Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Ken jy dié 5 ‘geheime’ funksies van Google Maps?

Google se gewilde Maps-app het al so deel van ons alledaagse lewe geword soos koffie en beskuit.

Google se Maps-app het verskeie funksies waarvan jy nie dalk bewus is nie. Foto: Getty Images

Oor laaste paar jaar het Google egter Maps uitgebrei van ’n gewone app vir kaarte en aanwysings tot ’n volwaardige reisigersgids vir enigiemand wat ’n onbekende stad of dorp besoek.

Hier is vyf ander funksies van Google Maps waarvan jy dalk nog nie weet nie:

  

1. Vind nuwe plekke, restaurante, doendinge

  

Jy ken dalk reeds die roete na jou gunsteling-kafee, maar dink jy nie dis tyd om jou oggendkoffie ’n slag op ’n nuwe plek te gaan geniet nie?

Google Maps het ’n nuttige “near me”-funksie wat presies doen wat die naam aandui: Dit wys spesifieke plekke na aan jou huidige ligging.

Lus vir koffie? Soek “coffee shops near me”. Lus vir roomys? “Ice cream shops near me” sal jou makliker in die versoeking lei. Jy kan ook ’n kaart groter maak om meer besonderhede te sien, of kleiner maak as jy plekke in ’n wyer gebied wil sien.

  

2. Kyk waar hang die ‘cool’ mense uit

   

Voel dit alewig of jou pelle al die lekkerste restaurante en uithangplekke aanbeveel en jy het nog nooit eens daarvan gehoor nie?

Hiermee wil Google Maps ook help. ’n Lekker funksie is om ’n lys van gewilde plekke in jou gebied te sien. Onder die “Explore”-opsie, gaan na “Trending” om te kyk watter plekke in jou gebied is daardie week gewild.

  

3. Kies vooraf waar julle gaan eet

   

Dit is altyd ’n probleem as ’n gesin of groep vriende saam by ’n vreemde plek aankom: Waar gaan ons vanaand eet?

Danksy Google Maps kan julle hierdie huiswerk vooraf doen, opsies onder mekaar deel en tot ’n besluit kom sonder om in Jansenville se stofstrate rond te dwaal op soek na die “beste plek”.

  

’n Nuwe funksie van Google Maps sal jou ook toelaat om liedjies binne die app oor te slaan. Foto: Google
4. Weet hoe lank dit gaan neem, al ken jy die pad

      

Jy hoef waarskynlik nie meer Google Maps se hulp in te roep om by die naaste winkelsentrum, jou kantoor of die dokter se spreekkamer uit te kom nie. Maar die app kan jou steeds bystaan.

Google kom agter as jy elke dag dieselfde roete ry, hetsy in jou motor, per trein of per bus.

Jy kan die “Commute”-opsie gebruik om te kyk hoe lank dié daaglikse rit jou op enige gegewe tydstip gaan neem.

Jy kan ook Google Maps gebruik om ware verkeerstoestande na te gaan wat jou sal help besluit of jy nie dalk tien minute vroeër in die motor moet spring om nie vir daai Kurt Darren-konsert laat te kom nie.

  

5. Deel jou ligging maklik

   

Jy staan dalk en wag vir jou vriend voor die Absa-gebou in die Kaapse middestad, maar weet nie noodwendig dat dit die gebou se naam is nie.

Hoe kan jy vir jou vriend sê om jou dáár te kry?

Maklik. Jy deel jou regstreekse ligging met jou vriend deur Google Maps. Jy kan aandui hoe lank jy jou ligging met die persoon wil deel (’n uur of langer).

Dit beteken jy hoef nie noodwendig self te weet waar jy is om jou ligging met vriende of familie te deel nie.

Familielede kan dit natuurlik ook gebruik om na te gaan of ’n geliefde veilig by hul bestemming aangekom het.

Al hierdie funksies is beskikbaar op sowel Android- as Apple-toestelle met die jongste weergawe van die Google Maps-app.

Meer oor:  Google  |  Google Maps  |  Wenke  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.