Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Is Zoom, House Party veilig om te gebruik?
Zoom is deesdae baie gewild omdat soveel mense van die huis af moet werk. Foto: Getty Images

Zoom en House Party is twee apps wat in die dae van inperking help om kollegas, familie en vriende met mekaar in kontak te hou.

Veral Zoom is ’n gunsteling onder kollegas om virtuele vergaderings te hou. Die app is gratis om te gebruik (afgesien van ’n aktiewe internetverbinding) en tot 100 mense kan gelyktydig aan een oproep deelneem.

House Party is meer gemik op die jongspan sodat vriende per video met mekaar kan klets terwyl hulle in hul huise ingeperk is.

Met die skerp toename in gebruikers het daar egter kommer ontstaan oor die veiligheid van dié apps.

Gerugte oor House Party

Gerugte het oor die afgelope dae op sosiale media begin opduik dat kuberkrakers toegang tot jou persoonlike inligting kan kry deur House Party.

“Luidens die gerugte word House Party deur ’n klomp skelms bedryf en probeer die app aktief elke deel van jou digitale lewe binnedring en jou inligting steel,” het Paul Ducklin, ’n navorser by die sekerheidsfirma Sophos aan die BBC gesê.

House Party word egter as ’n wettige app beskou en is in sowel die Google Play- as die Apple-winkel beskikbaar.

Epic Games, eienaar van House Party, het ’n beloning van $1 miljoen uitgeloof aan enigiemand wat kan bewys die app is aktief besig om sy gebruikers se toestelle te kraak.

Epic Games beskou die gerugte as ’n doelbewuste smeerveldtog deur onbekende persone.

So beteken dit House Party is veilig om te gebruik?

Kortom, ja. Kenners is steeds besig om die app te fynkam, maar kon tot dusver geen bewyse vind dat dit op gebruikers spioeneer nie.

Die app benodig gebruikers se toestemming om sekere funksies, soos die foon se mikrofoon en kamera, te gebruik, maar dis standaardpraktyk, sê Lukas Stefano, ’n kenner van kuberveiligheid.

“Die app laat jou met vriende gesels, so dis logies dat dit toestemming vra om toegang te verkry tot jou lys kontakte, kamera, ligging en dies meer.”

Kenners waarsku wel dat jong kinders hulself moet beveilig deur hul digitale kletskamers as privaat te stel sodat vreemdelinge hulle nie op House Party kan kontak nie.

LEES OOK: Bel só gratis tydens staat van inperking

Wat van Zoom?

Duisende ondernemings, en selfs hooggeplaastes in die Britse regering, maak deesdae staat op Zoom om werk afgehandel te kry.

Letitia James, New York se prokureur-generaal, het onlangs aan Zoom geskryf en gevra die maatskappy moet sy veiligheidsmaatreëls hersien in die lig daarvan dat hy binne etlike dae miljoene gebruikers bygekry het.

Die Zoom-app is deel van Zoom Video Communications, ’n genoteerde maatskappy op die Nasdaq-aandelemark.

In ’n verklaring sê die maatskappy hy neem die prokureur-generaal se versoek ter harte en bevestig hy dat hy “dag en nag” daaraan werk om te verseker hy bly in bedryf terwyl die Covid-19-pandemie voortduur.

Zoom is gratis om te gebruik, maar ondernemings kan ook ’n vaste tarief per maand of selfs per vergadering betaal as hulle meer funksionaliteit wil ontsluit.

Die veiligheid van Zoom is al in die verlede in twyfel getrek en gebruikers was onrustig oor hoe die diens met hul persoonlike inligting omgaan.

Daar was ook al gevalle waar persone onregmatige toegang tot ander se gesprekke kon kry of waar hulle deelnemers aan vergaderings sonder toestemming kon verwyder.

Oproepe op Zoom word ook nie geënkodeer nie. Dit beteken die maatskappy het tegnies toegang tot al die gesprekke wat daarop plaasvind en kan gesprekke afluister, sou hy wou.

Zoom word egter elke dag deur miljoene mense gebruik sonder dat enige persoonlike kommunikasie onderskep word. Vir nou bly dit dus ’n gerieflike en gratis opsie vir mense om in kontak te bly gedurende die voortslepende staat van inperking.

Meer oor:  Zoom  |  Tegnologie  |  Kletsdiens  |  Kletsapps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.