Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Is jy klaar met DStv? Hier’s jou opsies

MultiChoice het 7% van sy premium-intekenare verloor in die boekjaar wat in Maart geëindig het.

’n Toneel uit die fliek Dark op Netflix.

Luidens dié maatskappy se jaarverslag het die aantal intekenare in Suid-Afrika met 1,6 miljoen gegroei tot 7,7 miljoen huishoudings, maar dis net vanweë die laekostepakkette.

Meer as 100 000 huishoudings het hul Premium-pakket (R809 per maand) en Compact Plus-pakket (R509 per maand) in die jaar prysgegee. MultiChoice skryf dit toe aan bekostigbaarheid en veranderende gedragspatrone.

Vir huishoudings wat ’n paar rand kan afknyp, is DStv ’n opsie. DStv Premium met 136 kanale kos R809 per maand, met al DStv se topkanaalopsies soos kykNET, M-Net, en die groot trekpleisters van SuperSport 1, 2 en 3, wat eksklusiewe geleenthede van rugby, boks, krieket en sokker uitsaai. As dit vir jou te duur is, is daar ander opsies ook.

  

Gradeer af

  

  • Indien jou gesin nie sportliefhebbers is nie of daarmee kan saamleef om sport elders te gaan kyk, is Compact Plus teen R519 per maand ’n groot besparing met relatiewe klein opofferings. Dié pakket het 118 kanale, insluitend kykNET, maar sonder SuperSport 1 en 2 en M-Net. Die pakket het egter die meeste fliekkanale.
  • Die Compact-pakket gaan teen R399 per maand jou televisierekening byna met die helfte verminder vanaf die Premium-pakket. Intekenare kry 105 kanale, maar die groot verliese vir die meeste kykers is SuperSport 3 en kykNET.
  • Family (R265 vir 78 kanale), Access (R99 vir 59 kanale) en EasyView (R29 vir 32 kanale) is die goedkoper opsies sonder die topkanale.

  

Deel met familie

  

  • ’n Groot wortel vir die Premium-pakket is DStv Now, wat meer as een gebruiker toelaat om via die internet – op jou persoonlike rekenaar, tablet of slimfoon – al die kanale te kyk met een intekening.
  • Vier bykomende gebruikers kan van enige plek deur die internet kyk en hoef nie in dieselfde huis te wees nie.
  • As vyf lede van ’n gesin, of huismaats, bydra tot die Premium-pakket, is dit R162 elk.

  

Gratis TV

  

  • OpenView is ’n gratis satelliettelevisiediens in Suid-Afrika wat jou ’n eenmalige R499 vir die installering daarvan gaan kos. Die diens het 18 kanale en bevat al die SAUK-kanale sowel as al e.tv se kanale.
Wenk

As sportuitsendings jou by DStv hou, is dit ’n opsie om die Premium-pakket uit te neem en net aan te sit vir die maand(e) wat jou gunsteling- sportgebeurtenisse uitgesaai word. Dis moontlik om net vir ’n maand op ’n slag in te teken en dit weer af te sit.

  

Showmax

  

Hoe meer mense toegang kry tot vinnige internet, hoe gewilder raak stromingsdienste.

Showmax is MultiChoice se produk, maar dié groep wil nie sê hoeveel intekenare hulle reeds het nie. MultiChoice spog net dat sy Showmax en DStv Now-dienste tans 1,6 miljoen meer gebruikers in Afrika as die stromingsreus Netflix het.

Showmax kos R99 per maand, en kan tegelykertyd op twee skerms gekyk word. Jy benodig ’n relatief vinnige internetkonneksie en bykomende toerusting as jy dit op jou TV eerder as rekenaar of selfoon wil kyk.

Wenk
Jy kan ook ’n Showmax-subskripsie vir ses maande met eBucks koop. Dit is dikwels afgemerk tot soveel as 40%, afhangende van jou eBucks-lojaliteitsvlak.

’n Voldoende internetkonneksie kos so min as R500, wat die totale koste steeds laer maak as DStv Premium en die internet word uiteraard nie uitsluitlik vir TV gebruik nie.

Byna al die gewilde programme wat op DStv te sien is, is op Showmax, asook ’n paar eksklusiewe TV-reekse vanaf die HBO-stal uit die VSA (HBO vervaardig reekse soos True Detec­tive, Game of Thrones en Chernobyl).

Showmax het meer as 600 TV-reekse en 400 flieks. Hulle het ook onlangs tydens die Wêreldbekerkrieket met sportuitsendings op die diens begin eksperimenteer.

Die verwagting is dat hierdie gebruik kan aanhou, en verder op die proef gestel gaan word tydens die Wêreldbekerrugby later vanjaar.

  

Netflix

   

Netflix, met meer as 2 700 flieks en 1 000 internasionale reekse, se Basic-pakket kos R99 per maand vir een kyker op ’n slag.

’n Veel goedkoper opsie is om die Standard-pakket te kry teen R139 per maand, wat op twee skerms gelyk gekyk kan word. Twee mense wat saampoel, hoef elk net R70 by te dra.

Netflix se Premium-pakket, wat R169 per maand kos, kan deur vier mense wat R43 elk betaal, gekyk word.

Netflix stel ’n minimum internetspoed van 5 MB voor vir die Standard-pakket en 25 MB vir die Premium-pakket as meer as een mens gelyktydig kyk.

’n Onbeperkte internet-bondel (uncapped internet) vir ’n spoed van 2 MB per sekonde sal jou ongeveer R230 per maand kos (die lynhuur of vesel-tarief uitgesluit).

As jy dan hierdie stromingsdiens op jou TV-skerm wil kyk, gaan jy soos met Showmax ’n plan moet maak.

Slim-televisies kan direk aan die internet gekoppel word en Chromecast (R350 eenmalig) laat jou toe om jou selfoon te gebruik wat op die TV-skerm vertoon kan word. Die mees basiese opsie is ’n HDMI-kabel van jou rekenaar na die TV (R55 eenmalig).

  

Amazon Prime

  

Amazon Prime het verlede jaar die Suid-Afrikaanse mark betree teen $2,99 (sowat R44) vir die eerste ses maande en $5,99 (R87) daarna. Prime, wat eksklusiewe reekse soos The Grand Tour van Jeremy Clarkson en die bekroonde Jack Ryan bied, kan op drie skerms gelyk gekyk word.

Daar is meer as 3 800 flieks op Prime, en meer as 800 TV-reekse. Dieselfde ekstra benodigdhede vir stromingsdienste geld.

Wenk
Baie van die stromingsdienste bied kykers ’n maand gratis om dit eers te probeer. Dit sluit in Amazon Prime, Netflix en Showmax.

  

Wat van Hulu, HBO Go en kie?

  

Dié stromingsdienste is nie amptelik in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar deur middel van ’n virtuele private netwerk (VPN) kan jy ook hierdie oorsese dienste in Suid-Afrika gebruik.

’n VPN word hoofsaaklik gebruik om jou identiteit op die internet te beskerm. Deur jou ligging in Suid-Afrika te weerhou sal die oorsese diens jou toelaat om in te teken op die diens.

Om ’n goeie VPN te gebruik, kan jou sowat R260 per maand kos. Hulu self kos $5,99 per maand (sowat R87) en HBO Go kos $15 per maand (sowat R215).

Meer oor:  Netflix  |  Multichoice  |  Showmax  |  Dstv  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Stromingsdienste  |  Betaaltelevisie  |  Dstv Now
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.