Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Jou WhatsApps kan nou verdwyn
Jy kan nou verstellings binne WhatsApp maak sodat boodskappe ná sewe dae verdwyn.Foto: Getty Images

Die skindertonge kan nou behoorlik los wees op WhatsApp.

Die wêreld se gewildste kletsdiens maak dit nou moontlik vir boodskappe in ’n gesprek om outomaties ná sewe dae te verdwyn.

“Ons doel is om gesprekke op WhatsApp so veel as moontlik te laat voel asof dit in persoon plaasvind,” sê die maatskappy in ’n inskrywing op sy blog.

“Dit beteken boodskappe op WhatsApp hoef nie vir ewig daar te wees nie.”

Die funksionaliteit kan per gesprek aan- of afgeskakel word. In private gesprekke tussen twee mense kan enigeen van die twee dit aanskakel, waarna boodskappe van ouer as sewe dae vir albei sal verdwyn.

In groepsgesprekke kan net die administrateur van die groep die funksionaliteit aanskakel.

Gaan my ou WhatsApps verdwyn?

Bestaande gesprekke op WhatsApp word nie deur die nuwe funksie geraak nie.

Boodskappe gaan net begin verdwyn sewe dae nadat die funksionaliteit die eerste keer aangeskakel is.

Volgens WhatsApp het hy besluit op sewe dae omdat hy reken dit gee gebruikers die gemoedsrus dat gesprekke nie permanent is nie, maar dit is ook prakties lank genoeg tyd sodat jy nie vergeet waaroor jy met iemand gesels het nie.

“Daardie inkopielys of winkel se adres wat jy ’n paar dae gelede ontvang het, sal steeds daar wees wanneer jy dit nodig het, maar verdwyn sodra jy dit nie meer benodig nie.”

Ander praktiese oorwegings rakende die nuwe funksionaliteit, sluit in:

  • Enige persoon in die gesprek kan die funksionaliteit aanskakel, waarna dit vir albei gebruikers sal geld.
  • As ’n gebruiker ’n boodskap ontvang, maar nie WhatsApp binne sewe dae oopmaak nie, gaan daardie boodskap steeds verdwyn. Hy mag dalk nog die boodskap as ’n kennisgewing op sy foon se tuisskerm sien, maar nie binne WhatsApp self nie.
  • As jy op ’n spesifieke boodskap reageer (“quoted reply”), kan die teks van die oorspronklike boodskap waarop jy reageer vir langer as sewe dae sigbaar bly. Met ander woorde boodskappe wat aangehaal word, verdwyn eers saam met die boodskap wat dit aanhaal.
  • As ’n boodskap vanuit ’n gesprek waarin die funksionaliteit aangeskakel is na een waarin dit nié aangeskakel is nie, aangestuur word, sal die boodskap nie in daardie gesprek ná sewe dae verdwyn nie.
  • WhatsApp maak steeds rugsteunkopieë van alle gesprekke, ingesluit boodskappe wat ná sewe dae verdwyn. Sodra ’n gebruiker sy gesprekke uit die wolk laat skrap, sal daardie boodskappe verdwyn.
  • As jou foon outomaties foto’s en video’s uit gesprekke op sy hardeskyf stoor, sal dit ook ná sewe dae uitgevee word.

Die nuwe funksionaliteit het moontlike regsimplikasies. WhatsApp waarsku om dit net te gebruik met persone wat jy kan vertrou.

Gebruikers kan steeds ’n boodskap vanuit ’n gesprek na ’n ander persoon aanstuur. Die inhoud van ’n boodskap kan ook steeds gekopieer word na ’n ander dokument of gesprek. Die ander persoon in die gesprek kan ook ’n skermgreep daarvan maak of ’n foto van dit neem en so ’n rekord hou van wat jy gesê het.

Hoe skakel jy dit aan?

Om die funksionaliteit te aktiveer, gaan na die betrokke gesprek, klik op die kontakpersoon se naam en kies “Disappearing messages”.

Hoewel die funksionaliteit nou reeds beskikbaar is, kan dit ’n tydjie neem vir alle WhatsApp-gebruikers om dit te sien.

Volgens die maatskappy sal dit deur die loop van November aan al sy gebruikers beskikbaar gestel word.

Meer oor:  Whatsapp  |  Facebook  |  Tegnologie  |  Kletsapps  |  Kletsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.