Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Jack Ma tree af
Jack Ma, voorsitter van Alibaba. Foto: Daniel J. Groshong, Bloomberg

Jack Ma, stigter van die Chinese e-handelreus Alibaba, het sy aftrede aangekondig.

Ma (54) beplan om sy tyd voortaan aan filantropiese bedrywighede te wy en sy fokus sal op onderwys wees, sê die miljardêr wat eers ’n Engels-onderwyser was.

Hy het Alibaba in 1999 in sy woonstel in Hangzhou begin en die internetmaatskappy toe in ’n multimiljarddollar-onderneming omskep.

In die proses het Ma een van die wêreld se rykste mense geword en hy word in sy tuisland, China, wyd gerespekteer.

Sy eie fortuin het saam met dié van sy maatskappy die hoogte in geskiet en word tans op $420,8 miljard beraam.

Ma het aan die New York Times gesê hy wil Maandag, op sy 54ste verjaardag, aftree en het sy vertrek as “die begin van ’n era eerder as die einde” bestempel.

Die feit dat hy sy aftrede in ’n onderhoud met die New York Times bekend maak, word as ongewoon bestempel. Dié publikasie word in China verbied en daar is Saterdag ook geen amptelike verklaring deur Alibaba uitgereik nie.

In ’n onderhoud met Bloomberg TV Vrydagaand het Ma gesê hy wil graag in die voetstappe van Bill Gates, stigter van Microsoft, volg. Gates is een van die wêreld se vrygewigste filantrope.

“Daar is baie dinge wat ek van Bill Gates kan leer. Ek sal nooit so ryk soos hy wees nie, maar een ding wat ek beter kan doen, is om vroeër af te tree,” het hy gesê.

Sy aftrede sal ’n seldsame stap wees in ’n land waar ryk sakelui hul sakeryke aanhou bestuur tot hulle bejaard is.

Ma is deel van ’n geslag miljardêr-entrepreneurs wat hul fortuin gemaak het toe China die digitale era betree het.

Groot konglomerate soos Alibaba, Tencent, Baidu en JD.com is in China op dieselfde vlak as Facebook en Google in die VSA.

Meer oor:  Alibaba  |  Microsoft  |  Jack Ma  |  Aftrede  |  Internetmaatskappye  |  Ikt  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.