid.

Talle winkels en webwerwe bied gebruikte skootrekenaars te koop aan teen ’n fraksie van die prys van ’n nuwe een.

Maar is dit ’n goeie idee om ’n gebruikte skootrekenaar aan te skaf?

Volgens Claire Cobbledick, hoof van Gumtree, moet die voornemende koper verstaan wat met “gebruikte” bedoel word.

In Engels word die term “refurbished” dikwels gebruik om na ’n rekenaar (of selfoon) te verwys.

“Soms is hierdie rekenaars nog splinternuut en net deur die oorspronklike koper teruggeneem na die winkel,” sê Cobbledick.

Kragtens die vervaardigers se bepalings en voorwaardes kan ’n winkel nie dié rekenaar weer as nuut verkoop nie.

In ander gevalle is die koper ontevrede met sy rekenaar, of dink hy daar is fout daarmee en neem dit terug na die winkel.

As die vervaardiger dan die toestel herstel, en dikwels ook bywerk met die jongste programmatuur of hardeware, kan hulle dit as ’n opgeknapte (“refurbished”) toestel verkoop.

Daar is dus niks fout met hierdie toestelle nie, en is dit in sommige gevalle waarlik ’n winskoop, sê Cobbledick.

Sy waarsku egter dat die koper hom moet vergewis van die waarborg wat die skootrekenaar vergesel.

As die betrokke toestel herstelwerk nodig gehad het, vind uit wat fout was daarmee, sê sy.

Moet ook nie ’n gebruikte skootrekenaar by enigiemand koop nie; maak seker die verkoper is ’n gerekende verskaffer van hierdie tipe toestelle. Dit sal verseker dat die skootrekenaar onderhewig was aan die nodige kontroleproses, sê Cobbledick.

Trouens, gebruikte skootrekenaars is onderhewig aan strenger kontrolemaatreëls as nuwes.

“Selfs splinternuwe rekenaars kan soms probleme gee wat nie vooraf tydens die kontroleproses opgetel is nie.

“Gebruikte rekenaars word gewoonlik twee keer getoets voordat dit dan weer verkoop word.”

Die verkoper daarvan moet ook seker maak al die persoonlike inligting, dokumente en dies meer van die vorige eienaar is behoorlik van die toestel af verwyder.

Die grootste voordeel van ’n gebruikte skootrekenaar is natuurlik die prys. In sommige gevalle is so ’n rekenaar tot 50% goedkoper as ’n nuwe een.

“Maak net seker jy sal die skootrekenaar kan terugneem en ruil vir ’n ander een, sou daar iets fout wees.”

Maak hiervan seker voordat jy ’n gebruikte rekenaar koop:
  • Vergelyk die prys van die gebruikte artikel met wat dit jou nuut sou kos. As jou besparing minder as 20% is, koop eerder die nuwe een.
  • Weet van wie jy die tweedehandse skootrekenaar aanskaf; koop net by erkende herverkopers van hierdie tipe tegnologie.
  • As die toestel herstelwerk benodig het, vra wat was fout en of dit nou heeltemal in ’n werkende toestand is.
  • Maak seker die toestel is onder waarborg en sou daar iets fout wees, jy dit kan terugneem en jou geld kan terugkry.


Meer oor:  Gumtree  |  Skootrekenaar  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.