Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Ja’ vir ontbinding van Welkom Yizani

Die einde van Media24 se bemagtingsaandeleskema, Welkom Yizani, is Vrydag op ’n spesiale vergadering goedgekeur.

Media24 se hoofkantoor in Kaapstad. Foto: Getty Images

’n Oorweldigende meerderheid, meer as 99%, van Media24 se aandeelhouers en ook byna 88% van die Welkom Yizani-aandeelhouers het ten gunste van die besluit gestem om Welkom Yizani te ontbind. Welkom Yizani-aandeelhouers sal nou teen 1 Maart die R15,70 kontant per aandeel ontvang ingevolge die voorstel wat Media24 op 27 November verlede jaar aangekondig het.

Welkom Yizani is in 2006 op die been gebring. Die aandele is oor die toonbank verhandel, maar die aandeel het nie veel gegroei nie, hoofsaaklik in die lig van die druk op mediafirmas se wins.

Aandeelhouers het oor die 14 jaar altesame dividende van R19,78 ontvang, insluitend ’n spesiale dividend van R14,79 toe die drukkery Novus (voorheen Paarl Media) van Media24 ontknoop is.

Die waarde van die aandeel self het tussen R10 en R15 gewissel. Welkom Yizani se direksie reken die aanbod is heelwat hoër as wat individuele aandeelhouers sou behaal indien hulle hul aandele stuksgewys op die ope mark sou moes verhandel.

Hoewel byna 88% van Welkom Yizani-aandeelhouers op die vergadering vir die plan gestem het en met meer as 12% daarteen, is die aanlyn vergadering nie goed bygewoon nie. Aandeelhouers wat net sowat 25,5% van die 14,6 miljoen stemgeregtigde aandele besit, het gestem.

Omdat die teenstem op die vergadering egter minder was as 15% is dit ingevolge die Maatskappywet nie moontlik om die besluit in die hof te betwis nie.

Hulp vir aandeelhouers

Aandeelhouers met navrae kan 0860 12 12 24 Maandae tot Vrydae van 07:00 tot 18:00 skakel of ’n e-pos na WelkomYizani@singularservices.co.za stuur.

Prof. Rachel Jafta, voorsitter van Media24 se direksie, het in ’n verklaring gesê hulle waardeer aandeelhouers se steun en verwelkom die uitslag van die stemmery.

Welkom Yizani sal teen 26 Februarie gedenoteer word van die Equity Express-aandeleplatform.

Ishmet Davidson, Media24 se uitvoerende hoof, sê hulle glo sterk die aanbodprys van R15,70 is ’n “billike weerspieëling van die waarde van die aandele”. ’n Onafhanklike waardasie is ook deur Questco gedoen wat dit bevestig het.

“Dis ’n wonderlike geleentheid vir ons lojale Welkom Yizani-aandeelhouers om ’n goeie opbrengs op hul belegging te behaal, veral dié wat sedert die aanvang van die skema aan boord was.”

Davidson het herbevestig dat Media24 tot bemagtiging verbind bly. Die maatskappy het verlede jaar vir die eerste keer ’n bemagtigingsgradering van vlak 3 behaal.

“Ons fokus bly op die transformasie van ons bestuurspanne en om ander inisiatiewe vol te hou wat tot volhoubare transformasie bydra.”

Ashoek Adhikari, onafhanklike direkteur van Welkom Yizani, sê aandeelhouers was jare lank ontevrede met die prestasie van die aandeelprys.

“Ons bedank die direksie van Media24 vir ’n oplossing wat aandeelhouers ’n werklike en onmiddellike voordeel gee.”

Davidson het in November gesê die uitwerking van die Covid-19-pandemie veral op drukmedia gaan nog lank gevoel word.

“Hoewel ons besig is met die oorgang van ons media-onderneming na ’n toenemend digitale landskap, gaan dit tyd neem voordat dit noemenswaardige wins kan oplewer en die inwerkingstelling daarvan is ook nie sonder risiko’s nie.”

Media24 se inkomste het in die ses maande tot einde September, die eerste helfte van sy boekjaar, met 19% tot R1,9 miljard geval. Die groep se bedryfsverlies het met R400 miljoen opgeskiet – van R53 miljoen in 2019 tot R453 miljoen in 2020.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24.
Meer oor:  Media24  |  Aandele  |  Bemagtigingskema  |  Media  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.