Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Ja, die regering mag nou jou bewegings dophou
Die regering is nou by magte om jou bewegings dop te hou as jy Covid-19 onder lede het.Foto: Unsplash

Ingevolge nuwe regulasies sal die regering alle Suid-Afrikaners wat positief vir Covid-19 toets se persoonlike inligting op ’n nasionale register aanteken.

Die regering is ook by magte om enige siek persoon se bewegings deur middel van sy of haar selfoon na te gaan om te probeer bepaal met wie hulle moontlik in kontak was. Dit is terugwerkend tot minstens 5 Maart.

Al die diensverskaffers het Donderdag aan Netwerk24 bevestig dat hulle tans met die regering in gesprek is oor hoe dié reëling prakties uitvoerbaar is.

Diensverskaffers kan data van selfoontorings gebruik om te bepaal waar enige van sy intekenare was terwyl hulle ’n oproep gemaak of ’n SMS gestuur het. Dit is dus teoreties moontlik om ’n siek persoon se bewegings na te gaan deur na sy selfoonrekords te kyk.

Kragtens die nuwe regulasies hoef hierdie persone nie ingelig te word dat hul bewegings nagespoor word nie.

Volgens Telkom is die naspoor van selfoongebruikers in hierdie tyd “die beste praktyk” en in ooreenstemming met wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aanbeveel.

“Ons is diep bekommerd oor die pandemie en wat dit vir gewone Suid-Afrikaners en die land se gesondheidstelsels beteken,” sê Sipho Maseko, uitvoerende hoof van Telkom.

Telkom gaan die regering bystaan om na te gaan met wie sy intekenare in verbinding was, sou hulle positief toets vir die virus.

“Dit verminder die noodsaaklikheid dat die persoon self moet onthou met wie hy almal in aanraking was.”

Volgens MTN beteken dit wel nie die diensverskaffer is besig om al sy intekenare se bewegings aktief dop te hou nie. Die regulasies geld net vir mense wat positief toets vir Covid-19 en van wie die regering die nodige inligting van MTN verlang, sê ’n woordvoerder.

Diensverskaffers sal byvoorbeeld kan bepaal naby watter selfoontoring die persoon oproepe gemaak het, wat sy ligging op ’n bepaalde tyd sal verklap.

’n Woordvoerder van Vodacom sê die diensverskaffer neem kennis van die nuwe regulasies soos gepubliseer in die Staatskoerant en sal binne wetgewing optree.

Geen persoonlike inligting of inligting wat ’n spesifieke persoon kan identifiseer, word oorhandig nie.

Cell C het eweneens gesê hy is in gesprek met die betrokke staatsdepartemente oor die naspoor van sy intekenare in hierdie tyd.

“Geen persoonlike inligting of inligting wat ’n spesifieke persoon kan identifiseer, word oorhandig nie,” sê Cell C.

MTN het ook begin om die regering by te staan om regstreeks met inwoners van gemeenskappe te kommunikeer wat dalk aan die virus blootgestel is. Dit sluit in die stuur van ’n SMS aan al die inwoners van ’n spesifieke gebied of woonbuurt eerder as landwyd.

MTN sê voorts hy sal enige versoek van die regering om ’n intekenaar se ligging na te gaan ingevolge bestaande wetgewing hanteer.

Samsung het 1 500 selfone geskenk aan persone in provinsies wat die swaarste deur die virus getref word.

Al hierdie selfone word aan die Telkom-netwerk verbind en die ligging van die gebruikers sal aktief nagegaan word.

Die nuwe regulasies beteken nie dat selfoongebruikers se kommunikasie, hetsy stemoproepe of teksboodskappe, nagegaan of onderskep word nie. Net die ligging van die persoon word bepaal en met die regering gedeel indien ’n versoek ontvang word.

Die nasionale register van siek persone sal ook identiteitsnommers en adresse bevat. Al die inligting op die register moet ses weke nadat die ramptoestand opgehef is, verwoes word.

’n Onafhanklike oudregter is aangestel om die proses te monitor en deurlopend aanbevelings te maak om Suid-Afrikaners se reg op privaatheid te verseker.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Staat Van Inperking  |  Diensverskaffers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.