Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Ja, ek belê in kriptogeld, sê Dawie Roodt

Tot Desember verlede jaar het byna elke tweede mens wat jy ontmoet, ’n storie te vertelle gehad oor hul sukses as bitcoin-beleggers. Sedertdien is die geruis ’n bietjie stiller, grootliks omdat bitcoin se prys meer as gehalveer het sedert Desember se hoogtepunte. Petrus Malherbe, Netwerk24 se Tegnuus-verslaggewer, en Elvira Wood, sakeverslaggewer, het met uiteenlopende kundiges gesels oor die potensiaal van kriptogeld en van die tegnologie daaragter, blokketting. Hier is die derde artikel in die reeks.

  

Geld en banke soos wat ons dit ken, gaan waarskynlik in die toekoms verdwyn.

Dis die mening van Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group en ’n vurige ondersteuner van blokkettingtegnologie.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, doen navorsing oor alternatiewe geld.

Hy voorspel hoewel kriptogeld, soos bitcoin, en die onderliggende blokkettingtegnologie, nog ’n nuutjie vir baie mense is, dit die wêreld van geld heeltemal gaan verander.

“Wanneer dit by kriptogeld kom, gaan dit nie noodwendig oor geldeenhede soos bitcoin nie, maar eerder oor die onderliggende tegnologie: blokketting.

“Jy kan enigiets bo-op hierdie tegnologie sit, van kriptogeld of ander inligting, soos wie is die eienaar van ’n aandeel, ’n huis of selfs ’n selfoon.

“Die blokketting is niks anders nie as ’n netwerk van rekenaars wat inligting onder mekaar op ’n veilige manier deel.

“Dit is nou hierdie netwerk wat tradisionele regeringsgeld met wat ons as private geld kan beskryf, begin vervang.”

Nog artikels in die reeks

Artikel 1: Bitcoin is blokketting in sy babaskoene: Entrepreneurs praat oor die potensiaal van die tegnologie.

Artikel 2: Dis ’n goudmyn! Ons gaan kuier by ’n bitcoin-myner in Pretoria.

Roodt verduidelik dat met behulp van die blokketting is dit dus moontlik om geld op ’n goedkoop en betreklik veilige wyse oor grense te skuif.

Dit is juis hierdie vryheid wat gaan maak dat mense al meer private geldeenhede gaan skep wat met regeringsgeld gaan meeding.

“Mense moet verstaan dat geld wat geskep word en weer verdwyn glad nie nuut is nie.

“Aan die begin het mense skulpies of selfs eierdoppe as geld gebruik. Munte is later eers ontwikkel.

“As ons vandag eerlik is, moet ons erken geld soos rande is ook deesdae hoofsaaklik elektronies,” sê hy.

Hy sê ook dat verskeie Europese geldeenhede ’n paar jaar gelede deur die euro vervang is. Hulle het verdwyn en daar was nie ’n probleem daarmee nie.

“Net soos wat geld soos wat ons dit ken waarskynlik gaan verdwyn, so gaan banke.

Daar is tans nog geen onderliggende waarde aan kriptogeld, selfs bitcoin, nie. Ons weet nie of die hoë pryse waarteen dit verkoop word, ’n borrel is of nie. Net die tyd gaan leer.

“As ek direk geld na jou kan oorplaas sonder dat ek ’n bank nodig het, hoekom gaan ek een gebruik?” vra hy.

Roodt sê hy verwag nie dat alle kriptogeld wat tans bestaan gaan voortbestaan nie.

“Dit gaan tyd neem vir ons om te sien watter het waarde en watter nie.”

Belegging

“Kriptogeld is nie ’n belegging nie,” waarsku Roodt.

Hoewel hy self geesdriftig oor die tegnologie is, waarsku hy mense om dit glad nie as belegging te oorweeg nie.

“Daar is tans nog geen onderliggende waarde aan kriptogeld, selfs bitcoin, nie.

“Ons weet nie of die hoë pryse waarteen dit verkoop word, ’n borrel is of nie. Net die tyd gaan leer.

“Wat ons wel weet is ander geldeenhede soos die rand en dollar, byvoorbeeld, het ook nie meer noodwendig ’n onderliggende waarde soos goud nie.

“Dit gaan oor die vertroue wat daar in die geldeenheid is of nie.

“Ons het egter nog nie hierdie maatstaf vir kriptogeld nie.”

Koop of nie

Hy mag dit dalk nog nie as belegging sien nie, maar Roodt beveel aan mense moet kriptogeld aanskaf.

“Koop dit, maar wees versigtig. Dink mooi oor watter inligting jy van jouself verskaf en pas jou wagwoorde baie mooi op.

“En net soos met enigiets anders wat geld betref, praat met mense wat jy kan vertrou en wat die nodige kennis het om jou te help,” is sy raad.

“So koop R100 se kriptogeld en gebruik dit om soveel moontlik van die tegnologie te leer.”

Het hy self kriptogeld?

“Ek het inderdaad ’n klompie kriptogeld. Ek skep ook self van hierdie geldeenhede.

“Ek gaan in die toekoms baie meer daarvan hê en ek gaan dit sommer self maak,” voorspel hy.

Regulering

Roodt sê hy dink nie regerings gaan dit ooit regkry om kriptogeld óf heeltemal te verban óf te reguleer nie.

“Daar is baie lande wat reeds probeer om dit te reguleer, maar daar is baie sentrale banke wat dit glad nie verstaan nie.

“Ek dink nie hulle besef die geweldige mag van hierdie tegnologie nie.

“Om kriptogeld te probeer verban óf te reguleer is soos om ’n wet teen die vloei van inligting te skep. Dit gaan nie werk nie.

“Hulle gaan probeer, maar dit gaan onmoontlik wees om dit reg te kry.”

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Kriptogeld  |  Blokketting  |  Tegnologie  |  Geld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.